Gesoek: ‘n Vermaaklike Radio Stasie

11 03 2019

INA_8511

Ek kan dalk nog ‘n kar sonder ‘n stuurwiel indink, maar beslis nie een sonder ‘n radio nie.  Genade, is dit ooit moontlik om in doodse stilte te bestuur?  Daar is natuurlik diegene wat glo dat dit die enigste manier is, maar ek kan (wil) nie.

Die meeste karradio’s is gaaf genoeg om ‘n CD speler, USB port en Bluetooth te hê.  Ek is dus in staat om om self ‘n platejoggie te wees.  Wat ek wel doen as ek lang afstand ry.  Tog – siende dat ek net Noot vir Noot op TV kyk – wil ‘n mens tog in voeling met die wêreld bly.  Ek wil weet wat huidiglik die geur van die maand is, ek wil weet wat in die nuus aangaan (indien ek dit op sosiale media gemis het), wie konsert gaan kom hou en waar daar verkeersprobleme is.  Ek soek ook musiek – goeie musiek.

Deesdae is radio nogal ‘n irritasie.  Ek het met Jakaranda groot geword en nog nooit rede gesien om te verander nie.  Toegegee, daar was ‘n tyd wat ek soggens na Highveld toe oorgeskakel het, maar nadat die oggend omroeper vervang was, het ek maar eerder my niere met Jakaranda gaan vergruis.  Ek verstaan almal het nie ‘n gesig vir TV nie, maar kan hulle dalk ‘n stem vir radio hê?

Ongeag dit Jakaranda of Highveld is – ek is gatvol vir omroepers wat so vol van hulle self is dat ek enige oomblik ‘n knal verwag.  Met soveel eie waan, moet hulle een of ander tyd bars.  Ek kan my eie mening oor iets vorm, dit hoef nie in my keel afgedruk te word nie.  Ek hou natuurlik van ‘n goeie debat, maar dit is net ‘n goeie debat as die ander kant van die argument ook gehoor word.  Niemand het tyd om na ‘n hele program te luister nie en dit is ongevraagd om luistenaars (lees kliente) daaroor uit te vreet.  Net so kan almal nie hulle telefone vir die omroepers se gerief beman nie.

Die voorafgaande paragraaf is terloops iets wat omtrent by alle radiostasies voorkom.  Dit is beslis ook nie vermaaklik as ‘n volwasse man soos ‘n stout seun probeer op tree nie.  Dit is irriterend.

So . . . ek soek ‘n nuwe radio stasie.  Ek soek ‘n radiostasie wat op musiek fokus en dalk heelwat trivia gee.  Moet net nie strooi as feite verkoop nie.  Ek wil iets hoor wat ek nie weet nie, maar onthou ek weet baie.  Ek hou nie van praat radio nie en ek hou daarvan om heelwat Afrikaans te hoor.  Ek wil nie dieselfde advertensie die heeldag hoor nie.  Ek hou van ‘n omroeper wat sy mening lug, maar nie forseer nie.  Ek hou van nuusbrokkies af en toe en verkeersberigte waar ek ry sal ook waardeer word.  Ek ry baie in Gauteng rond en ek wil dekking in die hele Gauteng hê.

Is daar so ‘n stasie in Gauteng?

Terloops, ek sien Jakaranda na-aap Smile FM skaamteloos.  Ek luister graag na Smile in Kaapstad, dus weet ek dat hulle lank voor Jakaranda Secret Sound gehad het.  Hulle het ook lank voor Jakaranda Rubbish Riddle gehad.  Daar was ander goed ook, maar ek het dit al vergeet.

Hoe voel julle oor Radio?

Blogvraag:  Waaruit kom die volgende woorde:  “And now we meet in an abandoned studio, We hear the playback and it seems so long ago, And you remember the jingles used to go . . . ”

 





Internasionale dag vir Vroue

8 03 2019

imagesKXNE9N64

Ek bewonder vrouens wat gatskop.  Daar is immers ‘n rede hoekom ek die naam Xena gaan kies het.  Letterlik gatskop is goed en gaaf, maar kom wees eerlik.  Dit is nou nie juis iets waarop vrouens hulleself kan roem nie.  Nie dat ‘n mens noodwendig geweldadig of aggressief moet wees om behoorlik gat te kan skop nie.  (Ek het amper die fout gemaak om te sê dat ‘n vrou nie sterk is nie.  Gmph!  Daar is ‘n rede hoekom vrouens kinders in die wêreld bring).

Dit laat my nou dink aan “Fiela se kind” (van Dalene Matthee vir die met ‘n gat in hulle opvoeding) waar Benjamin in ‘n grot lê en sulk oor matige bliksems.  Hy besin oor die mag van die vrou wat anders is.  Listiger.  Iets wat hy dikwels in Fiela en Nina gesien het, maar net een keer in Barta.  Die listige mag wat hom wel die moed gee om uit die grot te kruip en met sy lewe aan te gaan.

Ek het vanoggend ‘n artikel raak geloop van hoe vroue proteste ‘n verandering gemaak het.  Goed, ons geskiedenis vier ook ‘n vroueoptog, maar daar het nie juis veel daarvan gekom nie.  Soos enige goeie Suid-Afrikaner weet – ‘n optog beteken niks as jy nie ook iets afbreek of afbrand nie.  Selfs dan – jy kry media dekking en – as jy gelukkig is – leë beloftes.

Ek kon egter nie help om te giggel oor vrouens wat oorloë gestop of beinvloed het met die oudste manipulasie in die boek nie.  Julle weet, die bene wat toeklap en toebly tot mevrou anders besluit.  Oorloë.  Daar word dikwels gesê as vrouens die wêreld regeer, sal daar minder bloedvermorsing wees.  Uhm.  Die tannies het seker net nie genoeg belangestel om dit stop te sit nie.

In die 1600’s het die Iroquois vroue aangedring om ‘n vetoreg in oorlog te hê.  Die mans was natuurlik beterwetig, maar hulle het glo gou van plan verander toe hulle koud moes gaan slaap.

Die plan was in 2003 deur die vroue van Liberië herhaal.  Hulle het besluit dat daar geen seks sal wees totdat die burger oorlog tot ‘n einde kom nie.  Vir hulle moeite het hulle nie net vrede gekry nie, maar ook Afrika se eerste vroue president.

Mens sou dalk dink dat bendes dalk meer weerstand kan bied.  Vroue in Pereira, Colombië het in 2006 besluit dat hulle moeg is vir ‘n moordkoers dubbel die nasionale gemiddeld.  Hulle bene het toegeklap in ‘n poging om hulle mans te oortuig om van hulle wapens ontslae te raak en beroepsopleiding te ondergaan.  Die moordkoers het glo in 4 jaar met meer as 26% afgeneem.

Ek het my gunsteling tot laaste gebêre.  Die tannies in Ysland, het in 1975 gestaak.  90% van die vroulike bevolking het gevoel hulle waarde word geminag.  Hulle wou dieselfde betaling kry as mans en hulle wou in die regering verteenwoordig word.  Hulle het vir ‘n volle dag absoluut niks gedoen nie – nie by die werk nie en nie by die huis nie.  ‘n Jaar later is daar geslagsgelykheid wetgewing uitgereik wat diskriminasie by die werksplek gestop het.  In 1980 het Ysland hulle eerste vroulike president gehad.

Die swakker geslag?  Watwou!  Buidendien weet almal wat agter elke suksesvolle man staan.





Een groot getewery

7 03 2019

Angry dog

Wat noem ‘n mens ‘n blog wat van meer as ‘n 1000 artikels in jaar tot net 8 artikels in 2018 geval het?  Gevrek?  ‘n Monument?  ‘n Vermorsing van goeie kuberspasie?  Ek weet nie.  Persoonlik noem ek dit Herriemerrie.  Daar is nog ‘n Merrie (Kleinmerrie is al 7 en daar is ook intussen ‘n Wildemerrie) en sy is nog vol herries, maar as die gewoonte eers slapgelê is, dan vat dit besonders baie moeite.

Van die os, na die jas – as daar nou een ding is wat my niere vergruis, is dit daardie arme mense wat onder die staat se sorg vergaan het van die honger.  In vandag se tyd.  Snaaks, toe hulle nog kon skop, het niemand regtig omgegee nie.  Nou word hulle as ‘n wapen en ‘n goue gans ingespan.  Moet my nie verkeerd verstaan nie.  Diegene wat verantwoordelik was, hoort agter tralies.  Nogtans, dink ek dat die uitbetalings nie aan die pasiente se families moet gaan nie.  ‘n Mens gaan tog nie binne ‘n dag of twee dood van die honger.  Waar was die liefdevolle familielede toe die arme mense nog gehelp kon word?  Ek het gelees van die een siel wat sy/haar honger met karton probeer stil het.  Was dit nie toe die tyd om namens die arme mense te praat nie.  Neem die geld, en bou behoorlike fasiliteite om bestuur te word deur mense wat ‘n duiwel kan omgee.  Maak ‘n LEWE vir die oorlewendes.  Moenie mense beloon wat hulle gestremde familielede onthou het toe hulle geld gesien het nie.

Van die tragedie gepraat, die DA is mos deesdae die mense se onaangesteelde (en seker ook ongewensde) advokaat.  Goed en wel.  Noudie dag word ek gebel met die wortel dat ek die DA leier kan ontmoet as ek na een of ander vergadering toe kan gaan.  Ek het hulle vertel om te gaan vlieg.  Ek het letterlik gesê dat ek niks van die vent hou nie en geen begeerte het om hom te ontmoet nie.  Almal weet my politieke opleiding kom uit Animal Farm.  Het die man enigsins iets te sê behalwe hoe sleg die ANC is?

Toegegee, die DA kon ‘n R2 biljoen verlies binne ‘n jaar omkeer in ‘n wins in Pretoria.  Dit wil gedoen wees.  Hulle mag poepholle wees, maar ten minste steel hulle nie.  Hulle veg ook vir eiendomsreg  Beslis ‘n beter alternatief as die ANC, al kan ek niks goeds sê van hulle leier nie.

Mense, hoe blatant kan mense in magsposisies wees?  Genade!  ‘n Louis Vuitton sak vol geld.  Dan nogal kom dankie sê vir die goeie smaak in handsakke.  Hoe de hel enige iemand die regering kan vertrou, is bo my begrip.  Hulle is deur-en-deur VROT.  Hoe het Fiela nou weer gesê:  As ‘n geslag eers vrot is, is hulle later slegvrot.

Ek sou kon doen met R230 miljoen.  Toegegee, ek het nie in die laaste trekking gespeel nie.  Ek het een kaartjie gekoop en R15 daarmee gewen.  So ek het seker ‘n wins gemaak.

Praat van slegte geslagte . . . mense stel deesdae nie meer belang om geld te maak nie.  Almal het of te veel of het geleer om soos hulle gekose leiers te steel.  Hoe moeilik kan dit wees om ‘n skatting te gee van hoe lank jou kar buite aksie sal wees vir hersteldiens.  Ons praat hier nie van ‘n dag nie, maar vir etlike dae.  Hoeveel, kan niemand jou sê nie.  Waag dit nou net om nie te betaal wanneer hulle uiteindelik klaar is nie.  Hulle wil dan niks weet van wag nie.

Vir nou is dit seker nog my kar.  Wat gaan gebeur met die nuwe onteining strooi, weet die vet alleen.  Ek het simpatie met iemand wie se grond gesteel is.  Regtig.  Ongelukkig ken ek net niemand wat hulle huis / plaas verniet gekry het nie.  Die meeste middelklas idiote betaal deur hulle ore vir die dak oor hulle koppe.  As hulle nou die dak gaan verloor en nog steeds moet klaar betaal – gaan hulle ‘n tweede dak kan koop en dan behou?

Oor Eskom moet ek eerder stil bly.  Daar is min dinge soos Eskom wat my laat wonder hoekom ek nog steeds ‘n Suid-Afrikaanse burger is.  Dit en hoe pateties die rand teenoor ander geld eenhede is.

Wat kos petrol nou weer?  Dit laat kots my sommer.

Dalk moet ek eerder my vinger op my mond sit.  Duidelik het ek niks goeds om te sê nie.

O ja, Olga en Toortsie!  Die heks stuur groete.  Sy probeer haarself in Hogwarts inkry, maar die Engels sukkel so ‘n bietjie.





Die mens in die gewaad

11 10 2018

Ek kon nou die dag met ‘n veer omgeslaan word toe ek hoor dat Moslems hoë agting vir katte het.  Ek – duidelik geen kenner nie – het sommer maar net aangeneem dat hulle ‘n kat as onrein gaan aanvaar.  Teen die tyd ken julle al die stories van aannamens.  Katte is welkom in Moslems se moskees en huise, juis omdat hulle as skoon en rein diere aangesien word.  Trouens, dit word as sonde gesien om ‘n kat skade te berokken.

Kan jy nou meer?  Dit het my egter laat dink oor wat agter die swart gewade skuil?

khimar_yemen

Ek is darem net halfpad in ‘n grot.  Ek weet dat baie van die dames hoogs intelligent en hoogsgeleerd is.  Verder was ek nog altyd net dankbaar dat ek nie hulle klere hoef te dra nie.  Wel, om eerlik te wees, wissel ek tussen meerderwaardigheid dat ek dit nie hoef te dra nie en diepte jammerte as ek hulle buite in die warmste somersdae sien.

Toegegee, ons almal weet (aanvaar?) dat hulle nie die maklikste lewens het nie.  Ons sidder soms oor hoe die dames in die tradisioneel Arabiese lande behandel word.  Ek meen, Saudi Arabië het eers noudie dag toegelaat dat vrouens mag bestuurslisensies kry.  Tog is daar tog meer tot die mens as bloot die feit dat sy gelowig en / of tradisioneel is?

Is sy ryk of is sy arm?  Hou sy van haar man of droom sy daaroor om gif in sy koffie te gooi?  Is sy tevrede oor die geloof waarin sy gebore is?  Hou sy van kinders, diere of plante?  Dra sy die uitrusting by die huis en kan sy in enige slaapklere wat haar aanstaan slaap?  Gaan sy soms gim toe of hou sy daarvan om aan sport deel te neem?  Kyk sy skelm Orange is the New Black of doen sy dit sommer openlik?  Skinder sy met haar vriendinne en wat beskou sy as die moeite werd om oor te skinder?  Wat verag sy in haar siel?  Wil sy haar sterre verander?

Hoeveel is sy maar dieselfde as gemiddelde Westerse vrou?

Ek het nog nooit moeite gedoen om te probeer uitvind nie.  Ek is nie eers seker dat ek welkom sal wees om te probeer nie.  Maar, in alle waarskynlikheid, is ons ooreenkomste seker meer as ons verskille.  Dit is ongelukkig net goed verberg agter swart lappe.

 





Katte en Pille

5 09 2018

deactivate-e-calm-down-your-crazy-cat-seconds-using-simple-trick.1280x600

Troeteldiereienaarskap beteken nie net ‘n sagte, wollerige, vermaaklike kameraad nie.  Nee, dit behels dat jy verantwoordelikheid neem om ‘n lewendige wese te versorg.  Dit sluit natuurlik goed soos mediese behandeling in.

Goed en wel – tot jy eendag besef dat jou troeteldier van keuse ‘n veearts benodig vir iets meer as net ‘n inenting.  Dit is erg genoeg dat die dier nie lekker voel nie.  Ons praat dan nie eers van ‘n veeartsrekening wat in jou naam uitgereik word nie.  Hoor my lied, as die siek troeteldier ‘n kat is, dan is jy in die moelikheid.

Probleem is dat siektes met medisynes – spesifiek pille – gedokter word en niemand het die katras hulle mening hieroor gevra nie.  Hulle protesteer met alles in hulle oor die behandeling.  As julle my nie glo nie, gaan vra maar my vriendin Google.  Om te probeer om ‘n kat ‘n pil in te gee beteken basies:

  1. Daardie pil gaan gespoeg word.
  2. Jou huis – ten minste die area waar jy jou lewe in jou hande gaan neem – gaan verwoes word.
  3. Die bloed gaan spat.
  4. Die kat gaan nie een druppel bloed verloor nie.
  5. Die pil(le) gaan nie vir ‘n vy in ‘n kat in nie.

jban55_hi

Helaas is ‘n kat nie so effektief teen kieme as wat hulle teen pille is nie.  So raak Mej Lispiek siek en moet ek met haar veearts toe.  Laviga is natuurlik bang sy moet betaal en die besluit om by Ouma Heldina te gaan kuier.  Die veearts is gaaf genoeg om die eerste dosis antibiotika met ‘n inspuiting te gee, maar ek kry 8 dosisse om op een of ander manier by ‘n moedswillige kat in te kry.

Sug!

Eerstens klink dit baie makliker om pille fyn te maak as wat dit is.  Dit moet ook behoorlik fyn wees.  Ek het een dag gedink ek draai Lispiek ‘n rat voor die oë om haar wurmpil in haar gunsteling kos te sit.  Sy het dit al te gretig gaan vreet; maar elke stukkie van die pil agter gelos.  Oh, why can’t a cat be more like a dog?

In elk geval – dit is antibiotika en sy moet dit in kry.  Ek kry raad dat vissmeer vir hulle onweerstaanbaar is.  Ek is dus vroegoggend uit om te gaan vissmeer koop en ek vergruis die pilletjie daar in.  Mense, ek was verheug toe sy dit eet asof dit lekkers is.  Die aand kom jaag sy my sommer in die kombuis aan toe ek die vissmeer bottel oopmaak.  Dit werk goed – tot met dosis nommer 4.  Ek het mos nou net bly geraak.  Skielik wil sy niks meer weet van vissmeer nie.  SUG!  Met ‘n groot gesukkel het ek die gedokterde vissmeer in, maar met die wete dat die truuk nie meer gaan werk nie.

Dosis nommer 5.  Sy is mal oor vla en ek maak nogal seker dat sy nog steeds mal is oor vla.  Kan nie genoeg daarvan kry nie – tot die pil daarin fyngemaak is.  Sy is klaar met pille, maar daar is nog drie dosisse oor.  Daar was dus net een genade.  Ek moes doodeenvoudig op die outydse manier haar dit pille moet ingee.

Ek het nie Xena vir ‘n naam gekies, omdat ek bang is nie.  Toegegee, hospitale is duur inrigtings – veral as jy ‘n veearts rekening moet betaal.  Ek het haar maar in ‘n beperkte omgewing die pil probeer gee en dit herhaal tot die pil in is.

Soos te verwagte storm Lispiek boos – maar met die pil in haar – na buite.  Ek het my nie gesteur nie – ek het eers op makliker maniere probeer.  Sy was die een wat vol streke was.  Sy het nie lank boos gebly nie:  toe ek my draai sit sy langs haar kosbak en dring aan op ‘n beloning.  Verskoon my?  Ek is die een wat die beloning verdien, nie sy nie.  Sy het verskil en gelukkig het sy vissmeer as ‘n aanvaarbare beloning erken.  Ook maar goed – ek soek beslis nie vissmeer as beloning nie.

Dit was dosis 6.  Dosis 7 het sy meer kere uitgespoeg, maar die boos stap oorgesien om dadelik ‘n beloning te eis.  Weereens was die vissmeer aanvaar.

Daar is nog een dosis oor.  Behoede my.





Fooitjie kreune

23 08 2018

tips-jar-1024x580-800x500_c

Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer begin die idee van ‘n fooitjie die witlig uit my uit irriteer.  Ek is ‘n semi-ordentlike mens en soos enige semi-ordentlike mens gee ek fooitjies waar dit verwag word.  Dit begin net hopeloos te veel deesdae verwag, op meer plekke waarmee ek gemaklik of tevrede is.

Kom ons dink gou ‘n oomblik oor fooitjies.  Dit behoort ‘n beloning te wees vir iemand wat jou buite verwagting gehelp het.  Ek dink byvoorbeeld aan die petroljoggies wat eendag my wiel vir my reggemaak het.  Dit is nie in hulle posbeskrywing om kliente se wiele reg te maak nie.  Nogtans het hulle dit vol vreugde gedoen.

Dit is nogal ‘n dun lyn om te onderskei.  Tegnies, behoort ‘n mens nie vir hulp of plein ordentlikheid te betaal nie.  Die onderskeid is seker tussen diens en hulp.  Wat egter van die diens wat iemand lewer nadat jy daarvoor betaal het?

Kom ek gee ‘n voorbeeld.  Jy gaan na ‘n restaurant en bestel ‘n biefstuk.  Dit kos argumentsonthalwe R150.  Die besigheidsmodel van die restaurant is dat iemand jou vra wat jy wil eet, hulle bestel dit vir jou en bring dit vir jou.  Agterna vat hulle jou vuilbord weg.  Daarvoor betaal jy ten minste R15.  Jou ete kos jou dus R165.

Die probleem is dat jy nie self jou bestelling kan plaas of self jou kos in die kombuis gaan haal nie.  Dus betaal jy iemand eintlik net om hulle werk te doen.  Netsoos jy nie ‘n kassier gaan betaal om jou inkopies op te lui nie, hoekom moet jy ‘n kelner betaal?

Wel, jy is ‘n semi-ordentlike of selfs ‘n ordentlike mens.  Jy weet dat die kelner nie betaal word nie en van jou afhanklik is vir ‘n inkomste.  Wie se verantwoordelikheid is dit egter om die werknemers betaal?  Die werkgewer s’n!  Van die geld wat hy uit die klient maak!

Dit is wat my die olga in maak.  Dat ek iemand se salaris moet betaal wat ek nie in diens geneem het nie.

Ek het nou die dag iets gelees dat die hele fooitjiekultuur uit slawerny ontstaan het.  Mense wou nadat slawe bevry is, nie die nuwe werkers betaal nie.  Die oud-slawe kon wel vir ‘n fooitjie werk.  ‘n Stelsel wat simpel is.

Dit is deesdae egter nie net meer kelners, karwagte en petroljoggies wat jy ‘n fooitjie voor moet gee nie.  Terloops, baie mense voel dat 10% in ‘n restaurant ‘n belediging is.  Diegene voer aan dat dit 20% moet wees.  Ek weet – ek het al dikwels 20% fooitjies uitgedeel, maar dit grief my as dit verwag word.  Ek weier egter om ‘n fooitjie aan haarkappers te gee.  Genugtig, ek betaal honderde rande vir ‘n haarsny.  Ek verpes dit ook om gastehuise ‘n fooitjie te gee.  Weereens – ek het die volle prys betaal.  Ek sal dit heroorweeg as iemand my swaar tas gedra het of ek ‘n groot gemors gemaak het.

Hoe voel julle oor fooitjies?  Voel julle dalk ook dat die werknemers hulle werkers moet betaal vir die werk wat hulle gedoen het.  Dink julle dalk ons behoort die ontvangsdame by die dokter ‘n fooitjie te gee?  Dalk ‘n fooitjie vir die handlanger van die loodgieter?  Hulle kry mos ook ‘n slegte salaris wat aangevul moet word?

Waar trek ‘n mens die lyn?





Sou nooit kon droom nie

20 04 2018

Trattoria

My ma het ‘n staaltjie wat sy altyd vertel van die priester wat verlief raak en trou.  Siende dat hy nie meer ‘n priester kon wees nie, moes hy maar gaan sing vir sy kos.  Dit was natuurlik ‘n Rooms Katolieke priester.

Dus was dit nogal ironies dat dit in Rome moes gebeur het.

In die land van Rome, maak jy soos die Romeine; en glo my – hulle is ietwat ongewoon.  Daar is byvoorbeeld een prys vir ‘n cappuchino wat jy by die kroeg drink en ‘n aansienlike duurder prys vir ‘n cappuchino by ‘n tafel.  Enige artikel oor Italië maak dit duidelik dat dit sonde is om ‘n cappuchino na 11 in die oggend te drink.  Hulle kos is ook baie streeksgebonde.  Net omdat jy iets in Rome geniet het, beteken dit nie dat jy dit in Milan ook gaan kry nie.

Die grootste skok vir ons Suid-Afrikaanse gestelle is dat jy vir absoluut alles betaal.  Daar is ‘n fooi vir die tafeldoek, ‘n fooi vir die brood op die tafel, ‘n fooi as daar lewendige musiek is ens.  Toegegee, jy betaal nie fooitjies nie, maar jy hoes vir absoluut enige iets anders.  (Ek het Sofia van Golden Girls soveel beter verstaan nadat ek ‘n draai in Italië gemaak het).

Gelukkig is ek en Google op goeie voet en ek was ten volle voorberei en uitgehonger vir ‘n aand in ‘n trattoria.  ‘n Trattoria is ‘n eenvoudiger restaurant wat gewoonlik deur ‘n familie bedryf word.  Daarteenoor kry ‘n mens ‘n ristorante, wat ‘n meer formele (en dus duurder) restaurant is.  Voorberei – in die sin dat ek weet daar gaan vreemde fooie wees en ek seker gemaak het ons het genoeg kontant.  Kredietkaarte is net so uit as cappuchino in die aand.

In elk geval, daar aangekom, is daar ‘n oom (vermoedelik die pa van die familie) wat kitaar speel.  Nadat hy moeg is, stuur hy sy hoed om en daar gaan hy.  Wel, die eienaar is nog nie klaar gemusiek nie.  Daar begin hy die enigste Engelse lied speel wat hy ken.  Country roads.  Hy dring boonop daarop aan dat almal moet saam sing.  As ons nie genoeg sing nie, maak hy sommer sy eie woorde op.  Gewoonlik:  “I don’t know English” op maat van die musiek.  En ja – benewens die koor van Country Roads, kon hy en sy gesin nie Engels praat nie.

So daar sit ek – op ‘n sypaadjie in die hartjie van Rome – en sing kliphard Country Roads vir my kos.  Iets wat ek nooit in ‘n 1000 jaar sou droom ek ooit sal doen nie.

Elke keer as iemand nuuts opdaag, word nog ‘n tafel sypaadjie toegesleep en dan sing ons weer.  Een van die kliente het later “Country Roads” met “House of the rising sun”

Ons moes wel betaal het vir ons kos (tafeldoek, brood ens), maar die oom het so lekker kitaar gespeel, dat hy nooit neergeskryf het wat ons bestel het nie.  Ons moes hom weer wys wat ons bestel het.  Ons het darem ‘n paar euro afslag gekry.  Na ‘n gratis loopdop, het ons vir oulaas in Rome “Country Roads” gesing, nogal spyt dat ons die volgende aand nie weer kon kom nie.

Wat moes jy al doen wat jy nooit verwag het jy sal doen nie?

 





Oordeel ‘n boek aan sy buitekant

1 03 2018

Ek het ‘n paar jaar terug Afrikaanse flieks afgesweer.  Na die groot ophef wat oor Liefling gemaak is, het ek besluit nooit weer nie.  As dit die beste is wat Afrikaans kan bied, dan is daar geen hoop nie.  Ja, ek weet lae begrotings is altyd die verweer, maar oempf kos niks.  Daar was geen oempf.

Hier en daar het ek wel uitsonderings gemaak.  Ek het byvoorbeeld Ballade gaan kyk.  Ek sal dit nou nie die beste fliek ooit noem nie, maar ek het darem nie gevoel of ek my geld mors nie.  Ek het ook hier en daar ‘n paar DVD’s gekyk.  Party het belofde getoon dat ek dalk te vinnig alles oor dieselfde kam geskeer het en ander weer het my punt bevestig.

Onlangs het Raaiselkind die silwerdoek getref.  Ek het my bedenkinge gehad.  Eerstens foeter ‘n fliek mos altyd die boek op.  Tweedens, Diaan Lawrenson?  Regtig?  Paula vir die ma?  Ek kon niks goeds daaruit sien kom nie.  Laastens was Sally Campher die vervaardiger.  Ek bid jou aan!  Yollie van Orkney Snork Nie.  Die persoonliking van vlak.  Wel, eintlik sal vlak in die gesig gevroetel wees met Yollie van Tonder.  Daar moet immers ‘n diep mens aan die stuur van sake staan vir ‘n fliek soos Raaiselkind.

Dit is natuurlik baie onregverdig van my; om die aktrise aan die karakter gelyk te stel.  Tog is dit dadelik die beeld met ‘n skril aankondiging wat by my opkom.  Ja, daar was ander rolle ook.  Dit was haar rol wat my afgesit het van Koöperasie Stories.  Nie dat ek haar al ooit blameer het vir die skrywer se fasinasie van die makbere.  Sy was ook iewers ‘n speurder of ‘n ding gewees.  Niks wat regtig uitgestaan het nie.

In elk geval, deesdae maak sy flieks en duik diep.  Dit het nie vir my na ‘n blink plan geklink nie.  Ek het egter besluit om ‘n kans te vat omdat Annelie Botes heel in haar noppies met die fliek was.  As sy tevrede was, het sy of lae standarde of hulle het haar storie nie vermorsel nie.

Ek was verkeerd.  Dalk omdat ek baie lae verwagtinge gehad het, maar die fliek was heel aangrypend.  Ek sal dit self as goed bestempel.

Natuurlik is daar ‘n paar goed wat nie sin maak nie.  Soos hoekom is die ma in die eerste plek gearresteer as sy eintlik vir ondervraging ingeneem is?  Sy kry haar boeie eers by die kar en dan word sy by die polisiestasie ondersoek ook.  Dit het my terloops in die boek ook gepla.  Nogtans dink ek dat die fliek wel hulle doel behaal het.  Mense wat na outistiese kinders omsien, lewe in ‘n nagmerrie.  Alleen, met ‘n kind wat hulle laaste nerwe skeur en met bittermin ondersteuning en baie verwyte en veroordelings.

Annelie Botes het die verhaal geskryf nadat een van haar kollegas se kinders met outisme gediagnoseer is.  Sy het self aanvanklik die ma van die kind verdryf en later die diagnose afgemaak as ‘n nuwe naam vir stoutigheid.  Sy het haarself opgevoed en glo sake met die ma reggemaak.

Ten slotte – ek het al ‘n paar mense ontmoet wat almal vertel hulle kind is outisties en die kind is duidelik nie outisties nie.  Ek wonder dikwels of hulle nie dinge aanroep nie.  As hulle na fliek soos Raaiselkind kyk, skaam hulle hulleself?  Of is dit maar net water op ‘n eend se rug.





Poef en betaal

22 02 2018

Image result for tax

Daar is min dinge op hierdie aarde wat my bitter maak soos belasting.  Ek weet die Bybel sê jy moet die koning (regering) gee wat hom toekom, maar kom ons wees nou reguit.  Gee beteken jy vat iets en oorhandig dit aan ‘n ander.  Ek weet nie van julle nie, maar SARS wag nie vir my om te gee nie.  Nee, SARS gryp wat hulle wil hê en verder kyk hulle boeties en sussies waar jy verder geskroef word.

Voordat my maandlikse peanuts by my uitkom, het SARS alreeds hulleself daaruit gehelp.  Met mening.  Wanneer daar besluit word my pakkie peanuts word met 7% vermeerder, gryp SARS byvoorbaat sommer ‘n ekstra 10%.  Vir jare juig SARS harder oor enige verhoging as ek.  Kry ek ‘n paar ekstra peanuts as beloning, kry ek maar eintlik net SARS se oorskiet.  Hulle werk mos net so hard vir daardie peanuts as ek.  Daarom het hulle seker eerste reg op enige bonusse.

Dit is ‘n bitter pil om te sluk, maar die regering probeer nie eers die sluk makliker maak nie.  Wat kry ek nou eintlik vir my belasting?  Een of ander tyd gaan ek opgeskroef word vir tolgeld.  Waar ek nie vir die voorreg van die pad (wat met ondermeer my belasting gebou is) moet betaal nie, is dit koes-koes vir slaggate.  Ek moet vir ‘n medies, sekuriteit en aftrede betaal.  Ek het jare lank aan studielenings afbetaal en ek betaal my huidige studies self.  SARS sal wel ‘n manier kry om my te skroef met die Nasionale Gesondheid Versekering.  Ek betaal dus vir my eie en ander se opvoeding en gesondheidsorg.  In plaas van ‘n dankie, word daar net na meer peanuts gegryp.

Ek betaal al meer as ‘n dekade lank belasting.  In die tyd moes ek helaas al sake by die polisie aangemeld het.  In die tyd was daar al by my motorhuis, motor en huis ingebreek.  Ek het ‘n handvol selfone en ‘n skootrekenaar onvrywillig geskenk.  Raai hoeveel van die sake was geondersoek?  Raai hoeveel ondersoekbeamptes het ek al ontmoet?  0!  Belangstelling van SAPD?  -300%!

Nou word BTW boonop verhoog.  Ek is beslis nie lus om meer belasting te betaal vir minder nie.  Dus, moet ek maar my besteding besnoei.  Tans, kry SARS ongeveer R140 van elke R1000 wat ek spandeer.  Na 1 April, moet ek kry SARS ongeveel R140 as ek R933 spandeer het.  Hulle sal R150 kry vir elke R1000 wat ek uitgee.  Ek moet does 6.7% besnoei om seker te maak SARS kry nie ‘n sent ekstra nie.  Dalk moet ek die 6.7% in ‘n belastingvrye rekening stoot en kyk of ‘n mens nog rente kan verdien.  Ek weet nie of die 6.7% ‘n annuïteit kan koop nie, maar dan kan SARS vir jou geld gee.

Ek weet nog nie hoe ek my petrol verbruik gaan verminder nie, maar ek het beslis genoeg gehad van die bodemlose belastingput.

Hoe voel julle oor belasting?  Hoe kan ‘n mens jou belasting sny?





Vyand nommer 1

31 01 2018

Ek mag dalk al iewers genoem het dat ek ‘n Xena aanhanger is.  Uhmm, as my naam dit nie weggegee het nie.  ‘n Goeie 4 seisoene gaan oor die volgende filosofie:  “To conquer others is to have power.  To conquer yourself is to know the way.”

In die storie, word dit as waarheid deur een Lao Ma aan Xena voorgehou.  Op die stadium was Xena omtrent die verpersoonliking van boosheid self.  Lao Ma skryf dit dan sommer in haar man, Lao Tzu, se boek vol wyshede.  Sy hou hom in ‘n koma omdat hy ‘n tiran is.  Sy regeer in sy plek en reken sy geskenk aan hom is dat hy as ‘n liefdevolle en wyse heerser onthou sal word.

Goed, ek is die laaste een wat die vervaardigers van Xena sal beskuldig dat hulle ‘n goeie storie met feite bederf.  Geskiedenis reken dat Lao Tzu se gevleuelde woorde is.  Ek het eendag iewers gelees dat Lao Tzu 60 jaar oud is toe hy gebore is.  Ek is geneig om dit met ‘n emmer sout te neem.  Tog maak dit eintlik sin.

Hy moes seniel gewees het om sulke twak te praat:  “To conquer others is to have power.  To conquer yourself is to know the way.”  Geen wonder daar was soveel dramas en treurmares in Xena oor hierdie einste filosofie.  Persoonlik reken ek hy (of sy manipulerende vrou) wou eintlik gesê het:  “To conquer others is to have power.  To conquer yourself is to be power.”

Is die “eie-ek” maar nie eintlik elke mens se grootste vyand nie?  Wie se skuld is dit as jy te veel eet of ongesond eet?  Wie se skuld is dit as jy meer geld uitgee as wat jy het?  Wie se skuld is dit as jy op Vreetjieblad ‘n vloermoer gooi wat ‘n tweejarige sal laat skaam kry?  Wie se skuld is dit as jy uit woede iemand se nek omdraai?

Sou die wêreld nie ‘n beter plek gewees het as mense net hulle self kon beheer nie?  Ongeag watter wette afgekondig word, eintlik het net jy beheer oor jouself.  Dit gaan oor keuses en om die regte besluit vir jouself te neem.  Selfbeheersing.  Iets wat deesdae afgeskryf word omdat dit aansienlik moeiliker is as wat ‘n mens dink.

Deesdae word enige swakhede mos toegesmeer met moenie oordeel nie.  Niemand durf mos om iemand te sê om ‘n ruggraat te groei en te doen wat reg is nie.  Deesdae is ‘n definisie van reg en verkeerd op sulkself verkeerd.

Jy is op jouself aangewese om enige iets te vermag.  Dit maak dus net sin dat jy jouself bemeester.  As jy dit kan doen, is geen ster te ver nie.

“To conquer others is to have power.  To conquer yourself is to be power.”

Terloops, laat weet my as iemand hom/haarself genoeg bemeester het om te kan vlieg!