Net een klap

12 03 2019

25837_25844_25057_25839_25849_25845x

Man, jare gelede was daar mos hierdie feetjie wat uit my kas getuimel het.  Letterlik – dit was een keer in ‘n dekade wat ek ‘n poging aangewend het om netjies te maak en ‘n feetjie gekry het om dit te berou.

Nadat sy my geduld tot die uiterste beproef en my laat kop krap soos min ander, het sy eendag besluit dat dit tyd is dat sy aanbeweeg.  Ek was nie seker of ek bly of verlig moes wees nie.  Die tyd wat sy by my gebly het was interessant.  Tog moet ‘n mens onthou dat dit ‘n Chinese vloek is om in interessante tye te bly.

In elk geval, toe ek nou die dag by die huis kom, is juffrou sak en pak terug.  Sy het my sonder seremonie uit my bed geboender en skielik moes ons weer kyk wat sy wou kyk.  Ek wou nog vra vanwaar gehasie, maar ek is dadelik verwyt of sy dan nie welkom is nie.  Mens kan nie wen nie.

Ek het darem meer geduld as die gewone mens en ek het geweet dat dit net ‘n kwessie van tyd is.  Dit verskaf die feetjie mos oneindige plesier om met my skaak te speel.  Sy het nie eers ‘n skaakbord of skaakstukke nodig om my tussen die duiwel en die diep blou see te sit nie.  Helaas, het ek nog nie geleer swem nie, maar ek sal probeer om die duiwel te versuip.

Sy het al die seisoene van haar gunsteling programme deur gedraf en dit was nie lank nie, toe is sy iesegrimmig omdat ek nie die nuutste seisoen gehad het nie.  Die dikbekkigheid het oorgewaai en toe is sy verveeld.  Verveeld en opsoek na ‘n gek.

Jy kry een klap.” kondig die feetjie vernaam aan.

Klap aan my en jy gaan dit berou!” waarsku ek voortydig.  Ek meen, daar is grense en seker grense mag niemand oortree nie.

Daar rol haar ogies asof dit wiele aan ‘n resieskar is.

JY kry een klap . . . om uit te deel!” verduidelik sy verergd.

In my beste Afrikaans vra ek “Huh?”.  Sy mag irriterend wees, maar ek soek nie die dood van ‘n feetjie op my gewete nie.

As jy een ding kan regklap, wat sal jy regklap?”

Net een ding!  Die verbrande fee.  Hoe kies ek net een ding om in hierdie land van ons reg te klap.  Waar begin ‘n mens?  Wat sal julle graag wil regklap?

Breinvasbrand:  Wat was Peter Pan se feetjie se naam?

Breinlosbrand:  Vuurvliegie was reg met Video Killed the Radio Star.


Aksies

Information

5 responses

12 03 2019
HesterLeyNel

Tinker Bell. Nee, ek is te bang om te klap, want dit lyk my as jy een vlieg die doodklap toedien, kom daar twee meer tevoorskyn. Dalk werk dit met mense ook so.

12 03 2019
rondomtaliedraai

Oooooo ek het ook so paar feetjies verweef in my lewe

13 03 2019
seegogga

Tinkerbell . Sterkte met jou feetjie

13 03 2019
Xena Phoenix

Ek dink die feetjie het ‘n figuurlike klap bedoel. Ek wou aanvanklik sê dat ek ESKOM wil regklap, maar met ons regering . . . sal dit net ‘n kwessie van tyd wees voor hulle weer ‘n klap kort. Dus sal ek maar die regering wil regklap. As die fondasie reg is, sal alles anders hopelik ook regkom.

13 03 2019
Toortsie

Ek wou sê Annabelle, toe sien ek almal antwoord Tinkerbel. Ek is mos nie goed met name nie, so hoekom sulke moeilike vrae vra?
Well done vir ‘n feetjie wat jou in toom kan hou.
As ek een klap kan kry, wil ek al die gemors wat ek weer eens saamgepiekel het na my nuwe huis, wegklap.

Lewer kommentaar