Lunch Week 44 / 11

17 11 2011

Couples Theraphy

(Rangskik die terme in pare wat by mekaar pas en gee die gemeenskaplike faktor van die groep).

Nuweland; Wanderers; Supersportpark; Centurion; St George’s Park; Kingsmead; Durban; Johannesburg; Kaapstad; Port Elizabeth.

Gemeenskaplike faktor?





Jaareind Partytjies

17 11 2011

Dis die maand November, die maand van partytjie hou.  Die maand wat elke plek waar jy op een of ander manier betrokke is hulle pond vleis soek.  Die maand wat jou verskonings vinnig uithardloop en dat jy na die ou getroues moet terugval.  Ek meen, hoeveel keer kan jy nou by die huis bly omdat jou gunsteling advertensie op gaan kom en jy dit nie kan mis nie?

Daar is seker meriete daaraan om ‘n jaar in ‘n tydlyn voor te stel.  In Januarie begin alles met ‘n groot gejuig.  Die wiele kom aan die draai, topspoed teen die middel van die maand.  Mens kry eers tyd om in April asem te skep.  Die keer is die wegspring stadiger, maar die spoed word opgebou.  Na die winter kom almal agter die pas is te stadig vir alles wat gedoen moet word.  In Oktober sleep jou tong al op die grond, maar daar is alles wat moet klaar.  Dan kom November en alle moontlike vrye tyd word deur sosiale verpligtinge opgesuig.  Dan is dit Desember waar jy maak of jy werk en darem ‘n bietjie tyd kry om jou wiele te pomp en jou battery na te gaan.

Maar ek praat nou van November (Oom Leipoldt se woorde verdraai so lekker).  Orals waar jou naam opgegee was, kom daar nou ‘n opdrag om hulle jaareindfunksie by te woon.  Ek wonder altyd vir wat?  Al kan ‘n tydlyn gebruik word, is jare eintlik sirkels.  Volgende jaar gaan ‘n mens tog maar net aan waar jy opgehou het.  Mens kan maar net hoop.

Dit begin by die werk se funksie – in werkstyd sodat geen verskoning nodig is nie.  Ek het al probeer om afsprake in die tyd te maak, maar wanneer ek my oë uitvee is dit geskuif en moet ek saam gaan partikie.  Goed en wel, lang dienstoekennings moet iewers uitgedeel word en die baas moet iewers dankie sê.  Die kos is lekker en almal vergat hulle name op die dansbaan.  Ek skop darem nie te heftig nie.

Dit is al die ander wat my lam maak.  Orals waar jy antwoord gegee het, nooi jou vir hulle afsluiting.  Elke komitee, elke vereniging, orals waar hulle jou naam ken – al ken jy nou nie juis hulle name of is jy lus om dit te leer ken nie.  Selfs die kerk en gimnasium.  Regtig?  Is die groot afsluitings regtig so noodsaaklik?

Ek is maar op my beste ‘n suurknol en sê maklik nee sonder ‘n verskoning.  Ek kan self nie beweeg met my dagboek nie.  Wat nog van iemand wat van sosiale geleenthede hou?  Wat is in elk geval fout met ‘n kaartjie wat “Happy Happy” sê?

Hou jy van die tyd van die jaar?  Hou jy van al die funksies wat nou kop uitsteek?

Breinvasbrand:  Wat is die geboortesteen van November?

Breinlosbrand:  JWW was reg met Oubaas