Veilige Paaie

18 10 2011

Padsterftes is ‘n werklikheid in Suid-Afrika.  Die mense is oor die algemeen die regering eens dat iets gedoen moet word om die stop te sit.  As ‘n mens daaroor dink, het die gemiddelde Suid-Afrikaner genoeg om hulle lewe elke dag oor te vrees.  Veilige vervoer sal ‘n welkome verandering wees.

Die regering en die publiek verskil egter radikaal oor hoe die paai beveilig moet word.  Eers was daar gefluister dat spoedbeperkings verminder gaan word tot 100 km / h.  Aan die een kant was daar oor die moontlikheid gejuig.  Ander mense, soos die uwe, het dit summier afgeskiet.  Dit is juis wat ‘n volgende groep vertel het dat wetteloosheid van Suid-Afrikaners eers aangespreek moet word, voor daar aan spoedgrense gekarring word.

Toe kry die regering ‘n ander plan, wat basies daarop neerkom dat dit jou 4 jaar lank gaan neem om ‘n voledige bestuursbewys te kry.  Die kort weergawe is dat jy ‘n rekenaartoets moet aflê vir jou leerlinglisensie.  Jy moet ‘n jaar lank daarmee ry en in die tyd 120 h ondervinding opdoen, ten minste 20 ure moet in die nag wees.  Jy kry dan ‘n fase 1 lisensie, nadat jy ‘n praktiese toets slaag.  As jy in die jaar ‘n spoedoortreding kry, word jou lisensie vir 3 maande opgeskort.  Dan doen jy ‘n rekenaar toets met gevaarsituasies.  Slaag jy, is jy in fase 2.  Na 2 jaar kan jy aansoek doen vir ‘n volledige lisensie, na nog ‘n rekenaar toets.

Ek is nie noodwendig teen die stelsel nie, al sien ek die donkie wat goue ponde bollie in die prentjie.  Punt is dat meeste mense die eerste paar kere hulle lisensie dop.  Om die tydperk langer te maak, gaan nie juis iets aan die saak verander nie.  Om die verkope van lisensies te stop, gaan dalk meer vrugte dra.

Jan Alleman se raad oor pad ongelukke kom gewoonlik neer op die toestand van die pad, padwaardigheid van karre en die verbrande taxi’s.  Die is seker ook nie ‘n allesomvattende oplossing nie, maar dit dra beslis by tot frustrasies.  Wat lei tot ongeduld en wel ongelukke kan veroorsaak.  Die padsterftes is nie net in die hande van bestuurders nie.  Ander padgebruikers moet ook verantwoordelikheid neem vir hulle veiligheid.

Persoonlik dink ek dit is waar die kern lê.  Die regering moet verantwoordelikheid neem om die paaie in ‘n goeie toestand te hou.  Die toets sentrums moet verantwoordelikheid neem om net mense wat geskik is lisensies te gee.  Dit help niemand om lisensies te weier net om meer geld te maak nie.  Elke padverbruiker moet verantwoordelikheid neem om die pad so veilig as moontlik te gebruik.  Met die houding, sal die ongeluk syfer moet afkom.

Wat dink julle moet gedoen word?

Breinvasbrand:  Wat is die verskil tussen gang en paralel parkering?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 1918.





Lunch Week 40 / 11

18 10 2011

Uilspieël

(Watter een pas nie en hoekom pas dit nie?)

  1. Avis; Temper; Budget
  2. Wyn; Rosyne; Appelkose
  3. BT; Engen; Total
  4. Berlyn; Bonn; Rome
  5. Desperate Housewives; CSI;  NCIS




Koerantbrokkies

18 10 2011

Mnr. Johannes Jacobus (Jaco) Steyn (35) is die Sondag verkragter, en ook die moordenaar wie die 16-jarige Louise de Waal eers verkrag het (in sy huis terwyl sy vrou by die werk was, en 6 jarige seuntjie by die skool was), en toe vermoor het en ook haar lyk aan die brand gesteek het. Die vermeende Sondag-verkragter het sy skrikbewind in November 2008 begin en daarna weer in Junie en November 2009 in Rustenburg en Potchefstroom toegeslaan. Hy het in Februarie die volgende jaar ’n 16-jarige meisie in Vanderbijlpark ontvoer en verkrag en in Maart 2010 nóg ’n tiener in Rustenburg ontvoer en verkrag. Die reeksverkragter het glo daarna op 15 Augustus misluk om ’n 18-jarige meisie in Potchefstroom te ontvoer, maar die volgende maand 14-jarige Lazanne Farmer en haar 16-jarige vriendin ontvoer. Hy het later dieselfde maand ook ’n 15-jarige meisie in Carletonville naby ’n nywerheidsgebied verkrag en op 31 Oktober 2010 ’n 11-jarige meisie uit Krugersdorp-Wes ontvoer en verkrag.

“Sondag-verkragter” verskyn in hof:  Mnr. Sakkie Viljoen van Krugersdorp

Craig Joubert van Suid Afrika sal die blaser wees in Sondag se eindstryd tussen Nieu-Seeland en Frankryk. As die Bokke sou gespeel het, sou hy nie die ref kom gewees het nie, maar volgens Joubert sit hy eerder die Bokke en ondersteun as om ooit weer ‘n finaal te blaas. Kom ons hoop hy maak nie soos julle weet wie nie! 😉

 Die NDM-1-bakterie (Nieu Delhi metallo-7-lactamase 1) is vir die eerste keer in 2009 in Nieu-Delhi, Indië, geïsoleer en vermoedelik deur iemand na Suid-Afrika gedra. Daar is al drie mense oorlede in ‘n private hospitaal in die Oos Rand agv die bakterie.

Dié man, vermoedelik ’n lid van ’n bende kitsbankrowers, is vroeër die maand tydens ’n aanval op ’n kitsbank in Maraisburg op kringtelevisie afgeneem terwyl hy sy klapmus nie oor sy oë getrek gehad het nie.

Die Afrikaanse rocker Jan Blohm (regte naam: George Harry Kymdell) is gister op borgtog van R500 vrygelaat nadat hy sy vrou, Zinta, glo aangerand het.

♪♫ Verjaarsdae ♪♫ Zac Efron (24) Jean-Claude Van Damme (51)





Hoe om te kies

18 10 2011

Dit is ‘n ou, weemoedige prentjie.  Amper so oud soos tyd self.  Kinders wat besig is om spanne uit te roep.  Enetjie wie se gesiggie meer en meer val soos elke kaptein sy keuse roep.  Dan is elke span vol, sonder dat hy gekies is.  Amper erger, wanneer hy alleen oorbly, wil niemand hom in elk geval hê nie.  Mens kan net raai hoe hy voel.  Oorbodig?  Nie goed genoeg nie?  ‘n Onding?  In elk geval nie baie lekker nie.

Helaas is dit seker maar een van die lewe se dinge.  Ons is nou in die tyd wat Kersfees nou vir 3 maande gerek word in die naam van liefdadigheid.  Een van die grootste projekte is dat daar regtig ‘n moedige poging aangewend word om vir elke kind ‘n geskenkie te gee.  Niks fout daarmee nie.  Ek hou net nie daarvan hoe dit soms aangepak word nie.  Kortom, ek hou nie daarvan om self ‘n kind te kies nie.  Dit laat my altyd voel soos iemand wat ‘n perd moet kies.

Het julle al ooit op die 24ste by ‘n winkel gekom en dan een of twee verlore name op ‘n Kersboom gesien?  Ek wonder altyd aan die teleurstelling wat hulle die aand of die volgende oggend in die gesig gaan staar.  Al die ander kinders in die inrigting gaan ‘n geskenk ontvang, maar hulle gaan weet dat niemand vir hulle ‘n geskenk wou koop nie.

Dit is seker ‘n belangrike lewensles, maar Kersfees is seker nie die tyd om dit te leer nie.  Ek is seker self skuldig, want ek het nog nooit iets aan daardie vergete name gedoen nie.  En dit is nie net aan die bome in inkopiesentrum en kerke nie.  Weeshuise gaan dikwels nog ‘n stap verder, met ‘n nota van elke kind met hulle kerswens.  Omdat dit aan duisende mense gestuur word, sonder enige beheer wie watter kind gaan kies nie, gaan duisende mense die oulikste kinders kies.  Die wat ouer is of dalk nie hulleself oulik kan uitdruk nie, gaan wel, nie juis feature nie.

Ek weet kontant skenkings is dalk ‘n bietjie onpersoonlik en laat dikwels ‘n bitter smaak in die mond.  Veral omdat ‘n mens nie weet in wie se sak dit gaan opeindig nie.  Tog, in die geval dink ek dat kontant skenkings beter sal wees.  Die inrigting kan dan self vir elke kind in hulle sorg ‘n geskenk koop.

Terwyl daar nou van geskenke gepraat word, hoekom word daar altyd net op Kersfees gekonsentreer, in oorvloed.  Ek het al gehoor dat iets soos ‘n uitstappie na ‘n restaurant iets is wat die kinders nooit doen nie en iewers moet leer.  Hoekom word daar nooit na borge vir hulle verjaarsdag gesoek nie?  Die borg kan ‘n geskenkie koop, die kind vir sy verjaarsdag uitneem en die dag in ‘n restaurant afsluit.  Dit gee ‘n beter verspreiding van fondse.  Dit is makliker om ‘n kind ‘n maand te bederf as om 12 te bederf oor Kersfees.

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Watter jaar is Louis Botha Kinderhuis gestig?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Trevor Manual.