Lunch Week 43 / 11

7 11 2011

Algemene Kennis

  1. Wie was die Wit Wolf wat in 1988 ‘n groep mense by Strijdom Plein dood gemaak het?
  2. In 1895 het Banjo Paterson ‘n gedig geskryf van ‘n trekarbeider wat ‘n skaap steel en dan selfmoord pleeg wanneer hy gevang word.  Watter bekende lied het uit die gedig ontstaan?
  3. In watter land is die stad Montreal?
  4. Watter monarg word geskiedkundig hoër geskat as ‘n koning?
  5. Wat word gewoonlik op 5 November elke jaar gevier?




Aasfonds

7 11 2011

Ek lees nou die dag iewers dat baie Suid-Afrikaners se mediese fonds spaarrekeninge dit nie naastenby tot die einde van die jaar maak nie.  Natuurlik is dit nie die mediese fonds se skuld nie, is jy nou absurb?  Dit is die onnosele Suid-Afrikaners wat nie die regte fonds kies nie.  En wie kan hulle blameer?  Die vlagskip van produkte draai by meer as R4000 ‘n maand.  As jy ‘n glorified hospitaalplan vat (met die sogenaamde spaarplan), kom jy met ‘n aansienlik meer bekostigbare R1500 weg.  En dit is nie eers dat die vlagskip geen bybetalings het nie.

Ek moet erken dat ek een van die dom mense is wie se spaarrekening nie tot die einde van die jaar gehou het nie.  Om meer korrek te wees, die fondse van 2 jaar se spaarrekening het nie eers Maart gesien nie.  Dit lyk verskriklik op skrif, maar dit is nie eers dat ek wild te kere gegaan het of vir elke haar wat skeefstaan dokter toe gehardloop het nie.

Ek moet volgens herriereëls ten minste een van ‘n moontlike 3 kriteria bereik, voordat ek my sal verwerdig om dokter toe te gaan.  Ek moet voel asof ek enige oomblik dood kan neerslaan, dit moet iets wees wat ek nie self kan behandel nie (basies net omdat ek nie antibiotika self kan voorskryf nie) of my toestand kan nie deur Google beskryf word nie.  In die 2011 geval het ek nie te lekker met Google se diagnose saamgestem nie en ek het nie geweet hoe om myself te behandel nie.

Ook geen wonder nie, die dokter (‘n locum wat vir my gewone dokter ingestaan het) het dit ook net een kyk gegee en my na ‘n spesialis verwys. Sy het ‘n buisie bloed getrek en twee moontlike diagnoses gemaak.  Die eerste een was totaal en al van die pad af (volgens Google en die spesialis) en die ander is gelukkig nie bevestig met my bloed nie (neem ek aan, nooit weer iets gehoor nie).

Die spesialis moes ek boonop kontant betaal (met die idee dat ek dit self van die medies kan terugeis – waarby ek terloops nooit uitgekom het nie).  Nadat hy hier gedruk het en daar ge-ahh het, het ek weer ‘n verwysing na ‘n spesialis in ‘n ander dissipline gekry.  Daar was ‘n paar toetse gedoen en ‘n diagnose gemaak.  Blykbaar dek my mediese fonds operasies, maar al wat ek nodig gehad het, was ‘n paar terapie sessies.

Daar is dit – 2 jaar se spaarvoordele uitgeput met 1 toestand.  Dit was een besoek aan ‘n gewone dokter, een besoek aan ‘n spesialis (onthou ek het die ander een self betaal), een stel toetse gedoen deur die spesialis en 3 terapiesessies.  Nou blykbaar sou die spesialiste en terapie ten volle gedek gewees het as ek in die hospitaal was.  Wat die fonds aansienlik meer sou kos as die buitepasient tariewe.  Wat nie heeltemal sin maak nie, maar dit is ‘n geldige ekskusie om hulle hande in onskuld te was.

Ek het seker nie rede om te kla nie.  Ek het nie weer my fonds nodig gehad vir die res van die jaar nie.  Behalwe nou die spesialis wat ek self moes betaal het, het ek geen ander bybetalings gehad nie.  My plan was dan seker reg vir my behoeftes.  Niemand kan sê dat ek die fonds misbruik het nie, maar ek voel nogtans dat die fonds my misbruik het.

Hoe voel julle oor mediese fondse?  Wie lag laaste in jou verhouding met die mediese fonds?

Breinvasbrand:  Wie is die groep hoof uitvoerende beampte van die Discovery Groep?

Breinlosbrand:  Selene was reg met Tobias en Adelheid.