Die splinter in iemand se oog

19 01 2020

Mense sien so graag neer op toeriste aantreklikhede.  Toegegee; daar is gewoonlik hordes mense en jy moet fyn staan om nie vertrap te word nie.  Ons sal maar eerder nie van die lang toue en die kaartjiepryse praat nie.  Tog, was jy regtig in Parys as jy nie die Eiffel gesien het of in London as jy nooit een van die stad se kenmerke gesien het nie.  Na my mening, kan jy maar jou neus optrek as jy klaar ondersoek het wat die bohaai was.

As ek oorsee is, gaan ek in soveel hoekies en gaatjies inkruip as waarby ek kan uitkom.  So beland ek en my suster so ‘n paar jaar terug by die London Toring brug op.  Natuurlik is kyk vry, maar as jy van bo af wil kyk, moet jy ‘n paar pond hoes.  Wat ons toe ook gedoen het.

architecture bridge buildings calm waters

Photo by Chris Schippers on Pexels.com

Wat ons nou nie besef het nie, is dat die boonste brug ‘n glasvloer het.  Jy kan dus bo staan en vir die rooi busse 42 m onder jou voete staar.

london bridge

Natuurlik, toe ons bo kom, is daar hordes mense wat op die vloer staan, sit, lê ens.  Enige iets vir ‘n goeie foto.  Aangesien ek die aangestelde fotograaf is en Sustermerrie die aangestelde model, is dit voor die handliggend.  Sy moet gaan lê vir die foto.  Sustermerrie het nie ‘n groot liefde vir hoogtes nie, maar hoe anders moet sy die mense wys sy was in London.

Sy staan dus toe maar versigtig nader, en toets-toets die glasblad so versigtig met haar voet.  Het ek genoem dat daar alreeds hordes mense is wat ook wil wys hulle was op die blad?  Ek wil my doodlag vir die getoetsery.  Ek wys vir haar uit dat hoeveel ander mense dit doen.  Sy steur haar min en kry maar so toets-toets haar lê.  Net ‘n gedeelte van haar bolyf, sy wil darem mos nie 42 m ver val in haar eerste en dalk enigste besoek aan London nie.

Ek neem die kamerafoto en die selfoonfoto’s en sy spring vinnig op ingeval die vloer net gaan verdwyn.  Dit is in elk geval tyd om oor te loop, om aan die anderkant te kom.  Ek neem ‘n paar foto’s en gaan agter haar aan.  Net om daar ‘n baie sarkastiese “Um Uhm” gestop te word.

Sien, ek het ook onbewustelik gou ‘n vinnige toetsie gedoen.  Sustermerrie het my natuurlik toe ook uitgevang.

Breinvasbrand:  Wanneer is die London Toring Brug geopen?

Breinlosbrand:  Olga was reg.  Frankryk is die land met die meeste tydzones, danksy hulle oorsese gebiede.  Rusland en die VSA is gesamenlik tweede.

NS:  Die hartseer deel van die storie, is dat ek my geheuekaart verloor het met die foto’s op.





Memel

3 04 2011

Al is ek geen aanhanger van die Vrystaat nie, moet ek erken dat daar heelwat juweeldorpies in hulle skatkis wegkruip.  Soos Memel . . .  en nee, ek het geen straat musikante raak geloop nie.

Hoeveel is daar tog te sien as ‘n mens die moeite doen om te gaan kyk.





Makiti

12 11 2010

As ‘n mens op die N3 sien jy so ‘n snaakse plekkie tussen niks en nêrens.  Goed, tussen Villiers en Warden sal jou as reisiger seker beter help om die plek te vind.  Dit is sowat 34 km van Warden af.  As jy so ‘n nuuskierige siel soos die uwe is, is dit net daar waar jy die afrit neem om te gaan rondneus en spyt sal jy nie wees nie.

Ek is geen liefhebber van die Vrystaat nie.  Ek dink dit is ‘n vermorsing wat ‘n baie goeie binnelandse see kon gewees het.  As ek dus lofsgesange oor iets in die Vrystaan aanhef, dan moet julle weet dat dit die moeite werd is. 

Die plek het selfs oornagsfasiliteite en glo vir my dat dit glad nie vergesog is nie.  Daar is soveel interessante hoekies om te gaan krap, dat jy maklik van die see kan vergeet en eerder oorbly. Hulle spog met ‘n kunsgallery, ‘n restaurant, ‘n herdenking winkeltjie, ‘n tuisnywerheid en ‘n slaghuis.  Die mense is vriendelik en die pryse is billik. 

 Ons was op ‘n Sondagmiddag daar – net betyds vir hulle buffet.  Dit het voorgereg, hoofgereg en nagereg ingesluit.  Die hoofgereg het bestaan uit twee soorte vleis, twee slaaie, ‘n stysel en twee groentes.   Vingerleklekker.  Teen R55 per kop kan ‘n mens dit amper oorweeg om op ‘n Sondag deur te ry. 

Buitekant is genoeg om enige woelwater gelukkig te hou.  Plaas sonder om stadsjapies te intimideer.  Daar loop kalkoene, hoender en twee vet honder rond.  Daar is selfs ‘n emu in ‘n kampie.  Orals is daar vreemde, interessante voorwerpe neergesit om die verbeelding te prikkel. 

Die beste van alles is dat die mense nie omgee as jy hulle plek net geniet nie.  Die geldmaak deel is maar ‘n bysaak, wat ironies genoeg ‘n mens lus maak om te koop.

Volgende keer as jy verby jaag, doen jou self ‘n guns en stop ‘n bietjie.  Jy sal nie spyt wees nie.