Seevakansie

29 12 2011

Almal wil in die see speel

Dit is die bitch in my wat praat.  Vir baie Suid-Afrikaners is dit tradisie om aan die einde van elke jaar tassies te pak en ‘n paar dae by die see te gaan afpak.  In baie gesinne word daar pligsgetrou elke maand ‘n paar rand eenkant gehou vir die bederfie van ‘n week of twee langs die strand.  Niks verkeerd daarmee nie.  Dit is tog hoe dit behoort te werk.

Van waar ek egter sit lyk dit vir my of amper elke Jan Rap en sy maat by die see sit.  In Desember (hoogseisoen) vir weke lank.  Ander se bankstate is maar duister, maar tog kan ek nie help om te wonder nie.  Ek gun elke mens om soms hulle voete in die see te gaan afspoel, maar dit is en bly ‘n luukse (behalwe as jy met jou een voet op ‘n piesangskil staan en nog nooit die see gesien het).  ‘n Luukse:  iets waarsonder jy goed oor die weg kan kom as dit moet.  Spaar is een ding, maar ten koste van wat?

Ek is dalk konserwatief in daardie opsigte, maar op my lys van prioriteite kom ‘n vakansie na ‘n mediesefonds, versekering en voorsiening vir my ou dag.  Die laasgenoemde is ‘n vraatsige wolf en ek doen seker nog lank nie genoeg daaromtrent nie, maar daar is darem ‘n goeie begin.  Dit gaan my verstand te bowe hoe mense wat nie die bogenoemde (en ander noodsaaklikhede) in plek het nie, jaar na jaar vir weke lank kan gaan vakansie hou.  In Desember wat verseker die duurste tyd van die jaar is.  Ek meen, dit is nou nie ‘n vinnige wegglip naweek net om ‘n bietjie seelug te gaan inasem nie.

Dit is my siening gebore uit my ervaringe.  Ander mense het dalk ‘n baie goedkoop manier om dit reg te kry.  My idee van ‘n seevakansie is nie om in die oggende wakker te word, af te slenter strand toe, die heeldag daar te lê en dan wanneer die son sak terug te slenter nie.  Ek sal foto’s gaan soek, alles wat die omgewing bied gaan uitprobeer (museums, akwariums, reservate).  As ek nooit op die strand self kom nie, sal ek nie eers gepla wees nie.  Ek gaan beslis nie my aandete in die see vang nie en die kanse dat ek enigsins vir myself gaan kos maak, is maar skraal.  Ander mense sal my idee as lasterlik beskou.

As ‘n mens deur tydskrifte blaai, blyk dit asof mense graag by kennisse en verlangse familie gaan afpak vir die vakansie.  Sonder om soveel as ‘n brood tot die huishouding by te dra nie.  Dit laat dan basies net jou reiskostes en reputasie om te betaal.  Is mense regtig jaar na jaar so onbeskaamd dikvellig?

Wat is jou idee van die ideale seevakansie?  Hoe begroot jy daarvoor?  Beskou jy ‘n seevakansie as ‘n noodsaaklikheid of ‘n luukse?