Lunch Week 41 / 11

26 10 2011
Toorwoorde
  1. Wat is “internis”?
  2. Wat beteken die afkorting “tel.”?
  3. Wat beteken die uitdrukking “ledigheid is die duiwel se oorkussing”?
  4. Gee ‘n sinoniem vir “steelfotograaf” (9 letters)?
  5. Herrangskik die volgende in ‘n sinvolle woord: HIGFOTTEL




Ledigheid

26 10 2011

Ek verneem dat aanstoot nog steeds die warmste mode bykomstigheid is.  Dalk is aanstoot net die nuwe swart.  Dit lyk soms vir my asof daar ‘n kompetisie is om te kyk wie kan die meeste aanstoot neem.  Velkleur, taal, geloof – enige iets solank daaroor ‘n bohaai opgeskop word.

Deesdae kom ek maar selde by die TV uit.  Daar is bittermin wat ek wil kyk en dit wat ek wil kyk, het ek al gekyk.  Daar is natuurlik die uitsondering van ‘n skerp advertensie hier en daar.  Jy weet sommer jy moet dit geniet terwyl dit hou.  Dit sal wel op iemand se tone trap en van die lug gehaal word.  Ek grinnik juis nou die dag by myself oor die nuwe Nissan Tough advertensie.  Heeltemal geskooi op mans natuurlik en ek het juis gewonder hoe lank gaan dit wees voor een of ander poppie kla dat dit haar uitsluit.  Wag netnou gee ek iemand idees.  (Hoe kan ek aanstoot neem met die ENB radio advertensies, irriteer die wit waks uit my uit.)

Belaglik soos dit is, word ek nog steeds soms vir ‘n 6 geslaan.  Soos met die nuwe Axe advertensie wat nie meer vertoon kan word nie.  ‘n Vaal mannetjie spuit ‘n halwe blikkie op homself uit en dan val daar vroue uit die hemel uit om hom te besnuif.  Hulle kleredrag het my aanvanklik laat dink dat dit Diana (godin van jag) en gespuis is, maar dit blyk toe dat selfs engele vir die nuwe Axe val.

Nou het daar een suurknol gaan kla daaroor en hy het wragtig sy sin gekry.  Volgens die ASA direktoraat:  “Die probleem is nie as sulks dat engele in die advertensie gebruik is nie, maar eerder dat die engele hul hemelse status opgee vir sterflike drange. Dit is iets wat Christene aanstoot kan gee op dieselfde wyse waarop dit die klaer aanstoot gegee het.”

Ironies genoeg sal dit nie die eerste keer wees dat hemelwesens op mense verlief raak nie.  In Genesis 6 – net voor die sondevloed – word daar juis vertel van engele wat op die mense se dogters verlief geraak het en die hemel verlaat het om by hulle te wees.

Ek wonder nogal of ASA regoptree om gehoor te gee aan een mens se klagte.  Erger nog, om die een persoon se klagte verteenwoordigend te maak vir ‘n hele groep.  Ek meen, as die groep regtig aanstoot geneem het, het die klagtes soos die Amazone rivier ingestroom.

ASA gee aan individue onregverdige mag en onthou dat mag ‘n baie gevaarlike dwelm is.  Ek het ‘n vermoede dat dit ‘n handvol mense is wat kla oor die advertensies wat die lug haal.  Hulle sit seker heeldag voor die televisie, reg om hulle misnoë te lig oor enige iets wat nie aan hulle standaarde voldoen nie.  Al moet hulle natuurlik hulle standaarde aanpas om dit te doen.  Onttrekte advertensies is seker die vere in hulle hoed.

Doen mense dit uit eensaamheid of ledigheid?  Ek dink in elk geval as hulle werk vir hulle hande het, kan hulle ander dalk ‘n plek in die son gun wat hulle waarskynlik minder eensaam sal maak.

Hoe voel julle?  Het die AXE advertensie julle aanstoot gegee?  Watter advertensie haal julle nerwe af of watter advertensie geniet julle?  Hoeveel klagtes moet ASA ontvang om ‘n aanvaarbare minimum te wees?

Breinvasbrand:  Watter vroueproduk het die AXE reeks in 1983 geinspireer?

Breinlosbrand:  Sonlig was reg met 1 Desember.