Toedraai Klagtes en Gedagtes

22 12 2011

Ek probeer elke jaar by die ware betekenis van ‘n Christusfees uitkom, maar ek is vlak genoeg om ten volle in die kommersiële kant vasgevang word.  Ek koop geskenke vir ‘n plek en ‘n wen.  Ons is immers ‘n baie groot familie.  Dit bring my tot die dilemma van toedraai.

Sien:  die probleem is dat ek twee linkerhande het en my nie eers daaroor skaam nie.  Verder kan geen mens my daarvan verdink dat ek netjies is nie.  Geskenkpakkies is goed en wel vir verjaarsdag, maar wat is Kersfees nou sonder ‘n berg geskenkpapier wat weggegooi moet word?  Buitendien voel mens mos te jammer om die geskenksakkies weg te gooi en te “goedkoop” om hulle weer aan te wend.  Dieselfde geld nie met gewone toedraai manier nie.

Ek  was dus ‘n paar jaar gelede verheug toe daar hier en daar toedraaistasies deur liefdadigheidsorganisasies begin het.  Tot my groot vreugde het die idee versprei en deesdae is daar geen rede hoegenaamd hoekom ek enigsins moet poog om self iets toe te draai nie.  ‘n Wen-wen situasie as daar al ooit een was.  My goed word vir my toegedraai en so word daar sommer ‘n geldjie vir ‘n goeie doel ingesamel.  Dit is wragtig die idee wat gesnydebrood onttroon het.

Tot van die organisasies gulsig geraak het.  Dit het subtiel en redelik begin.  In die plek van ‘n donasie, is daar ‘n sekere bedrag vir ‘n sekere grote geskenk gevra.  Ek kan die rede insien, daar is mense wat ‘n huis en alles wat daarin moet kom laat toedraai en dan net ‘n R2 skenking sal gee.  Dit is nie regverdig nie.  Daardie toedraaiers staan soms die heeldag daar en verdien om ‘n ordentlike bedrag in te samel.  Buitendien het die pryse jou ‘n goeie riglyn gegee van wat jy behoort te gee.

Maar . . . dit raak nou belaglik.  Ek boer (bly) in Brooklyn Mall en doen dan sommer meeste van my inkopies daar ook.  Hulle toedraaiers samel geld in vir Good Morning Angels.  Ek het so ‘n vermoede dat die toedraaiers ook tydelike werkers is – niks fout daarmee as dit boonop werk ook skep nie.  Ek het in die verlede dikwels my pakkies vir hulle geneem, maar die jaar het ek geweier.  Hulle toedraaipryse het by R10 vir ‘n kleinpakkie begin.  Siende dat geskenkpapier ongeveer R16 kos vir 3 rolle en hulle s’n (en die hande) geborg is, noem ek dit uitbuiting.  En nie eers vir ‘n goeie saak laat ek my uitbuit nie.

Ek het my goed alles in my kar gelaai en gery waar tannies gratis vir hulle organisasie die goed toedraai.  Die skenking is aan my oorgelaat en ek glo ek was regverdig.  Hulle doen dit al vir jare en is in elk geval netjieser as die werker van die straat.  Soos gewoonlik is my berg pakkies ook vergesel gewees met koeldrank vir die toedraaiers.

Ek het iets opgemerk wat ek dink spesiale vermelding verdien.  Terwyl ek gewag het vir my pakkies om toegedraai te word, sien ek ‘n Indiër man wat van stasie tot stasie loop.  By elk stasie gooi hy ‘n paar note in die blikkie sonder om iets te sê of te laat toedraai.  Nou dit is ‘n ware skenking vir organisasies wat dit regtig verdien.

Vandag lig ek my hoed vir diegene wat onbaatsugtige werk of skenkings in die Kersseisoen gee.  Die tannies en vrywilligers wat sonder betaling die hele dag in ‘n besige sentrum staan en pakkies toedraai.  Sonder ‘n die bemarking en “naam” wat ‘n bekende radiostasie hulle gee.  En vir al die mense wat skenkings gee sonder om iets terug te verwag.  Ek hoop hulle pluk die vrugte van hulle arbeid.

Breinvasbrand:  Van waar het Kersbome, soos ons dit vandag ken, ontstaan?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Rebecca Wells.


Aksies

Information

3 responses

22 12 2011
J W W

Soms, word ek herhinner aan ‘n engelse ding wat ek gehoor het eens op ‘n tyd:

“If we are here to help others, what the hell are the others here for?”

Ek meen, dink so daaraan, die armes en elendiges word net al hoe meer, elke dekade, en die wereld moet al hoe meer spandeer om mense wat nie bydra tot die ekonomie aan die lewe te hou, is dit nie ook ‘n feit dat daar al 7 BILJOEN mense op die aarde is?

22 12 2011
Olga

Livonia en estonia.
Ek het vanjaar nie eers gesien wat hul vra om n geskenk toe te draai nie. Ek woon in die laeveld waar elke situasie uitgebuit word om al jou geld in te palm.

22 12 2011
MaanKind

Ek hóú van die manier waarop jy dink. Elke keer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: