5 minute te laat en geskiedenis is in as

16 04 2019

images3164XL2Q

‘n Paar jaar gelede was ek bevoorreg genoeg om in Parys te gaan draai.  Die vooruitsig het my nou nie sprakeloos van opwinding gemaak nie.  Nogtans, dit is Parys en ek wou die geleentheid nie vermors nie.  Ek wou die Mona Lisa met my eie oë sien, ek wou die Eiffel Toring opvaar en ek wou Quasimodo speel.  Ek het so effens vergeet van die catacombs.

In elk geval, ons vaar Frankryk binne met die Eurostar.  Ons beplanning was agter mekaar:  ons sou ons bagasie by die hotel gaan afgooi en dan na die Notre Dame gaan.  Klaarblyklik is die toue meer doen baar in die middag.  So gesê (met ‘n klein gesukkel om die hotel te kry), so gedaan.  Ons het nie juis gesukkel om die Notre Dame op te spoor nie.

Ons loop nogal verby die ry aan die kant van die kerk.  Die lengte stem min of meer ooreen met ‘n ry vir ‘n kassier op ‘n Saterdag laat oggend oor maandeinde.  Nou nie ‘n plesier nie, maar doenbaar.  Om die hoek van die kerk sien ons die tou wat ons sterk herinner aan die 1994 verkiesing.  Wel, ons was gewaarsku.  Ons gaan val maar gedwee in die ry en omtrent ‘n uur en ‘n half later is ons in die kerk.

Binne die Notre Dame besef ons toe mos dat ons by die verkeerde ry ingeval het.  Die ry vir die toring is die een aan die kant van die kerk.  Grrr, ons is toe reeds in die kerk en het gou vinnig daar uit.  Raai wat?  Daar mis ons die afsnypunt met 5 min.

Wel, dit was nou maar daar-na-toe.  Ons was nogtans in Parys en ons het toe maar na die Arc de Triomphe.  Dit was wel soos ‘n lastige stukkie vleis wat in jou tande vassit.  Die beste flos was die onderneming om een dag terug te gaan en die toring te trappe te klim.  Iets wat ek inderwaarheid die jaar wou verwesig.  Was dit nie vir 15 April 2019 nie.

3000

Kan ek dit die grootste tragedie sedert 2001 noem?  Die Notre Dame is ‘n Katolieke Kerk, maar dit het nie net Katolieke en Protestante in vervoering gehad nie.  Almal het dit gerespekteer en bewonder.  Alles, behalwe ‘n vlammetjie wat iewers ontstaan het en die hele gebou amper in puin gelaat het.

Dit kan herbou word en die torings staan nog.  Dit gaan egter nie dieselfde wees nie.  Skielik is ek van vooraf spyt oor daardie 5 minute.  Siende dat die torings nog staan en ek dit in elk geval gemis het, is ek sommer spyt dat ek deur die kerk gejaag het.  Het ek genoem dat ek al my foto’s van die vakansie verloor het?

Tipies van die leier van die Paashaasbende.  Kerm oor foto’s terwyl die wêreld toegekyk het hoe een van die grootste monumente verbrand.  Hoe weerloos is die mens en sy wêreld nie teen die element van vuur nie?  Die Notre Dame het die Franse Revolusie en Tweede Wêreld oorlog oorleef.  Net om in 2019 verbrand te word.  Klaarblyklik uit niks.

So kom alles tot niks.

Breinvasbrand:  Wat beteken Notre Dame?

Breinlosbrand:  Vuurvliegie was die regste.  Ek het droog gemaak met die vraag.  Felicity Huffman het nog nooit ‘n Oscar gewen nie, maar sy was vir Transamerica benoem.

 


Aksies

Information

6 responses

16 04 2019
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre

Ons twee pieker oor dieselfde aspek, dat die grbou soveel kon oorleef en moderne mens se manier van doen heel moontlik dit staan en vernietig het. Groetnis.

16 04 2019
HesterLeyNel

Dit is ‘n absolute tragedie. 850 jaar se geskiedenis deurstaan en nou is dit bykans uitgewis. Ek is bly hulle kon darem heelwat van die kunswerke in die kerk red. Notre Dame – Our Lady (Moeder maria)

16 04 2019
Toortsie

Dit is regtig tragies. Ek was bevoorreg om twee keer deur die kerk te kon stap, het nooit met die toring opgegaan nie. Het ek dalk nie geweet dat ‘n mens dit kan doen nie? Ag, dis regtig jammer. Ek moet sê, ons gaan gewoonlik ook maar vinnig deur ‘n gebou.

16 04 2019
sonell

Dit is bitter hartseer.

12 05 2019
Olga

Blykbaar het ‘n hout kruis ongeskonde gebly in al die verwoesting.

21 08 2019
Nikita

My sus en haar man het bietjie die kant van die water kom kuier vir 2 weke en toe toer hulle vir 2 weke in Frankryk&Holland en het Parys natuurlik ook besoek. Ook met die Eurostar daar gearriveer en kon natuurlik nie by die Notre Dame ingaan nie. Oor die algemeen was hulle half teleurgesteld – ek dink hulle het meer van Parys verwag – hulle het die Mona Lisa gaan sien. Amsterdam was baie teleurstellend (volgens my sus) – sy se jy hoor min Nederlands op die strate – ook maar soos London nou, ook ‘n kosmopolitiese wereldstad. Ek was self nog net een keer ‘oor die grens’ na Frankryk – maar nog nie Parys self nie.

Lewer kommentaar