Lunch Week 39 / 11

10 10 2011

Algemene Kennis

  1. Watter jaar is Paul Kruger gebore?
  2. Watter posisie beklee Tenzin Gyatso?
  3. Wat is die langste rivier in Suid-Afrika?
  4. Wat is die springbok afrigter, Peter de Villiers, se bynaam?
  5. Wie was die skrywer van Heidi?




Baas van Hel

10 10 2011

Op ‘n bloue Maandagoggend, is daar min baas wat nie uit die hel uit stam nie.  Dit is seker darem ook nie hulle skuld dat iemand besluit het dat ‘n mens op ‘n Maandag die week moet begin nie.  Elke baas (lees – die persoon wat jou tjeks teken) het seker maar hulle nukke, maar ‘n party misbruik die voorreg.  Party kom nie net uit die hel nie, maar ding mee om die duiwel te onttroon.

Ek kan eerlik nie juis kla oor wat ek het op die gebied nie.  Dit word natuurlik net beperk tot die maatskappy waar ek tans werksaam is.  My vorige werkgewer aan die anderkant . . . Nie hy so erg nie, maar die persoon wat op sy kop gesit het was genoeg om enige een in ‘n bylmoordenaar te laat ontpop.  Tot op hede was sy die enigste mens wat ek reg deur ‘n muur wou klap en ek is nie seker of ek moet dankbaar wees omdat ek dit nooit gedoen het nie.

Ek moet dalk vir die rekord noem dat dit ‘n Japanese maatskappy was.  Hulle Engels was nie juis iets om oor huis toe te skryf nie.  Myne ook nie, en dit beteken glad nie dat die bietjie rooitaal wat ek ken met hulle s’n ooreen gestem het nie.  Daar was dikwels misverstande.

Van die reëls was heeltemal onverstaanbaar.  Ons het oor die algemeen met jeans, t-hempde en tekkies gewerk.  Ek weet nie veel van klere nie, maar ek dink amper dit gaan deur vir slenterdrag.  Bewaar egter jou siel as jy met loshare kom werk het.  Dit was onprofessioneel.

Jy het geen reg gehad om jouself te verdedig nie – dit was uiters onrespekvol gesien en was natuurlik een van my grootste sondes.  Nie dat jy veel kans gehad het om jouself te verdedig nie.  Aan die einde van elke maand was daar ‘n brief saam met jou betalingstrokie wat jou vertel het watter slegte mens is jy nou eintlik.  Die brief het gehandel van hoeveel jy te veel gepraat het tot hoe oorgewig jy dink hulle is.  As jy ‘n selfbeeld oor gehad het na die 5de van elke maand, was dit nie hulle skuld nie.  Om jou bene te kruis was ook nie respekvol nie.

Geld was natuurlik die wortel van alle kwaad.  Daar was tyd gehou soos by geen Grand Prix nie, natuurlik niks wat tot jou voordeel sou strek nie.  Was jy byvoorbeeld 5 minute laat, was dit van jou salaris afgetrek – saam met ‘n uittrap paragraaf aan die einde van die maand.  Sou jy egter 20 minute langer gewerk het, het jy nie soveel as ‘n dankie gekry nie.  Daar was inderwaarheid verwag dat jy 15 min voor die tyd by jou lessenaar moet wees en eers 15 min na die tyd kan loop.  Hulle moes dit maar op hulle maag skryf.

Oproepe wat langer as 5 minute geduur het, is van jou salaris verhaal.  As jy moes uitgaan en om een of ander rede vertraag was, was dit ook van jou salaris verhaal.  As iemand saam met jou was met die vertraging, was hulle salaris vir die tyd uit joune betaal.  Desembers was die kantoor gesluit en dan het almal onbetaalde verlof gehad.

Van die gebruike was vreemd om die minste te sê.  As iemand gehoes het, het die bestuur met maskers rondgeloop.  Jou senioriteit was met jou ouderdom bepaal.  Jou kwalifikasies of ervaring het niks getel nie, maar ‘n maand of twee verskil in ouderdom was alles.

Vandag klink dit so onwerklik, maar ek vermoed hulle doen nog dieselfde.  Elke jaar met nuwe personeel, want niemand is bereid om dit op te eet nie.

Het  jy al ‘n baas uit die hel gehad?

Breinvasbrand:  Wanneer word Baas-dag gevier?

Breinlosbrand:  Selene was reg met Suid-Amerika.