Geseënde Nuwejaar

31 12 2011

“Before the Merriment of Commencement Commences” vergun my die geleentheid om my beste wense vir die Nuwejaar oor te dra.

Volgens almal wat ‘n mening het, gaan 2012 ‘n moeilike jaar wees.  Daar word verwag dat dit ‘n taaier jaar as 2012 gaan wees.  Nie juis dat ek my daaraan steur nie.  In 2008 het almal ‘n gatskopjaar verwag en toe word almal se gatte geskop.  Net nie soos daar verwag was nie.  Die Nuwejaar kan dus nie voorspellings lees nie en die jaar steur hulle dus nie aan die voorspellings nie.

Dus gaan ek nie aan die donker prentjie steur nie.  Ek dink wel 2012 gaan ons weer die geleenthede gee waarvan ons die beste van moet maak.  2012 gaan ons weer kanse gee wat ons nie kan verspeel nie.  2012 gaan weer ‘n jaar wees waarin ons kan groei en hopelik gaan ons 2013 in as beter mense.

Die nuwejaar is ‘n geskenk, waarvan ons die meeste van moet maak.  Die jaar gaan niks aan ons heil verander nie – dit is ons wat die ekstra tyd moet aangryp.

Mag jy en jou geliefdes die voorspoed van die Nuwejaar ontdek en vir julleself toeëien.





1220 luie

30 12 2011

Hallo Maatjies

Ekke kuier nog by Tannie La Bafana.  😯  Kan julle glo, sy deel nog steeds geskenkies uit.  😈  Sy sê sy gaan tot 5 Jannetjies geskenkies vir die soet maatjies uitdeel.  :mrgreen:

Tannie La Bafana sê ek is al onder haar hande wanneer sy geskenkies maak.  😡  Myse Ouma Laviga het dan gesê ekke moet help.  😀 Nou het tannie La Bafana vir my ‘n ander werkie gegee waarmee sy niemand anders vertrou nie.  😉

Ekke moet die Babajaar klok more aand lui.  🙂  Wanneer die horrielosie moreaand 12 keer skree en die maatjies begin borrelkoeldrank drink, moet ekke die hekse klok lui.  😀  Njannies!  ‘n Volle 1220 luie omdat dit die babajaar se naam is.  🙄

Ekke moet nou tata!  :mrgreen:  Ekke moet nog gaan oefen om te tel en dan moet ekke nog ‘n koek gaan bak vir die babatjie jaar.

Tata Maatjies





Wakker Word

30 12 2011

Heinz Winckler sing mos iets van die 20 minute voordat hy op moet staan.

Ek is baie dinge, maar niemand kan my daarvan beskuldig dat ek ‘n oggendmens is nie.  As jy iemand vrolik en vol sonskyn soek in die oggende, kyk maar gerus verder.  Dit is nie ek nie.  Ek dink eindlik dat mense wat so sonnig in die oggend ongeskik is.  Ek kruip eerder in my hoekie weg en knor as ek dan moet praat.

Ek lig dus nie my stert uit die bed uit nie voordat dit absoluut al 10 minute terug nodig was nie.  Ek sal gewoonlik ‘n paar kere omrol en verder slaap.  Iewers sal ek darem gou seker maak of die wêreld nie vergaan het terwyl ek geslaap het.  Ek lees die koerant nog voordat ek badkamer toe gaan.  Facebook ook, net ingeval iemand iets het om oor opgewonde te raak.

Wanneer ek uiteindelik moet opstaan is die tyd van hana-hana al lankal verby.  Ek moet dan vinger kry om betyds klaar te kry.

Hoe benut jy die tyd voordat jy moet opstaan?





Seevakansie

29 12 2011

Almal wil in die see speel

Dit is die bitch in my wat praat.  Vir baie Suid-Afrikaners is dit tradisie om aan die einde van elke jaar tassies te pak en ‘n paar dae by die see te gaan afpak.  In baie gesinne word daar pligsgetrou elke maand ‘n paar rand eenkant gehou vir die bederfie van ‘n week of twee langs die strand.  Niks verkeerd daarmee nie.  Dit is tog hoe dit behoort te werk.

Van waar ek egter sit lyk dit vir my of amper elke Jan Rap en sy maat by die see sit.  In Desember (hoogseisoen) vir weke lank.  Ander se bankstate is maar duister, maar tog kan ek nie help om te wonder nie.  Ek gun elke mens om soms hulle voete in die see te gaan afspoel, maar dit is en bly ‘n luukse (behalwe as jy met jou een voet op ‘n piesangskil staan en nog nooit die see gesien het).  ‘n Luukse:  iets waarsonder jy goed oor die weg kan kom as dit moet.  Spaar is een ding, maar ten koste van wat?

Ek is dalk konserwatief in daardie opsigte, maar op my lys van prioriteite kom ‘n vakansie na ‘n mediesefonds, versekering en voorsiening vir my ou dag.  Die laasgenoemde is ‘n vraatsige wolf en ek doen seker nog lank nie genoeg daaromtrent nie, maar daar is darem ‘n goeie begin.  Dit gaan my verstand te bowe hoe mense wat nie die bogenoemde (en ander noodsaaklikhede) in plek het nie, jaar na jaar vir weke lank kan gaan vakansie hou.  In Desember wat verseker die duurste tyd van die jaar is.  Ek meen, dit is nou nie ‘n vinnige wegglip naweek net om ‘n bietjie seelug te gaan inasem nie.

Dit is my siening gebore uit my ervaringe.  Ander mense het dalk ‘n baie goedkoop manier om dit reg te kry.  My idee van ‘n seevakansie is nie om in die oggende wakker te word, af te slenter strand toe, die heeldag daar te lê en dan wanneer die son sak terug te slenter nie.  Ek sal foto’s gaan soek, alles wat die omgewing bied gaan uitprobeer (museums, akwariums, reservate).  As ek nooit op die strand self kom nie, sal ek nie eers gepla wees nie.  Ek gaan beslis nie my aandete in die see vang nie en die kanse dat ek enigsins vir myself gaan kos maak, is maar skraal.  Ander mense sal my idee as lasterlik beskou.

As ‘n mens deur tydskrifte blaai, blyk dit asof mense graag by kennisse en verlangse familie gaan afpak vir die vakansie.  Sonder om soveel as ‘n brood tot die huishouding by te dra nie.  Dit laat dan basies net jou reiskostes en reputasie om te betaal.  Is mense regtig jaar na jaar so onbeskaamd dikvellig?

Wat is jou idee van die ideale seevakansie?  Hoe begroot jy daarvoor?  Beskou jy ‘n seevakansie as ‘n noodsaaklikheid of ‘n luukse?





Bel Net

28 12 2011

Die dae wat ‘n “Letter in the Mail” die enigste manier was om kontak te behou is al vergete terug verby.  Genugtig, leer kinders ooit nog op skool hoe om briewe te skryf?  Die verskil tussen ‘n formele en ‘n informele brief?  Is liefdegroete ooit nog ‘n amptelike Afrikaanse woord?  Weet iemand ooit wat die nut van ‘n seël is?

Ek dwaal af, die punt is dat briewe en selfs kaartjies meer ‘n aardigheid as allerdaags is.  Ek onthou toe ek melktande gehad het, was daar nog soms biewe gestuur.  Bel was egter minder moeite, maar aansienlik duurder.  Daar was dus gebel, maar oproepe was kort en bondig gehou.  Tog het meer en meer mense besef die ekstra koste van ‘n telefoon oproep is nie so baie as die tyd wat aan ‘n brief spandeer word nie.

Toe kom selfone.  Met kostes wat selfs ‘n langafstand oproep goedkoop laat lyk het.  Hier en daar het die gewone middelklas mense ook een aangeskaf – net vir noodgevalle.  Suid-Afrika was toe nie meer ‘n land waar jy maklik aan iemand se deur kon klop as jy hulp nodig het nie.  Noodoproepe met ‘n selfoon was darem gratis.

Stadigaan het ouer kinders vir die geval van nood selfone gekry.  Sodat die ouers hulle in die hande kry as hulle saans uitgaan.  Toe kom sms’e, ‘n splinternuwe metode van kommunikeer.  En dit was relatief goedkoop.  Veral buite spitstye.  Boonop het Vodacom lank 15 gratis sms’e ‘n maand uitgedeel wat lank genoeg was vir die hele maand.

Op die punt het ons ook maar blasé geraak daarmee.  Sms’e is al hoemeer gebruik.  Dit was goedkoper as ‘n brief of oproep.  Dinge het nog goedkoper geraak.  Mxit het amper ‘n revolusie veroorsaak.  Facebook het gekom en al hoe gewilder geword.  Later is Facebook saam met eposse selfone toe.  Alles goed wat dit meer toeganklik vir die gewone mens gemaak het.  Toe kom BBM en dit is so na aan gratis as wat kan kom.  Daar is amper geen meer nut vir Mxit, bel of ‘n brief nie.  Almal, maar almal is op die wa!

Behalwe ‘n paar mense wat tegnologies gestremd is weens hoë ouderdom.  Dit het my die afgelope paar jaar regtig naar gemaak.  Vertel jy vir iemand van ‘n bejaarde vir wie hulle iets behoort te voel, word daar 90% van die tyd gat daaraan afgevee.  Die 10% wat dalk sal maak of hulle omgee, vra ‘n selfoon nommer dat hulle kan sms.  Ek weet in sommige gevalle is dit ‘n blerrie prestasie dat mense so by die 40 of 50 jaar kan sms, maar daar is mense wat nie meer lus is om te leer nie.  Wys jy dit vir hulle uit, hoor jy van hoe duur dit is om te bel.

Is dit ‘n geval van onbekostigbaarheid of inhaligheid?  Die meeste ou mense dink nog bel is net vir ‘n noodgeval.  Hulle is eerstens so dankbaar dat iemand hulle gebel het en gedagtig aan die groot onkostes daarvan maak hulle seker die oproep is kort.  Niemand het in elk geval gesê daar moet in spitstyd gebel word nie.

Persoonlik dink ek daar is ‘n tyd om te bel en ‘n tyd om te sms.  Iewers moet iemand tog ‘n riglyn gaan skryf en hoop dit weeg swaarder as die paar sente wat iemand ekstra moet betaal.

Wanneer behoort daar eerder gesms as gebel te word?

Wie behoort eerder gesms as gebel te word?

Hoe voel julle?





Geseënde Kersfees

24 12 2011

Baie geseënde Kersfees!!

Jesus se geboorte was met groot afwaging en hoop verwag.  Mag die viering van sy koms ons opnuut met vreugde en vrede vervul.  Nie net op die dag nie, maar in elke dag van ons lewens.  Mag ons die vreugde en liefde van Christus uitdra en die mensdom daarmee vul.

Ek hoop dat almal ‘n wonderlike dag sal geniet saam met almal vir wie hulle lief is.

 





Kersvreugde

24 12 2011

Light the Advent candle four

Think of Joy forever more

Christ child in a stable born

Gift of love that Christmas morn.

Ek is mos agter met my Advent reeks en as ek dit nie nou afhandel nie, is dit te laat.

Kom ons mymer oor vreugde.  KersFEES is ‘n tyd om te vier, nie te wroeg nie.  Dit is ‘n tyd van blydskap en vreugde.  Die koms van die Christuskind wat ons kom red het van sonde.  Christus wat in sy dood ons nie net vry gemaak het nie, maar ook hemelkinders gemaak het.

Ek kry altyd die gevoel dat die mensdom skaam is om bly te wees.  Blydskap word weggesteek of verberg.  Dit is so amper asof vreugde onvanpas is.  Ons lewe in ‘n samelewing waar depressie hooggety vier.  Ja, daar is mense wat ‘n toestand het wat depressie genoem word ly.  Dit is niks om oor snedig te wees nie.  Tog is daar mense wat graag aan depressie WIL ly.  Hoekom?

Is dit net ‘n poging om aandag te soek (let wel – ek praat nie van mense wat regte depressielyers is nie)?  Kry mense wat regtig bly is minder aandag?

Wat sou gebeur as ons besluit om bly te wees?  Om al die vreugdes wat die lewe ons bied te geniet en aan te gryp?  Ons sal self gelukkiger wees en dit sal ons meer positief instel.

Op die vooraand van Kersfees, kom ons verheug ons in die Here.  Dan sal dit oorspoel in die res van ons lewe.