Huiswerkers en Covid-19

17 03 2020
poodle lying on comfortable bed

Photo by Roberto Nickson on Pexels.com

Is dit toevallig dat Ramaphosa die land in ‘n noodtoestand omtrent die Corona virus verklaar het op ‘Ides of March’?

Goed en wel, dit is al vir ‘n paar weke aanduidings dat COVID-19 meer as net ‘n effense ontwrigting gaan wees.  Tog is dit asof die paw-paw Maandag behoorlik die fên getref het.  Vergaderings wat soos domino’s wegval, afsprake wat gekanselleer word, handreinigers wat sommer met die intrapslag by die kantoor in jou gesig gedruk word.

Suid-Afrikaners het besluit hulle moet iets meer doen omtrent die Corona uitbraak as net memes maak.  Hulle gaan nou boonop vir goud.  Alles goed en wel vir ‘n week of twee, maar wat gaan gebeur as die storie vir 6 maande of 6 jaar aanhou?  Tyd sal seker leer.

In elk geval, daar loop ek toe ‘n artikel raak dat dat Suid-Afrikaners hulle bediendes op betaalde verlof moet plaas terwyl die pandemie voortwoed.  Ek is ‘n redelike mens en kan die meriete van die saak insien.

Aan die een kant, as jou werker vir meer as een huis werk, moet jy in ag neem wat sy daar kan optel.  Al groet jy haar nie met die hand nie, werk sy met jou wasgoed, skottelgoed, bed, oppervlaktes ens.  Baie plek om die virus aan jou oor te dra, veral aangesien die virus glo vir 9 dae op ‘n oppervlakte kan oorleef.  Dit is iemand wat dus die COVID-19 op jou huis kan kom afdruk.  Wie gaan nou in elk geval alles ontsmet nadat sy haar werk gedoen het.

Aan die anderkant – as werkgewer is jy verantwoordelik vir haar gesondheid onder jou dak.  Dus, kan jy verantwoordelik gehou word as jy die oorsaak is dat sy die Corona virus opdoen.  Behoede jou veral as sy dalk sterf daarvan – al is die wet vir nou nie baie duidelik nie.

Goeie geldige argumente.  Dan kom ‘n politikus en laat jou weer oor die wysheid wonder om enigsins ‘n huiswerker te hê.  Volgens Phumzile van Damme:  “Oh, and you can clean your own house.  You can’t risk a life just because you don’t want to clean or do your own garden.”

Weet jy wat, Phumzile? Ek kan my eie huis skoonmaak; beter, vinniger en met aansienlik minder frustrasies as met my werker.  My luiheid, waarna jy so neerhalend verwys, gee ‘n arm vrou ‘n inkomste waarvoor sy haarself nie dood hoef te werk nie.  Sy is nou dalk nie die bes betaalde werker in die land nie, maar sy het min rede om te kla.  Deur my eie huis skoon te maak, besef ek dalk dat sy nie die frustrasie werd is nie.  Ek wen ‘n paar rand, sy verloor ‘n beduindende aandeel van haar inkomste.   Boonop kan ‘n snotty politikus soos Phumzile van Damme dan nie op my luiheid neersien nie.  Dit is voordelig vir my, ek sal Van Damme wys waar Dawid die wortels gegrawe het, maar dit is die werker wat vir die gelag gaan betaal.

Daar is ‘n lied wat gaan:  “Whatsoever you do, to the least of my brothers, that you do unto Me.” So ja.  Ek is die sucker wat maar weer die politieke bollie sal opvreet.  Ek sal die risiko van die werker oorweeg en daar volgens handel, sonder om haar te na te kom.

Wat gaan julle doen omtrent julle huis- en/of tuinwerkers?  Sal julle betaalde verlof oorweeg?  Vir hoe lank?  Dink julle dat dit ‘n beduidende risiko is?

Breinvasbrand:  Waar was die eerste gevalle van COVID-19 aangeteken?

Breinlosbrand:  Vuurvliegie was reg met Ragab.





Prostitusie

24 02 2020
amsterdam canal lights red light district

Photo by Skitterphoto on Pexels.com

Julle weet teen die tyd al dat die HAT ‘n foto van my as die definisie van nuuskierig het.  Verder, word ek dikwels verwyt dat ek te maklik veroordeel (judgemental).  As daar nou een ding is wat ek nie kan weerstaan nie, is dit om foto’s te neem waar ek nie mag nie.

Sit nou ‘n mens soos ek in Amsterdam (Nederland) en jy kan verseker wees dat ek in die rooiligdistrik gaan rondneus.  Om die rooiligte nou behoorlik te beskou, is ons na donker in die berugde distrik in.  Na so ‘n paar draaie, is ons nogal half teleurgesteld.  Geen rooi ligte nie.  Ons onderneem om net nog om die hoek te gaan kyk, en daar is dit.

Ek het nou nie veel nut vir die dames nie.  Nogtans het ‘n paar dinge my die aand geskok.  Die mans maak regtig die deur oop om die besigheid daar en dan te beklink.  Daar is heelwat van die stalletjies met toe gordyne.  Diegene wat op skou was, is baie ongeërgd.  Hulle speel op hulle selfone of gesels met hulle kollegas soos ‘n mens maar tydens ‘n stil oomblik by die werk maak.  Die skokkendste van alles is dat ek nie ‘n foto wou neem nie.

Dit is debateerbaar dat prostitusie die oudste beroep op aarde is.  Dit mag dalk nie die oudste wees nie, maar dit is beslis een van die eerste beroepe vir vrouens.  Dit was vir eeue lank die enigste manier vir vrouens om ‘n inkomste te verdien as sy nie ‘n manlike figuur gehad het wat vir haar gesorg het.  Dit bestaan vandag nog, in alle lande en in alle sfere.

Prostitusie word dikwels met minagting bejeën.  Hoe regverdig is dit?

Ek is nie seker of daar mense (daar is immers manlike prostitute ook) is wat prostitute wil word nie.  Dit is egter ‘n feit dat baie (die meerderheid?) mense daar ingedwing word.  Soms fisies – sonder dat die slagoffer enigsins ‘n keuse het; soms deur desperaatheid.  Wat is immers die grootste sonde?  Om jou lyf te verkoop of om jou kinders te laat doodgaan van die honger as jy hulle kon help?

Durf ons neersien op prostitute?  Behoort ons nie eerder dankbaar te wees dat ons nie in dieselfde posisie gedwing is nie?  Daardie nag in Amsterdam het ek besef dat as ek ‘n foto sou neem van een van die vrouens, buit ek haar ook uit.  Watse reg het ‘n mens om ‘n ander uit te buit?

Sê ek dat prostitusie ‘n aanvaarbare beroep is?

Kan enige een ‘n oordeel vel oor wat aanvaarbaar is om te oorleef?

In ‘n ideale wêreld sal niemand in die posisie ingedwing word nie.  Die omstandighede wat mense in prostitusie indwing, is was onaanvaarbaar is.  Dit is wat uitgeroei moet word.  Nie die mens wat ‘n slagoffer van hulle omstandighede is nie.

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wie was die prostituut in die Bybel wat Joshua gehelp het om Jerigo te ontsnap?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Charles Moore?





Moderne Euwel – Plastiek

27 01 2020
piles of garbage by the shore

Photo by Lucien Wanda on Pexels.com

“Kom ons maak ‘n blogreeks oor euwels” dink ek netnou so by myselwers.  Julle weet mos dat ek ‘n taai onderwerp geniet.  Wat vir jou ‘n euwel is, is nou nie noodwendig vir my ‘n euwel nie.  Nie dat die kwaad sal doen om daaraan te dink nie.

So gedink en nou probeer ek dit so gedaan.  Ek het plastiek as my eerste onderwerp gekies en soek gou ‘n paar verwysings om wat as evangelie verkondig word te staaf.  Die eerste bronlees soos ‘n riller.  Daar is blykbaar ‘n eiland van 1.6 miljoen km² in die Stille Oseaan gemaak van plastiek.  Dit is drie keer Frankryk se grote!  Die tweede bron maak die statistiek as nonsens af.  Aangesien dit ‘n VSA staatsinstelling is, steur ek my nie veel nie.  Ek krap ‘n bietjie verder rond en kom toe op National Geographic af.  Ek reken dit is ‘n betroubare bron en lees gou vinnig daar.

Goed, daar is nou nie ‘n massiewe fisiese eiland in die middel van die see nie.  In elk geval nie ‘n eiland is drie keer groter as Frankryk is nie.  Nie te min, daar is ‘n onsaglike hoeveelheid plastiek in die see, wat deur die son in kleiner en kleiner stukkies afgebreek word.  Dit is nie goed vir die see, die seelewe, die mens of die omgewing nie (almal stem daarmee saam).

Ideaal gesproke moet dit weg.  Die probleem is dat geen land verantwoordelikheid daarvoor sal aanvaar nie.  Geen land het die begroting om dit aan te spreek nie.  Dit sal 67 skepe ‘n jaar lank neem om minder as 1% van die gemors skoon te maak.  Dit is nou as die skoonmaak nie meer skade as goed doen nie.

So, terwyl daar (nog) nie veel te doen is aan die huidige gemors nie, kan ‘n mens mos nou nie willens en wetens die probleem vererger nie.  Om jouself in te hou met plastiek, is seker nou nie so onredelik nie.  Jaaaaaaa, maar hoe?

Ek is heeltemal bereid om op die seepkissie te klim.  Ek het ‘n klomp duursame sakke in my kar vir wanneer ek inkopies doen en ek onthou dit as ek baie goed gaan koop.  Ek het opgehou om plastiek strooitjies en papier strooitjies te gebruik – wel, sover as wat ek moontlik kan.  Toegegee, ‘n piepklein mikroskopiese druppel wat seker nie ‘n vreeslike verskil gaan maak nie.

Die punt is, ‘n klomp goed sal moet verander voordat daar nou regtig ‘n stop in die plastiek toeloop in die see gaan wees.   Ek gebruik nou al 10 jaar lank dieselfde Stasoft bottel, wat ek getrou met hervul pakkies opvul.  Die hervul pakkies is egter nogsteeds plastiek.  Hoekom kan ‘n mens nie jou leë Stasoft (Sunlight, Sjampoe ens) na ‘n winkel neem waar dit uit ‘n groot tenk hervul kan word nie?

Uitgesoekte PnP winkels laat jou ‘n sakkie vir R7.50 koop, waarin jy dan jou vars produkte kan sit.  Die materiaal sakkie kan oor en oor gebruik word.  Ek kan nie wag tot dit orals beskikbaar is nie.  Uiteindelik sal winkels nie hulle vrot appels in ‘n sak wegsteek nie.  Wat egter van ander varsprodukte?  ‘n Mens kan seker ‘n emmer / bottel winkel toe neem vir melk.  Dalk kan jy ‘n kosblik of iets nader sleep vir jou vleis.

Daar word dikwels verwyt dat die moderne samelewing te ingestel is op gemak.  Alles moet reg wees vir onmiddelike gebruik.  Dit is dalk waar.  Dit is immers waar die oorvloedige plastiek vandaan gekom het om mee te begin.  Is daar egter ‘n alternatief?

Vermy jy plastiek?  Hoe probeer jy jou plastiese gebruik inperk?

Breinlosbrand:  Wie het in 1997 die Great Pacific Garbage Patch ontdek?

Breinvasbrand:  Die London Toring Brug is in 1894 geopen.





Die splinter in iemand se oog

19 01 2020

Mense sien so graag neer op toeriste aantreklikhede.  Toegegee; daar is gewoonlik hordes mense en jy moet fyn staan om nie vertrap te word nie.  Ons sal maar eerder nie van die lang toue en die kaartjiepryse praat nie.  Tog, was jy regtig in Parys as jy nie die Eiffel gesien het of in London as jy nooit een van die stad se kenmerke gesien het nie.  Na my mening, kan jy maar jou neus optrek as jy klaar ondersoek het wat die bohaai was.

As ek oorsee is, gaan ek in soveel hoekies en gaatjies inkruip as waarby ek kan uitkom.  So beland ek en my suster so ‘n paar jaar terug by die London Toring brug op.  Natuurlik is kyk vry, maar as jy van bo af wil kyk, moet jy ‘n paar pond hoes.  Wat ons toe ook gedoen het.

architecture bridge buildings calm waters

Photo by Chris Schippers on Pexels.com

Wat ons nou nie besef het nie, is dat die boonste brug ‘n glasvloer het.  Jy kan dus bo staan en vir die rooi busse 42 m onder jou voete staar.

london bridge

Natuurlik, toe ons bo kom, is daar hordes mense wat op die vloer staan, sit, lê ens.  Enige iets vir ‘n goeie foto.  Aangesien ek die aangestelde fotograaf is en Sustermerrie die aangestelde model, is dit voor die handliggend.  Sy moet gaan lê vir die foto.  Sustermerrie het nie ‘n groot liefde vir hoogtes nie, maar hoe anders moet sy die mense wys sy was in London.

Sy staan dus toe maar versigtig nader, en toets-toets die glasblad so versigtig met haar voet.  Het ek genoem dat daar alreeds hordes mense is wat ook wil wys hulle was op die blad?  Ek wil my doodlag vir die getoetsery.  Ek wys vir haar uit dat hoeveel ander mense dit doen.  Sy steur haar min en kry maar so toets-toets haar lê.  Net ‘n gedeelte van haar bolyf, sy wil darem mos nie 42 m ver val in haar eerste en dalk enigste besoek aan London nie.

Ek neem die kamerafoto en die selfoonfoto’s en sy spring vinnig op ingeval die vloer net gaan verdwyn.  Dit is in elk geval tyd om oor te loop, om aan die anderkant te kom.  Ek neem ‘n paar foto’s en gaan agter haar aan.  Net om daar ‘n baie sarkastiese “Um Uhm” gestop te word.

Sien, ek het ook onbewustelik gou ‘n vinnige toetsie gedoen.  Sustermerrie het my natuurlik toe ook uitgevang.

Breinvasbrand:  Wanneer is die London Toring Brug geopen?

Breinlosbrand:  Olga was reg.  Frankryk is die land met die meeste tydzones, danksy hulle oorsese gebiede.  Rusland en die VSA is gesamenlik tweede.

NS:  Die hartseer deel van die storie, is dat ek my geheuekaart verloor het met die foto’s op.





O wat is geld . . .

17 01 2020

money-down-drain

Nou die dag begeer ek so effens op AirBnB rond.  Nie dat ek al ooit in een gebly het nie, maar dit kan mos nie skade doen om te weet wat beskikbaar is nie.

Nou moet ek noem, dat ek met ‘n swaar hart meer as ‘n R1500 / nag vir akkommodasie betaal.  As ek uitstedig is, wil ek beslis so min as moontlik tyd in die hotel of gastehuis deurbring.  Ek soek maar min – gee my ‘n skoon bed, ‘n privaat badkamer en wifi, dan is ek tevrede.  In die prysklas, kry ‘n mens gewoonlik ook ‘n puik ontbyt.

Soos ‘n mens rondkrap, rek ‘n mens se oë vir die R3000 p/n kamers en verstik jy amper oor ‘n R12000 kamer.  Mensekinders, dit is nog niks.  Hoe klink ‘n villa teen R150 000 per nag?

Goed en wel, daar kan 12 mense daar slaap – jy het ‘n uitsig oor die see en die villa kom met ‘n butler en chef.  Maar regtig?  R150 000?  Wie het soveel geld?

Vir R150 000 gaan hou ek (met ‘n maatjie) vir ‘n maand lank vakansie in Europa.  Ons sal in skoon privaat kamers, met privaat badkamers, wifi en ontbyt bly.  Ons sal die meeste besienwaardighede kan aftik, rondtoer en self aandenkings koop.

O ja, ons sal ook veroordeel word dat ons geld mors.  Baie mense sal wat gee om dit as ‘n jaarlikse salaris te kry, dit is amper 3 keer die minimum loon.  R150 000 kan ‘n Kia Picanto koop, maar nie veel meer nie.  Dit bly darem ‘n skaflike deposito vir ‘n kar.  Helaas, dit sal fyn soek kos om dit as ‘n deposito vir ‘n huis aan te wend.  Veral as jy registrasiefooie aan oordragskostes in gedagte moet hou.  Ek weet nie eers of dit genoeg is om ‘n baie basiese operasie te dek nie.

Eintlik is R150 000 niks.  Niks, maar beslis baie meer as wat in my spaarvarkie is. 

Breinvasbrand:  Watter land strek oor die meeste tydzones?

Breinlosbrand:  Olga was reg met die Haaie.    





As kom nie altyd in sakke nie.

5 11 2019

ToffieDaar word gesê dat as gebrande hout is.  Tog is daar twee asse wat mense wat dit snap baie pyn, lyding en vernedering kan spaar.  Die eerste spreek vanself:  “As jy dom is, moet jy sukkel.” Die tweede een word huidiglik so netjies gedemonstreer, dat ek dit nie net kan laat verby glip nie.  “As jy jou vir ‘n toffie uitgee, moet jy verwag om gekou te word.”

‘n Rukkie terug was daar ‘n Suid-Afrikaanse All Black ondersteuner wat dapper genoeg was om alle Springbok ondersteuners te kom aanvat.  Hy het nie een goeie woord vir die groen en goud gehad nie.  Dit is immers sy goeie reg.  Nogtans, wanneer jy grootpraatjies op iemand se vertoning pak, moet jy bereid wees om die prys te betaal.  As jy nie jou grootpraatjies gestand gaan doen nie, gaan jy gemaak word om dit te eet.  Wat presies hier gebeur het.

imagesE1NG2OWH.jpg

Die Springbokke het nie teen die All Blacks gewen nie.  Dit beteken egter niks nie.  Die Engelse het die All Blacks oortuigend geklop en die Bokke het die Rose behoorlik geklop.  Die beste span het dus die Webb Ellis trofee gewen en aan elke egte, trotse, terloopse en selfs toevallige Springbokondersteuner die reg gegee om te spog.  Daarmee saam word die trofee baie vermakerig onder elke teenstaander se neus gevryf.  Dit is die voorreg van die wenspan en die straf van die verloorspanne.

As jy dus nie bereid is om jou woorde te sluk nie, moet jy maar twee keer dink voordat jy jou bek rek oor ‘n span.  Hoe verder jy dit rek, hoe meer mense gaan in die tou staan om seker te maak jy eet elke letter en leesteken van wat gehoor is.  Dit is deel van die pret en as jy ‘n goeie sport is, is dit binne ‘n paar uur (dae of dalk weke in ‘n wêreldbeker) vergete.

Tog is die dapper All Black ondersteuner nie lus vir ‘n ‘humble pie) of 1000 nie.  Vandag het sy vrou Jakaranda gebel en gevra dat die Springbok ondersteuners tog net moet ophou om hulle te teister.  Hoewel ek nie saam stem dat hulle kinders vir die grootbek van hulle vader verantwoordelik gehou word nie, moet jy bereid wees om gekou te word as jy jouself as ‘n toffie uitgee.  Nie agter jou vrou wegkruip nie.

Net my mening.  Dan weer, ek het in my hart blindelings gehoop en glo dat die Bokke gaan wen.

Hoe voel julle?  As jy sout in wonde gevryf het, moet jy aandring op genade wanneer dit jou beurt vir dieselfde behandeling is?  Gaan Bok ondersteuners te ver?

Breinvasbrand:  Daar is ‘n meme wat tans verkondig dat SA die wêreldbeker wen wanneer die Cheetahs die Currie Beker wen.  Nie om ‘n goeie storie met feite te bederf nie, maar die Cheetahs het nie in 1995 die Currie Beker gewen nie.  Wie het?

Breinlosbrand:  HesterNeyNel was reg met Our Lady.

32-to-12-meme-e1572724570670





5 minute te laat en geskiedenis is in as

16 04 2019

images3164XL2Q

‘n Paar jaar gelede was ek bevoorreg genoeg om in Parys te gaan draai.  Die vooruitsig het my nou nie sprakeloos van opwinding gemaak nie.  Nogtans, dit is Parys en ek wou die geleentheid nie vermors nie.  Ek wou die Mona Lisa met my eie oë sien, ek wou die Eiffel Toring opvaar en ek wou Quasimodo speel.  Ek het so effens vergeet van die catacombs.

In elk geval, ons vaar Frankryk binne met die Eurostar.  Ons beplanning was agter mekaar:  ons sou ons bagasie by die hotel gaan afgooi en dan na die Notre Dame gaan.  Klaarblyklik is die toue meer doen baar in die middag.  So gesê (met ‘n klein gesukkel om die hotel te kry), so gedaan.  Ons het nie juis gesukkel om die Notre Dame op te spoor nie.

Ons loop nogal verby die ry aan die kant van die kerk.  Die lengte stem min of meer ooreen met ‘n ry vir ‘n kassier op ‘n Saterdag laat oggend oor maandeinde.  Nou nie ‘n plesier nie, maar doenbaar.  Om die hoek van die kerk sien ons die tou wat ons sterk herinner aan die 1994 verkiesing.  Wel, ons was gewaarsku.  Ons gaan val maar gedwee in die ry en omtrent ‘n uur en ‘n half later is ons in die kerk.

Binne die Notre Dame besef ons toe mos dat ons by die verkeerde ry ingeval het.  Die ry vir die toring is die een aan die kant van die kerk.  Grrr, ons is toe reeds in die kerk en het gou vinnig daar uit.  Raai wat?  Daar mis ons die afsnypunt met 5 min.

Wel, dit was nou maar daar-na-toe.  Ons was nogtans in Parys en ons het toe maar na die Arc de Triomphe.  Dit was wel soos ‘n lastige stukkie vleis wat in jou tande vassit.  Die beste flos was die onderneming om een dag terug te gaan en die toring te trappe te klim.  Iets wat ek inderwaarheid die jaar wou verwesig.  Was dit nie vir 15 April 2019 nie.

3000

Kan ek dit die grootste tragedie sedert 2001 noem?  Die Notre Dame is ‘n Katolieke Kerk, maar dit het nie net Katolieke en Protestante in vervoering gehad nie.  Almal het dit gerespekteer en bewonder.  Alles, behalwe ‘n vlammetjie wat iewers ontstaan het en die hele gebou amper in puin gelaat het.

Dit kan herbou word en die torings staan nog.  Dit gaan egter nie dieselfde wees nie.  Skielik is ek van vooraf spyt oor daardie 5 minute.  Siende dat die torings nog staan en ek dit in elk geval gemis het, is ek sommer spyt dat ek deur die kerk gejaag het.  Het ek genoem dat ek al my foto’s van die vakansie verloor het?

Tipies van die leier van die Paashaasbende.  Kerm oor foto’s terwyl die wêreld toegekyk het hoe een van die grootste monumente verbrand.  Hoe weerloos is die mens en sy wêreld nie teen die element van vuur nie?  Die Notre Dame het die Franse Revolusie en Tweede Wêreld oorlog oorleef.  Net om in 2019 verbrand te word.  Klaarblyklik uit niks.

So kom alles tot niks.

Breinvasbrand:  Wat beteken Notre Dame?

Breinlosbrand:  Vuurvliegie was die regste.  Ek het droog gemaak met die vraag.  Felicity Huffman het nog nooit ‘n Oscar gewen nie, maar sy was vir Transamerica benoem.

 





REGTIG?

14 03 2019

really-pl-ffffff-3

Die Engelse het ‘n uitdrukking:  “Fact is stranger than fiction.” Dit moet beslis waar wees.  Benewens dat daar (gewoonlik) iemand regstaan om seker te maak fiksie raak nie te buitensporig nie, moet die inspirasie vir fiksie van iewers vandaan kom.  Dit raak seker soms ‘n kringloop.  Fiksie word geinspireer deur werklike gebeure wat soms deur fiksie geinspireer word.

Soos hierdie ou wat vir 20 jaar lank sonder die nodige lisensie vliegtuie internasionaal gevlieg het.  Aan die een kant, niemand is in die 20 jaar met hom agter die stuur dood nie.  Soos ek die storie verstaan, kon hy vlieg, maar het nie die nodige administratiewe papiere gehad nie.  Dus ‘n kwessie van burokrasie.  Is dit werklik net burokrasie of is dit net geluk dat niemand dood is nie.

Dan hierdie see van ryk en bekende Amerikaners wat hulle kinders met omkopery in goeie universiteite gekry het.  Ek hoor Felicity Huffman is glo op $250000 borg uit nadat sy haar dogter se pad universiteit toe met $15000 wou koop.  As jou kind nie op eie stoom die universiteit se deure kon oopmaak nie, sal hy / sy op eie stoom daar deur kom?  Of moet die tjekboek ook daarvoor help?

Omkopery is skandalig, maar is dit regtig die hof en vervolgers se tyd werd?  Ek het van iemand anders gehoor wat glo op borg van ‘n miljoen dollar uit is.  Gaan dit nie genoeg straf wees om aan die groot klok gehang te word nie?

Aan die ander kant, waar in jou lewe het jy al van ‘n staatskaping gehoor?  Dit is al jare lank aan ‘n groot klok, maar lyk nie juis of die betrokkenes hulle skaam nie.  Dalk moes daar ook arrestasies gewees het met biljoene (hulle kan dit bekostig) vir borg.

Interessant hoe die Amerikaners omkopery by ‘n universiteit hanteer terwyl Suid-Afrika heel ongeërgd is nadat die land gekoop is.

Breinvasbrand:  Waarvoor het Felicity Huffman ‘n Oscar gewen?

Breinlosbrand:  Vuurvliegie was reg met Panjo.





Wegkruipertjie

13 03 2019

imagesDME3ZH9X

Daar word beweer dat die wêreld klein is.  In baie gevalle is dit skokkend presies hoe klein dit is.  Daar is byvoorbeeld die teorie van “7 degrees of separation”.  Dit behels basies dat daar 7 mense tussen jou en enige persoon op aarde is.  ‘n Geval van A ken B wat vir C ken tot jy by die spesifieke persoon uitkom.  Dit klink gek, nie waar nie?  Tog – ek ken iemand wat die koningin van Engeland se hand geskud het.  Dus is daar een persoon tussen my en Elizabeth.

Kyk ook hoe maklik dit is om op enige punt op aarde te kom.  ‘n Mens kan deesdae tot in Antartika gaan vakansie hou as dit jou behaag.  Toegegee, jy moet diep sakke hê daarvoor.  Nogtans is dit verstommend hoeveel mense die wêreld plat toer met los werkies.  Waarmee hulle gaan aftree, weet ek nie, maar hulle sal baie stories hê om op die ouetehuis se stoep te vertel.

Is dit dan nie verstommend hoe iets net tussen neus en ore kan verdwyn nie.  Ek kon byvoorbeeld vanoggend nie die spesifieke broek kry wat ek wou aantrek nie.  Dit was nie in my kas nie, dit was nie in die spaarkamer se kas nie en dit was nie in die wasgoedmandjie nie.  Ek is seker dit is iewers, maar vet alleen weet waar.

Dan praat ons nie eers van leeu se kind wat al amper ‘n maand lank in die Karoo rondloop nie.  Hulle kry hier en daar ‘n spoor, maar vuilbaard word nie met ‘n oog gesien nie.  Die beste spoorsnyers en tegnologie word ingespan, maar die mannetjie wys hoekom hy die koning van die oerwoud (of semi-woestyn) is.

Malaysian Airlines se vlug 370 is nou nog na 5 jaar soek.  Ons praat van ‘n massiewe vliegtuigwrak wat net verdwyn het.  Hier en daar is daar ‘n stuk gekry, maar die romp met al die siele daarin, is weg.  Iets wat mense nog vir jare gaan fasineer.  Dit het immers dekades geneem om die Titanic se wrakstukke op te spoor en hulle het geweet waar dit gesink het.

Mense kan ook nog verdwyn.  Dink maar aan die sogenaamde “Vermisde meisies”.  Hulle is al 3 dekades weg en niks van hulle is al gekry nie.

Die wêreld mag dalk klein wees, maar daar is baie goeie wegsteek / wegkruiphoekies?  Wie weet, dalk is daar net een wegsteekhoekie waarvan bittermin weet.

Breinvasbrand:  Wat was die naam van die tier wat oppad na die veearts uit die bakkie gespring het waarmee hy vervoer was en ‘n paar dae soek was?

Breinlosbrand:  Hesterleynel was reg met Tinkerbell.





Net een klap

12 03 2019

25837_25844_25057_25839_25849_25845x

Man, jare gelede was daar mos hierdie feetjie wat uit my kas getuimel het.  Letterlik – dit was een keer in ‘n dekade wat ek ‘n poging aangewend het om netjies te maak en ‘n feetjie gekry het om dit te berou.

Nadat sy my geduld tot die uiterste beproef en my laat kop krap soos min ander, het sy eendag besluit dat dit tyd is dat sy aanbeweeg.  Ek was nie seker of ek bly of verlig moes wees nie.  Die tyd wat sy by my gebly het was interessant.  Tog moet ‘n mens onthou dat dit ‘n Chinese vloek is om in interessante tye te bly.

In elk geval, toe ek nou die dag by die huis kom, is juffrou sak en pak terug.  Sy het my sonder seremonie uit my bed geboender en skielik moes ons weer kyk wat sy wou kyk.  Ek wou nog vra vanwaar gehasie, maar ek is dadelik verwyt of sy dan nie welkom is nie.  Mens kan nie wen nie.

Ek het darem meer geduld as die gewone mens en ek het geweet dat dit net ‘n kwessie van tyd is.  Dit verskaf die feetjie mos oneindige plesier om met my skaak te speel.  Sy het nie eers ‘n skaakbord of skaakstukke nodig om my tussen die duiwel en die diep blou see te sit nie.  Helaas, het ek nog nie geleer swem nie, maar ek sal probeer om die duiwel te versuip.

Sy het al die seisoene van haar gunsteling programme deur gedraf en dit was nie lank nie, toe is sy iesegrimmig omdat ek nie die nuutste seisoen gehad het nie.  Die dikbekkigheid het oorgewaai en toe is sy verveeld.  Verveeld en opsoek na ‘n gek.

Jy kry een klap.” kondig die feetjie vernaam aan.

Klap aan my en jy gaan dit berou!” waarsku ek voortydig.  Ek meen, daar is grense en seker grense mag niemand oortree nie.

Daar rol haar ogies asof dit wiele aan ‘n resieskar is.

JY kry een klap . . . om uit te deel!” verduidelik sy verergd.

In my beste Afrikaans vra ek “Huh?”.  Sy mag irriterend wees, maar ek soek nie die dood van ‘n feetjie op my gewete nie.

As jy een ding kan regklap, wat sal jy regklap?”

Net een ding!  Die verbrande fee.  Hoe kies ek net een ding om in hierdie land van ons reg te klap.  Waar begin ‘n mens?  Wat sal julle graag wil regklap?

Breinvasbrand:  Wat was Peter Pan se feetjie se naam?

Breinlosbrand:  Vuurvliegie was reg met Video Killed the Radio Star.