
Jakaranda het op die oomblik ‘n kompetisie waar kinders aan Kersvader kan skryf en die radiostasie dan namens die ou oom onderneem om aan van die wilde versoeke te voldoen. As ek eerlik wil wees, irriteer die kompetisie my nogal. Veral omdat dit “Dear Santa” genoem word. Is dit nou regtig nodig om die verbrande Amerikaners ook hier in te sleep? Ek is redelik seker dat niks van die geskenke deur Amerika geborg word nie. Dit daar gelaat, ek hou nie van die uitsig agter die deur nie.
Die kinders se briefies word op die website geplaas en mense kan dan natuurlik kommentaar daaroor lewer. Natuurlik wil die mens orals waar dinge verniet uitgedeel word, meer as hulle regmatige deel gaan opeis. Ook maar mens, ook maar vraatsig. Toegegee, mens kan seker maar met Kersvader vraatsig wees. Ek bedoel eintlik kinders, want Kersvader bestaan mos nou nie regtig vir grootmense nie. Wat ‘n pyn in my alie is, is die manipulasie wat party gebruik om hulle (veronderstelde kinders se) wense te bewaarheid.
Eers word die eis versoek gestel en dan word die versoek regverdig om te vertel hoe arm hulle is of hoe sleg dit gaan. Ek weet ‘n iPad of ‘n Blackberry sit nie in almal se sakke nie, maar dit is ‘n kompetisie. Nie ‘n liefdadigheidsprojek nie. Die stasie doen onder andere 2 keer ‘n week die hele jaar lank liefdadigheid. In die feesseisoen, is dit elke dag se storie. Buitendien samel hulle in Desember 2 keer speelgoed by die massas aan. Goed en wel; dit is nou nie ‘n iPad of Blackberry nie, maar dit is ‘n aansienlike poging dat elke kind se Kerskous iets binne sal hê. Is dit dan onredelik dat hulle EEN kompetisie het waaruit normale of selfs ryk kinders ook voordeel kan trek?
Dit is nou nie dat daar teen die minder bevoorregte kinders gediskrimineer word nie. Hulle kan hulle briefies skryf soos al die ander kinders en self hulle saak aan Kersvader regverdig. Nie ma of pa wat die stelsel probeer manipuleer nie. Dit is egter nie my ergste kramp nie.
Daar is die paar wat onbeskaamd probeer om almal se vreugde te steel. Hulle is in trane en nou moet die hele wêreld skaam voel omdat hulle nie is nie. In die verlede was dit mos “Huil en jy huil alleen. Lag en die wêreld lag saam met jou.” Deesdae is lag amper ‘n onvergeeflike sonde.
Daar is die paar wat almal se aandag op hulle wil vestig met hulle treurige stories. Soos ek wil net vir Kersvader vra om my kinders se pa net vir eendag terug te bring. Regtig, alle simpatie aan jou, maar moet jy dit opsluit daar verkondig? Kry ‘n blog of stig ‘n FB page as jy opsluit ‘n gehoor nodig het.
Kersvader is die besit van kinders. Gee hulle die ruimte om hulle wense in vrede te verkondig. Ja, die wense is dalk selfsugtig en daar is erger probleme as Kersgeskenke, maar iewers kan kinders seker onbeskaamd hulle self wees.
As jy vir Kersvader kon skryf, waarvoor sou jy vra? So selfsugtig of onselfsugtig as jy graag wil wees?
Breinvasbrand: Wat word die 4 weke voor Kersfees genoem?
Breinlosbrand: JWW was reg met Amerika.
Wie runnik saam?