Net een klap

12 03 2019

25837_25844_25057_25839_25849_25845x

Man, jare gelede was daar mos hierdie feetjie wat uit my kas getuimel het.  Letterlik – dit was een keer in ‘n dekade wat ek ‘n poging aangewend het om netjies te maak en ‘n feetjie gekry het om dit te berou.

Nadat sy my geduld tot die uiterste beproef en my laat kop krap soos min ander, het sy eendag besluit dat dit tyd is dat sy aanbeweeg.  Ek was nie seker of ek bly of verlig moes wees nie.  Die tyd wat sy by my gebly het was interessant.  Tog moet ‘n mens onthou dat dit ‘n Chinese vloek is om in interessante tye te bly.

In elk geval, toe ek nou die dag by die huis kom, is juffrou sak en pak terug.  Sy het my sonder seremonie uit my bed geboender en skielik moes ons weer kyk wat sy wou kyk.  Ek wou nog vra vanwaar gehasie, maar ek is dadelik verwyt of sy dan nie welkom is nie.  Mens kan nie wen nie.

Ek het darem meer geduld as die gewone mens en ek het geweet dat dit net ‘n kwessie van tyd is.  Dit verskaf die feetjie mos oneindige plesier om met my skaak te speel.  Sy het nie eers ‘n skaakbord of skaakstukke nodig om my tussen die duiwel en die diep blou see te sit nie.  Helaas, het ek nog nie geleer swem nie, maar ek sal probeer om die duiwel te versuip.

Sy het al die seisoene van haar gunsteling programme deur gedraf en dit was nie lank nie, toe is sy iesegrimmig omdat ek nie die nuutste seisoen gehad het nie.  Die dikbekkigheid het oorgewaai en toe is sy verveeld.  Verveeld en opsoek na ‘n gek.

Jy kry een klap.” kondig die feetjie vernaam aan.

Klap aan my en jy gaan dit berou!” waarsku ek voortydig.  Ek meen, daar is grense en seker grense mag niemand oortree nie.

Daar rol haar ogies asof dit wiele aan ‘n resieskar is.

JY kry een klap . . . om uit te deel!” verduidelik sy verergd.

In my beste Afrikaans vra ek “Huh?”.  Sy mag irriterend wees, maar ek soek nie die dood van ‘n feetjie op my gewete nie.

As jy een ding kan regklap, wat sal jy regklap?”

Net een ding!  Die verbrande fee.  Hoe kies ek net een ding om in hierdie land van ons reg te klap.  Waar begin ‘n mens?  Wat sal julle graag wil regklap?

Breinvasbrand:  Wat was Peter Pan se feetjie se naam?

Breinlosbrand:  Vuurvliegie was reg met Video Killed the Radio Star.





1 Week as ‘n vlieg

17 10 2012

Jy kan vir een week ‘n vlieg op iemand se muur wees. Wie sal jy kies en hoekom?

Ek kies die Jolie-Pits. Hoekom? Wel met ses kinders wil ek graag sien wat in daai huis houding aangaan! Hoe laat word hulle wakker… eet hulle saam ontbyt? Wanneer is aandete? Is daar orde in die huis! Waar slaap almal… is hulle netjies!? Kom hulle oor die weg… want oor die algemeen sukkel boeties en sussies met mekaar, en as jy van verskillende dele van die wêreld af kom met baie geld en roem agter jou… laat dit mens wonder hoe hulle as kinders is.

Hierdie was glo ‘n huis wat die groot gesin gehuur het… ek sal LOVE om net deur die mansion te stap, wat nog van daar te bly!

PS: Dit kan enige tyd wees… so as jy wil weet wat in Paul Kruger se huis gebeur het donkie jare terug, mag jy! Want die genie het vir jou die wens gegee vir ‘n week! 🙂 Vra sommer asb vir die oud Pres waar sy Kruger rande weg kruip? 😉





Een antwoord

23 04 2012

Soos julle weet het ek verlede jaar mos ‘n plakker verniet gekry.  Asof die hekse nie erg genoeg is nie, het daar ‘n Juffrou Fee haar tuis kom maak om te verseker dat ek voor my tyd grys word.  Gelukkig vermaak sy en Laviga mekaar wat my darem ‘n bietjie vrede vir my siel gee. 

Nou die dag hoor ek ‘n gegiggel in die kas.  My bloed het eers in my are gevries, glo my, as jy aan hulle gewoond was sou jou bloed ook gevries het.  Hulle is kapabel en verf jou klere alles vol vlerkies of iets.  Met my kwaaiste gesig gooi ek die kasdeur oop om te verneem wat presies vang hulle aan.  Daar sit die twee, ewe onskuldig met ‘n boek. 

Ek het so ‘n bietjie gehik toe ek op my rug val.  Verstaan mooi, beide die juffroues vermy boeke asof dit een of ander aansteeklike siekte is.  Dat hulle in een rondkrap, oënskynlik besig om te lees.  Ek kom toe maar steunend regop en vis nuuskierig oor watse boek dit is. 

“Hie Hie Hie!!” giggel die heks.  Dit is wragtig ook al wat ek van haar gaan kry.

Die feetjie is darem ‘n bietjie meer behulpsaam.  “Die boek van alle geheime?”

“Watse geheime?” vra ek.  Ek is mos nie verniet Xena Nuuskierig Phoenix nie.

“Alle geheime.”  giggel die feetjie. 

Ek wil-wil my vererg, maar dit gaan net water op haar meul wees. 

“Kan ek sien?” vra ek toe maar heel beleef.

“Nee, dit is ‘n geheime boek waarin mense nie kan kyk nie!” wys die verbrande feetjie my plek aan my uit. 

“Druk dit!” brom ek verergd en staan op om ‘n plan te beraam van hoe ek die vervlakste boek ‘n bietjie kan leen. 

“Ek kan jou een vraag beantwoord uit die geheime boek, maar net een!” vertel sy my streng. 

“n Vraag soos wat?” vra ek half ongeskik. 

“‘n Vraag waarvoor die mens nog nooit ‘n antwoord kon uitdink nie.” glimlag sy.  “‘n Nuwes ook, maar net een vraag.”

Hmmm, ingeval ek daardie boek nie in my gretige hande kan kry nie, watter onbeantwoorde vraag kan ek die fee vra?





Feetjie Gat

24 06 2011

Geskok steek ek gistermiddag voor my huis vas.  Waar daar voorheen ‘n tuin was, staan daar nou ‘n massiewe groot berg.  Waaroor ek moet klim as ek in vrede binne wil gaan koud kry.  Klim, met stewels wat gemaak is vir ‘n sypaadjie en ‘n spul inkopies by my.  Ek het dit eintlik half oorweeg om ‘n hotel te gaan soek, maar almal weet mos dat ek Xena Nuuskierig Phoenix is.

So is ek toe oor die berg, net om te sien dit is die heks en die feetjie wat so ywerig die berg bou.  Ek wil-wil my nou ook sommer wip, regtig, ek weet ek kort oefening, maar ‘n berg?  Elke oggend voor sonop en elke aand na sononder?  Die juffrouens was seker by die OBS in gewees.  Ek kry toe net daar stilstuipe en verdwyn eerder by die huis in.  Ek moes toe in elk geval dink hoe ek die twee gaan kry om die gat toe te maak.  Of dan ten minste waar ‘n mens bulldozers huur.

Ek het skaars my oë gesluit (dit het so gevoel) toe spring die twee op my bed rond so al asof hulle nie die hele aand gegrou het nie.  Is ‘n klein bietjie rus en vrede nou regtig te veel gevra?

“Jy moet kom kyk!” jubel die feetjie

“Ons het ‘n berg gegat” vertel die heks trots.

Soos wat die fee my uit die bed pluk, neem die heks dit sommer oor.  Ek het nog nie eers my pantoffels aan nie, toe snork sy al lustig.  Daar gaan enige verdere drome voor dagbreek.  Wat dalk goed is, as ek die berg moet oor, moet ek my in elk geval roer.  Half aan die slaap boender die fee my uit en amper tuimel ek in ‘n gat af.

“Wat op aarde het julle aangevang?” grom ek.

“Ons het ‘n diep gat gemaak.” lag sy.

“Ek sien so.  Waarom het julle die gat gegrawe.”  Ek kyk darem rond of hulle nie ‘n skat uitgegrawe het nie.  Die fee het tog nie ‘n skat nodig nie en die heks gaan tog net alles uitdeel.  Sy kan dit netsowel aan my uitdeel.

“Want jy moet kies!”  Nou dit is heeltemaal genoeg om my dadelik helder wakker te maak.  Die blerrie fee met haar blerrie keuses.

“Wat nou weer?”

“Jy kan een iemand en net een iemand by die gat afgooi.  Jy vertel my net die naam en ek toor hom hier.  Daarna sal die gat saam met hom verdwyn.”

Hmmm – net een mens?  Wie stel julle voor vir die gat?





Weer Waarborg tyd

22 02 2011

Julle weet daardie dae wat ‘n mens net heeldag loop en knor?  Dit is dalk die probleem met die hele evolusie teorie.  Mense het nie van ape afgestam nie, maar van bere.  Ek het nog nooit ‘n aap gesien knor nie.  Toegegee, ape word nie met parmantige feetjies opgesaal nie.  As ek haar gevang kry, pos ek haar wragtig Barcelona toe sodat ek rus en vrede kan hê vir ‘n paar dae.

Nou die dag kom ek doodonskuldig by die huis terwyl sy besig is om TV te kyk.  Ek vra julle nou met trane in my laventel pers oë, van wanneer af kyk feetjies televisie.  Nie watse televisie nie, nee die juffrou het kanale na al die geweldgeteisterde dele van die wêreld.  Vasgenael sit sy en kyk na al die moord, marteling en doodslag.  Boonop tjank sy nog emmersvol daaroor ook.

Ek was nie lus vir iemand wat haar eie verdriet veroorsaak nie en ek sit toe die TV af vir ‘n bietjie rus en vrede saligheid.  Groot fout.  Baie groot fout.  Die dametjie het toe mos nou iemand wat na al haar Jeremias kan luister.  Ek brom net af en toe iets dat sy kan dink dat ek luister, toe sy die vloermoer van alle vloermoere gooi.  Ek het verkeerd gebrom.

Na baie paai en mooi praat kom dit toe uit dat ek weer ‘n keuse van ‘n waarborg het.

Feetjie:  “Kies!”

Ek:  “Wat moet ek kies?”

Feetjie:  “Waarborg.”

Ek (spyt dat ek my aan die vloermoer gesteur het):  “Ek het mos laas ‘n waarborg gekies, onthou jy nie?  Wil jy nie eerder in die tuin gaan speel nie?”

Feetjie: “Jy is altyd lelik met my.  Ek is jou eie persoonlike feetjie en jy wil my net weg hê.”

Ek kyk so in die spieël agter haar en sien duidelik “Sucker” op my voorkop.

Ek:  “Dit is nie waar nie.  Wat moet ek kies?”

Feetjie:  “Jy wil nie.”

Ek: “Natuurlik wil ek.  Kyk, net hoe nuuskierig is ek.  Die heks wil dit bottel en gaan verkoop vir rooi koeldrank.  Sy sal nie eers vir ons ‘n slukkie gee nie.”

Daarvoor word ek darem met ‘n flou glimlaggie beloon en dan is al die ondeundheid weer terug.

Feetjie:  “Onthou jy moet betaal daarvoor.”

Ek:  “Ek weet, ek moet jou vertel hoekom.  Wat is die keuse?”

Feetjie:  “Liefde of vrede”

Hoekom het ek enigsins huistoe gekom.  Hoe sou jy die feetjie antwoord en hoekom sou dit jou keuse gewees het?





Verpligde vakansie

27 01 2011

Dit is een van daardie oggende.  Die wekker was net te lank gesnooze en jy is hopeloos laat vir werk.  Jy vloek so onderlangs oor die algehele gebrek aan vakansie dae in Januarie en wens jy kan nog net 5 minute slaap.  Die vorige “5 minute dutjies” was net nie genoeg nie.  Jy kan maklik nog net 5 minute tot middagete toe.

Brom-brom is jy onder die stort in, waar jy sommer ook moet tande borsel om tyd te spaar.  Jy trek aan, besluit jy sal sommer ontbyt by die werk kry en begin na jou sleutels soek.  Hoekom loop die goed altyd in die middel van die nag rond?  Jy begin soort van jou gat in in rat kry vir die dag en dan val jy met ‘n slag oor ‘n stapel tasse in die gang.  Voordat jy nog die dekselse feetjie kan verwens, stamp jy jou kop teen die voordeur en dan sien jy net sterre.  Wat haar goed pas, want nou kan sy wegkruipertjie speel.

“Wat de duiwel gaan hier aan?” bulder jy, dalk met ‘n paar versterkende woorde aan.

“Ek wil gaan vakansie hou!” antwoord sy jou asof jy op jou kop geval het.  Wat, as jy my sal vergewe, presies die geval is.

“Nou gaan op vakansie, wie keer jou” skree jy met frustrasie.  ‘n Mens kan net soveel vat van ‘n pyn in die nek, al is die pyn in die nek ‘n engel.  “Wat de joos doen my tasse in die gang?”

Sy kyk jou vir ‘n oomblik onhuts aan.  “Maar jy moet saamgaan.”

“Nee, ek moet by die werk kom en jy het my nou behoorlik laat gemaak.”

Haar onderlippie begin bewe en sy kyk jou met sulke groot oë aan, net genoeg dat jy jou ongeduld berou.  “Ek mag nie sonder jou iewers gaan nie.  Die Feetjiekoningin sal baie kwaad wees en jy het self gesê dat jy wens dat jy vakansie kan gaan hou.”

Sy het natuurlik ‘n punt beet, maar verantwoordelikheid roep.  Jou arm is al so halfpad rubber en sy kom dit agter.  “Ag toe??  Ek sal maak of ek ‘n dokter is en jou baas vertel jy is afsiek.”

‘n Vakansie klink al hoe beter, maar jy weet daar is ‘n vangplek.  Niks is mos verniet nie.  “Laat ek hoor.” sug jy maar oorwonne.  Op vakansie gaan jy op vakansie, of jy nou wil of nie.

“Moet ons Himalayas of Antarktika toe gaan?  Hoekom?”

Hoe sou jy geantwoord het as dit jou orige feetjie was?





Kies ‘n waarborg

19 01 2011

‘n Paar weke gelede het jy ‘n feetjie ontdek terwyl jy ‘n bietjie reggepak het.  Jy het jou keuse gemaak, maar nooit besef dat jy saam met die wens ‘n permanente loseerder gekry het nie.  Sy eet nou nie juis veel nie, maar sy kan lastig wees.  Amper soos ‘n muskiet wat om jou ore zoom.  Niemand wil ‘n moord van ‘n feetjie op hulle gewete hê nie, dus het jy nie juis ‘n keuse nie.  Jy moet nou maar tande kners en onthou dat sy jou die avontuur van ‘n paar leeftye gegee het. 

So sit jy een aand met ‘n boek waarna  jy weke lank uitgesien het.  Jy kom nie juis verder as ‘n paar sinne op ‘n slag nie, dan kom haar klokkiesstem tussen in.  Jy probeer haar ignoreer, maar dan spring sy orals op die bladsy rond.  Jy gaan kruip selfs later in die badkamer weg, maar jy het vergeet dat die woord privaatheid nie in haar woordeskat bestaan nie.  Verergd klap jy die boek toe en gee haar ‘n kyk wat die dode sal opwek.  Nie dat sy haar daaraan steur nie.

“Wat?” blaf jy kortaf.

“Ek is verveeld.” giggel sy ondeund.

“Lees ‘n boek.” brom jy maar die juffroutjie het ander planne. 

“Ek hou nie van lees nie.”  lag sy.  “Ek wil speel.”

Jy kan nie aan ‘n ander slagoffer dink nie en moet haar maar gelate haar sin gee.  ‘n Mens wil nie eers ‘n irriterende fee afpis en teen jou draai nie. 

“Wat wil jy speel?”  As jy haar dalk besig kan kry, kan jy miskien jou boek in vrede lees.

“Ek het vir jou keuse.” kondig sy vernaam aan. 

“Ek dog ek kry net een wens.” sug jy.

“Ja, maar die keer sal ek vir jou ‘n waarborg gee.” giggel sy.

“Seker teen ‘n prys.” grom ek.

“Ja, niks is verniet nie.  Jy hoef my net te vertel hoekom.” Die feetjie tree wragtig soms soos ‘n tweejarige kind op.

“Wat is die keuse?” vra jy, teen jou sin geinteresseerd.

Skielik is die feetjie ernstig.  “Ek kan vir jou een waarborg gee wat jou hele lewe lank sal geld.  Moet ek jou geluk of jou gesondheid waarborg?”

Wat sal jy kies en hoekom?