Lunch Week 45 / 11

24 11 2011

Couples Theraphy

(Rangskik die terme in pare wat by mekaar pas en gee die gemeenskaplike faktor van die groep).

Who wants to be a millionaire; Noot vir Noot; Fokus; Telefun Quiz; A Word or Two; Martin Baillie; Johan Stemmet; Fiona Coyne; Lynette Francis; Jeremy Mansfield.

Gemeenskaplike faktor?





So ‘n klein atoomontploffing

24 11 2011

Sover dit emosies aangaan het iemand besluit dat liefde die enigste een is waaroor daar bladsye vol geskryf kan word.  Dalk kan daar ‘n paar bladsye aan geluk afgestaan word, veral as iemand as gevolg van liefde vir ewig en vir altyd gelukkig is.  Dalk praat ek deur my nek, baie mense spandeer ure daaraan om almal te vertel hoe ongelukkig en teleurgesteld hulle in die mensdom is.  Ek wil nie vandag daaroor praat nie.  Een van die magtigste emosies is woede.

Kragtig soos dit is, moet dit dikwels weggesteek word as jy weet wat goed is vir jou.  Daar is seker goed waarvoor ‘n mens nie omgee om in die tronk te gaan sit nie.  ‘n Moord in ‘n oomblik van woede op iemand wat dit nog moontlik verdien is nie noodwendig die tronk werd nie.  Boonop weeg party mense se regte aansienlik meer as ander s’n.  Briesend meng nie so lekker met helder denke nie.  Behoede die aarde as die oë blits, die neusvleuels oopgesper is en jy weet presies wat jy doen.  Dodelik akkuraat en al die spyt wat agter na kom, kan niks omkeer nie.

Nie dat woede noodwendig ‘n slegte ding is nie.  Dit is soms presies wat nodig is om onsin stop te sit en te doen wat gedoen moet word.  Die finale stoot in die regte rigting.  Dit is ook ‘n manier om die lug te suiwer presies nes ‘n lekker donderstorm.

Almal raak seker met tye ergelik.  Soos ‘n klein klapper.  ‘n Kyk en miskien ‘n knor en dan is dit verby.  ‘n Effense geraas is die ergste wat gebeur.  Tog kan so ‘n klapper wat ingeperk word of verkeerd gebruik word ontsettende skade aanrig.  Wel, in die geestelike wêreld moet dit net te veel opgehoop word voordat dit bars.  Dan kry ‘n mens die bomcrackers – ‘n gunsteling van vele mense.  Dit maak ‘n groot geraas en kan soms afgelag word, hoewel dit die aanhangers sleg in die gesig vroetel.

Die dinamiet ontploffings is erger en die aanhangers hiervan moet liefs vermy word.  Vir normale mense gebeur dit gebeur selde, maar die skade is aansienlik.  Dit laat wonde, wat dalk nog herstel kan word.  Die gate kan gebruik word om iets beters te skep in die wat vernietig was.  Daar is nog hoop, al is dit nie dadelik sigbaar nie.

Anders as ‘n atoomontploffing wat alles in die pad verwoes sonder enige hoop op herstel.  Dit vee alles plat en menslik gesproke is daar geen herstel nie.  ‘n Lelike vermorsing van goeie energie waaruit niks goeds kan kom nie.  Daar is seker ‘n tyd en ‘n plek daarvoor, maar nie in elkeen se lewe nie.

Persoonlik is ek nie iemand met ‘n vuil humeur nie.  Ek het wel soms die kindervriendelike klapper, maar selfs dit is selde.  Ek het wel al ‘n dinamiet ontploffing of 2 gehad en het geleer om dit eerder te vermy.  Ek het al ‘n atoomontploffing voel kook en kon dit gelukkig (of is dit genadiglik) ontlont.

Wat maak jou woedendkwaad?  Verloor jy dikwels jou humeur?  Raak mense maklik vir jou kwaad?  Wie is die baas – jy of jou humeur?

Breinvasbrand:  Watter land het Naga Saki met ‘n atoombom aangeval?

Breinlosbrand:  Olga was reg met tussen 1896 en 1899.