Kersweek

22 12 2011

Couples Theraphy

(Rangskik die terme in pare wat by mekaar pas en gee die gemeenskaplike faktor van die groep).

Stille Nacht!;  Stille Nag; Nuit de Paix; Noche de paz; Busuku obuhle; Afrikaans; Duits; Frans; Zoeloe; Spaans.

Gemeenskaplike faktor?





366

22 12 2011

Daar is mense wat glo dat die aarde glo op 21 Desember 2012 gaan vergaan.  Dit is volgens die Meso-Amerikaanse kalender wat na 5125 jaar tot ‘n einde sal kom.  Om watter rede weet geen mens nie.  Dalk het die klip opgeraak, die hele bevolking was dalk deur ‘n pes uitgeroei, hulle het dalk gemigreer en die klippe gelos of dit was dalk net ‘n kind wat moeg geraak het vir sy speletjie.  Ewentwel, dit beteken dus basies dat daar volgens die siening net 366 dae op Moeder Aarde oor is.

Nou wonder almal – sommige hipoteties gesproke – wat maak ‘n mens met die laaste jaar van jou lewe?  Daar is boonop ‘n bonusdag siende dat dit skrikkeljaar is.  Wat beteken dat vrouens mans kan vra om te trou en dat dit ook ‘n Olimpiese Jaar is.  Dalk nog die laaste een ooit.  Gaan die Suid-Afrikaanse spanne ons nou uiteindelik trots maak?  Wag, dit is te algemeen.

Vraag is hoe JY jou laaste 366 dae gaan laat tel.  Wat as eendag nou is?  Alles wat jy vir eendag gelos het, moet nou afgehandel word.  As jy nog wou leer om te salsa of Spaans te praat, moet jy dit nou doen.  As jy nog eendag vrede met iemand wou maak, is dit nou die tyd om die stappe te neem.  As jy nog self Everest wou gaan klim het of persoonlik self jou ogies op die Eiffel toring gaan lê het, moet jy ernstig by ‘n reisagent uitkom.  Daar is nie meer uitstel nie.  Jy tree of NOU op of jy mis uit.

Ek het nogal ‘n vermoede dat die aarde 22 Desember 2012 nog gaan staan.  Ek sal nie eers verbaas wees as die aarde nog in 7137 nog gaan wentel nie.  Ek beplan om horingoud te word, maar ek sal in alle waarskynlikheid dan nie die aarde bewandel nie.  Tensy die storie van Highlander nie net ‘n storie was nie en ek nie myself met ‘n  swaard onthoof nie – maar, wag!  Daar fantaseer ek alweer.

Ek het wel ‘n punt en dit is een of ander tyd gaan ons almal ons laaste 366 dae betree.  En daardie laaste sandglas gaan sonder waarskuwing kom.  Eendag mag opgeskort word voordat ons reg is daarvoor.  Goed wat dus wag vir eendag, moet so gou as moontlik gedoen word of dit is dalk neusie verby.

Tog laat die siening tot die lewe dalk ‘n paar onvernoegde mense wat blase is omdat hulle niks het om na uit te sien nie.  Tog, die mense is altyd ontevrede en daar is altyd nog iets wat nagejaag word.  Dink net aan die stories wat jy dan as ‘n 100 jarige kan vertel.

Herriewysheid:  Leef sonder ‘n eendag, maar tref voorsorg asof jy vir altyd gaan lewe.





Toedraai Klagtes en Gedagtes

22 12 2011

Ek probeer elke jaar by die ware betekenis van ‘n Christusfees uitkom, maar ek is vlak genoeg om ten volle in die kommersiële kant vasgevang word.  Ek koop geskenke vir ‘n plek en ‘n wen.  Ons is immers ‘n baie groot familie.  Dit bring my tot die dilemma van toedraai.

Sien:  die probleem is dat ek twee linkerhande het en my nie eers daaroor skaam nie.  Verder kan geen mens my daarvan verdink dat ek netjies is nie.  Geskenkpakkies is goed en wel vir verjaarsdag, maar wat is Kersfees nou sonder ‘n berg geskenkpapier wat weggegooi moet word?  Buitendien voel mens mos te jammer om die geskenksakkies weg te gooi en te “goedkoop” om hulle weer aan te wend.  Dieselfde geld nie met gewone toedraai manier nie.

Ek  was dus ‘n paar jaar gelede verheug toe daar hier en daar toedraaistasies deur liefdadigheidsorganisasies begin het.  Tot my groot vreugde het die idee versprei en deesdae is daar geen rede hoegenaamd hoekom ek enigsins moet poog om self iets toe te draai nie.  ‘n Wen-wen situasie as daar al ooit een was.  My goed word vir my toegedraai en so word daar sommer ‘n geldjie vir ‘n goeie doel ingesamel.  Dit is wragtig die idee wat gesnydebrood onttroon het.

Tot van die organisasies gulsig geraak het.  Dit het subtiel en redelik begin.  In die plek van ‘n donasie, is daar ‘n sekere bedrag vir ‘n sekere grote geskenk gevra.  Ek kan die rede insien, daar is mense wat ‘n huis en alles wat daarin moet kom laat toedraai en dan net ‘n R2 skenking sal gee.  Dit is nie regverdig nie.  Daardie toedraaiers staan soms die heeldag daar en verdien om ‘n ordentlike bedrag in te samel.  Buitendien het die pryse jou ‘n goeie riglyn gegee van wat jy behoort te gee.

Maar . . . dit raak nou belaglik.  Ek boer (bly) in Brooklyn Mall en doen dan sommer meeste van my inkopies daar ook.  Hulle toedraaiers samel geld in vir Good Morning Angels.  Ek het so ‘n vermoede dat die toedraaiers ook tydelike werkers is – niks fout daarmee as dit boonop werk ook skep nie.  Ek het in die verlede dikwels my pakkies vir hulle geneem, maar die jaar het ek geweier.  Hulle toedraaipryse het by R10 vir ‘n kleinpakkie begin.  Siende dat geskenkpapier ongeveer R16 kos vir 3 rolle en hulle s’n (en die hande) geborg is, noem ek dit uitbuiting.  En nie eers vir ‘n goeie saak laat ek my uitbuit nie.

Ek het my goed alles in my kar gelaai en gery waar tannies gratis vir hulle organisasie die goed toedraai.  Die skenking is aan my oorgelaat en ek glo ek was regverdig.  Hulle doen dit al vir jare en is in elk geval netjieser as die werker van die straat.  Soos gewoonlik is my berg pakkies ook vergesel gewees met koeldrank vir die toedraaiers.

Ek het iets opgemerk wat ek dink spesiale vermelding verdien.  Terwyl ek gewag het vir my pakkies om toegedraai te word, sien ek ‘n Indiër man wat van stasie tot stasie loop.  By elk stasie gooi hy ‘n paar note in die blikkie sonder om iets te sê of te laat toedraai.  Nou dit is ‘n ware skenking vir organisasies wat dit regtig verdien.

Vandag lig ek my hoed vir diegene wat onbaatsugtige werk of skenkings in die Kersseisoen gee.  Die tannies en vrywilligers wat sonder betaling die hele dag in ‘n besige sentrum staan en pakkies toedraai.  Sonder ‘n die bemarking en “naam” wat ‘n bekende radiostasie hulle gee.  En vir al die mense wat skenkings gee sonder om iets terug te verwag.  Ek hoop hulle pluk die vrugte van hulle arbeid.

Breinvasbrand:  Van waar het Kersbome, soos ons dit vandag ken, ontstaan?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Rebecca Wells.