Wegkruipertjie

13 03 2019

imagesDME3ZH9X

Daar word beweer dat die wêreld klein is.  In baie gevalle is dit skokkend presies hoe klein dit is.  Daar is byvoorbeeld die teorie van “7 degrees of separation”.  Dit behels basies dat daar 7 mense tussen jou en enige persoon op aarde is.  ‘n Geval van A ken B wat vir C ken tot jy by die spesifieke persoon uitkom.  Dit klink gek, nie waar nie?  Tog – ek ken iemand wat die koningin van Engeland se hand geskud het.  Dus is daar een persoon tussen my en Elizabeth.

Kyk ook hoe maklik dit is om op enige punt op aarde te kom.  ‘n Mens kan deesdae tot in Antartika gaan vakansie hou as dit jou behaag.  Toegegee, jy moet diep sakke hê daarvoor.  Nogtans is dit verstommend hoeveel mense die wêreld plat toer met los werkies.  Waarmee hulle gaan aftree, weet ek nie, maar hulle sal baie stories hê om op die ouetehuis se stoep te vertel.

Is dit dan nie verstommend hoe iets net tussen neus en ore kan verdwyn nie.  Ek kon byvoorbeeld vanoggend nie die spesifieke broek kry wat ek wou aantrek nie.  Dit was nie in my kas nie, dit was nie in die spaarkamer se kas nie en dit was nie in die wasgoedmandjie nie.  Ek is seker dit is iewers, maar vet alleen weet waar.

Dan praat ons nie eers van leeu se kind wat al amper ‘n maand lank in die Karoo rondloop nie.  Hulle kry hier en daar ‘n spoor, maar vuilbaard word nie met ‘n oog gesien nie.  Die beste spoorsnyers en tegnologie word ingespan, maar die mannetjie wys hoekom hy die koning van die oerwoud (of semi-woestyn) is.

Malaysian Airlines se vlug 370 is nou nog na 5 jaar soek.  Ons praat van ‘n massiewe vliegtuigwrak wat net verdwyn het.  Hier en daar is daar ‘n stuk gekry, maar die romp met al die siele daarin, is weg.  Iets wat mense nog vir jare gaan fasineer.  Dit het immers dekades geneem om die Titanic se wrakstukke op te spoor en hulle het geweet waar dit gesink het.

Mense kan ook nog verdwyn.  Dink maar aan die sogenaamde “Vermisde meisies”.  Hulle is al 3 dekades weg en niks van hulle is al gekry nie.

Die wêreld mag dalk klein wees, maar daar is baie goeie wegsteek / wegkruiphoekies?  Wie weet, dalk is daar net een wegsteekhoekie waarvan bittermin weet.

Breinvasbrand:  Wat was die naam van die tier wat oppad na die veearts uit die bakkie gespring het waarmee hy vervoer was en ‘n paar dae soek was?

Breinlosbrand:  Hesterleynel was reg met Tinkerbell.


Aksies

Information

15 responses

13 03 2019
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre

Daai sirkels van konneksie – mens weet nooit wie ken wie nie, daarom is dit wys om wag voor die mond in diens te hou. Ek het nou lekker gelees! (Daai tier was Panjo van Mpumalanga, as my onthou nog werk)

14 03 2019
Xena Phoenix

Die wag voor my mond is al lankal deur die wurms opgeëet. 😉

14 03 2019
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre

Kom ons stig ‘n waglose mond klub …🤣

13 03 2019
Toortsie

Niemand wil hoor nie, ek sê nog altyd daai vliegtuig is deur die gat in die lug, daardie selfde gat waarheen soveel van my gied al die jare verdwyn het.

14 03 2019
Xena Phoenix

Snaaks hoe almal van die gat in die osoonlaag lankal vergeet het. Daar is vir jou ‘n goeie argument om dit toe te stop.

14 03 2019
Toortsie

Dink jy die gate is in elk geval daar, glad nie ‘n gat in die osoonlaag nie?

14 03 2019
Toortsie

Ek het darem nou uiteindelik kans gelry om jou te laat weet dat ek van jou geskinder het, hoor. So, as jy dit nog nie weet nie, dan weet jy dit beslis nou.

14 03 2019
Xena Phoenix

Om ‘n mens se blog maniere so te vergeet. 😉

13 03 2019
HesterLeyNel

Dieselfde gat waardeur die sokkies uit die wasmasjien verdwyn.

14 03 2019
Xena Phoenix

Die wasmasjien is kop in een mus met die gat. Kom ons verbrand al die wasmasjiene. Dit sal ‘n les vir die ander wees.

14 03 2019
HesterLeyNel

Wag, ek moet eers my plek in die nudistekolonie bespreek. Ek was so wragtag niks met die hand nie.

14 03 2019
Xena Phoenix

Man, koop ‘n masjien wat sy les geleer het. Hopelik skrik hulle so groot dat jou vuil klere vanself – sonder verlies of skade – skoon en netjies terug in jou kas gaan kom.

14 03 2019
HesterLeyNel

The power of positive thinking!

14 03 2019
Xena Phoenix

Of negative reinforcement. 😉

14 03 2019
Die gat in die lug – toortsie.com

[…] dat daardie vliegtuig wat net so in die lug in verdwyn het, deur daardie einste gat is. Ek sien Xena praat ook vandag weer van hom en waar hy kan […]

Lewer kommentaar