Lunch Week 42 / 11

2 11 2011
Toorwoorde
  1. Wat is “hematurie”?
  2. Wat beteken die afkorting “uitbr.”?
  3. Wat beteken die uitdrukking “as die muis vol is, raak die meel bitter”?
  4. Gee ‘n sinoniem vir “bediende” (4 letters)?
  5. Herrangskik die volgende in ‘n sinvolle woord: EENGOTOG




‘n Mens in elke boek

2 11 2011

Daar is ‘n gesegde dat ander se boeke duister is, maar ek is orals bekend vir my nuuskierigheid.  Ek het juis gewonder wie se duistere boeke ek graag sal wil lees, toe dit my tussen die oë tref dat mense maar soos boeke is.

Daar is die die ligte romantiese fiksie mense.  Jy verwag nie veel nie en word dus nie teleurgestel nie.  Effens lig in die broek, oppervlakkig en voorspelbaar.  Tog goed genoeg om ‘n paar aangename ure te verwyl, maar jy verwag nou nie vuurwerke nie.

Daar is die strokiesprente mense.  Van die oog af pret en vol grappe, maar dit verskuil dalk net een of ander strewe op protes.  Jy dink dalk jy lag saam met hulle, maar dan is jy dalk die grap.

Die romans mense is nie so maklik om ‘n etiket aan te sit nie.  Dit lyk dalk aanvanklik belowend, maar teen die einde kom jy agter dat dit maar net ‘n leë dop was.  Ure aan ‘n storie spandeer, net om te besef dat dit maar net ‘n gespeel met woorde was sonder enige sin of doel.  Daar is mense wat hoogaangeskryf word, maar wat jy nie kan sien hoekom nie.  Jy kry dus nie wat jy verwag nie.

Al ooit met ‘n boek begin wroeg, deur die donkerste storms gegaan en die die vreeslikste trauma.  Dan kom die ontknoping en jy sit die boek neer met ‘n gevoel van dit absoluut briljant is.  Daar is sulke mense ook, dit sukkel dalk aan die begin, maar as jy die tot die einde vasbyt, sit jy met iemand wonderlik.  Die ongeluk is dat jy dalk aan die einde niks gevorder het nie en nog steeds wroeg.  Jy sal dit eers aan die einde van die pad besef.  Daar is natuurlik ook die boeke wat in die begin so ingewikkel en onverstaanbaar is, dat daar nooit verder as die eerste paar bladsye gevorder word nie.  Party mense se issues is net te veel.

Daar is die vakliteratuur mense.  Vol kennis en inligting, maar met weinig anders.  Neem die feite weg, dan is daar niks.  Dan is daar die instruksie mense, wat jou altyd kan vertel wat jy moet doen, maar nie weet wat om ‘n onverwagte probleem se gat te skop nie.  Foto boeke, mense wat mooi is om na te kyk en dalk inspirend, maar niks anders nie.

Daar is ook daardie boeke waar die leser basies besluit wat volgende gebeur.  Jy kom by ‘n waterskeid oomblik, besluit wat moet gebeur en volg daar die draad.  Jy kry dalk die storie wat jy wil hê, maar kom nooit agter wat die regte storie is nie.  Helaas is daar sulke mense ook.

Net ‘n paar voorbeelde, dalk kan julle aan nog ‘n paar dink?  Ken julle mense soos die wat ek aan sekere tipe boeke gekoppel het?  As watter boek sien jy jouself?

Breinvasbrand:  Wie se kneg was Friday?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Cloud Dancing.