Garboeke

20 11 2009

Ek en tannie Ousie

Eet ‘n roomyskoek

Met baie rooi koeldrank

Omdat sy vervel.

Oe!  Maatjies.  Nou skree my magie eers.  My ouma het altyd gesê ‘n mens moet eers al jou kos opeet voordat jy kan roomys kry.  Ek het nog nie my kos geëet nie.  :shock:   Ek moet nog gaan kos maak. 

Ek en Tannie Ougat het glad nie in die Kaapplek potjies gemaak nie.  Ons het orals sommer vis en tjips gekoop.  Ek het soos ‘n haai gevoel omdat ek so baie vis geëet het.  Tannie Ougat het gesê vis is goed vir my brein se ontvroeteling.  Ek het nie geweet wat ‘n brein is nie.

Een het ons hierdie snaakse visse gekoop.  Hulle het ogies amper so groot soos ertjies met fyn dun pootjies.  Tannie Ougat het gesê hulle is garboeke.  ‘n Heksie moet eers sy koppie stomp afbreek.  Daarna dop jy sy dop af amper soos ‘n heks met rooi eiers maak.  Die stukkie vis wat jy dan kry, eet jy.  Heerlik.  Tone lek lekker!

Xena gevertel my dit is sommer seesprinkane.  Gmf!  Sy dink seker weer ek is ‘n dom heks.  Ek ken ‘n springer as ek een sien en die garbroeke kan nie spring nie.  Hulle lewe onder die water sonder om te versuip. 

Ek wil nou weer garbroeke eet voordat ek roomys en rooi koeldrank drink.

Breinvasbrand:  Watter land is die grootste uitvoerders van garnale waarmee daar geboer word?

Breinlosbrand (Woensdag):  Basjan wat reg met ‘n .44 magnum.

Breinlosbrand (Donderdag):  Dankie Nell vir die vraag: La Belle au Bois dormant wat “Die skoonheid wat slaap in die woud beteken.  (The Beauty asleep in the wood)

Die administrateurs vra om verskoning vir die Nuusbrokkies wat nie vandag verskyn het nie.  Daar was tegniese probleme wat nou uitgestryk is.





Die Slaap, die wondersoete ding

19 11 2009

Ja, ek weet.  Dit is nie vandag se tema nie.  Julle wil nie weet waardeur ek moes gaan om iets vir vanaand te skryf nie. 

Ek sit so gisteraand en dink.  Elke mens se idee van gaan slaap is anders.  Dit is amper soos ‘n ritueel, iets wat getrou elke aand gedoen word.  ‘n Soort afskakeling vir die nag wat wag.  Vanaand wil ek weet, hoe berei jy jouself voor om te gaan slaap?

Ek klim gewoonlik vroeg-vroeg in die bed.  My televisie is in my kamer (daar is nie ander plek nie) en ek kan ook gemaaklik met die rekenaar op die bed speel.  Dit is ook die plek waar ek meestal lees.  Kortom, ek spandeer baie meer as ‘n derde van my lewe op die bed.  Ek drink gewoonlik my laaste iets (koffie/melk / warm sjokolade) om nege uur.

Ek mik gewoonlik om die lig teen 11 uur af te sit.  Afsit, beteken nie slaap nie.  Ek sal eers gou vinnig stiltetyd hou en my badkamersake afhandel.  Dan sal ek die lig afsit en in die bed klim.  Die televisie kan dan nog moontlik aan wees.  Ek sal vinnig van my selfoon deur al die blogs hardloop wat beteken dat ek moontlik kan kommentaar lewer.  Ek sal dan besluit dit is tyd om te slaap. 

Ek slaap baie woes, maar raak half op my sy, half op my maag aan die slaap.  Dit is gewoonlik in die tyd wat my gedagtes met my weghardloop.  As ek dan ‘n goeie idee het, is dit tickets.  (Ek is oor die algemeen ‘n goeie slaper, ek slaap ook deur alles.)   Ek kan dan moontlik nog ‘n draai by die blogs en my epos maak.  Dan sal ek gaan slaap.  Ek slaap net met een kussing.  In die winter druk ek gewoonlik ‘n kussing agter my rug in vir die koue.  Ek slaap sonder ‘n teddiebeer.

En julle?  Hoeveel kussings en hoeveel ure ‘n nag?  Enige vreemde gewoontes?

Breinvasbrand:  Wat is Doringrosie se oorspronklike titel en wat beteken dit?

Baie geluk aan Willekjind wat vandag (20 November) weer 12 word. 





Nuusbrokkies

19 11 2009

Ek kan niemand blameer wat ‘n ietsie uit Browns probeer smokkel nie.  Ek sal self probeer was ek ‘n kwart kans het.  ‘n Browns werknemer was aangekeer nadat hy in Johannesburg goud in ‘n gaar hoender probeer steel het.  Die metaalverklikkers het hom uitgewys. 

Maketa Moloantoa (21) het ‘n baie duur prys betaal vir aapstreke in die Park View Winkelsentrum.  Na ‘n kuier in ‘n restaurant het hy op die roltrap se reeling gespring om na onder te gly.  Na 1.2 m het hy sy balans verloor en kop eerste na onder geval.  Hy het ernstige kop en nekbeserings opgedoen en hy het later in die Pretoria Oos Hospitaal dood. 

Die universiteit van Kwa-Zulu Natal het Ceasar, ‘n 27 cm hoog en 70 cm breë robot, bekend gestel.  Daar word gehoop dat Ceasar in die toekoms in soek en reddingspogings gebruik kan word.  Die koordlose robot kan in klein areas ingaan om vas te stel of daar mense in ‘n klein area vasgekeer is in ‘n brand.  Dit het ook ‘n luidspreker waarmee die slagoffer van raad voorsien kan word, terwyl hy gered word. 

Daar is ‘n eensame krokodil in die Dusi en hy is honger.  Nivash Dhookran het kruie aan die oewer van die Dusi gepluk toe ‘n krok sy bek onverwags langs hom rek.  Hy het weggehardloop.  Organiseerders het die rivier met helikopters gefynkam, maar niks gekry nie.  Tog sien mense langs die rivier gereeld die krokodil. 

Slotvertoë word vandag verwag in die saak van Kapt Renate Barnard die polisie van rasdiskrimininasie aankla.  Sy is al twee keer vir bevordering oorgesien omdat sy wit was.  Die poste is leeg gelos nadat daar geen geskikte swart kandidaat gevind is nie.   

Ten slotte:  In Papoea-Nieu-Guinee het 8 mans vir 2 maande op ‘n  7m lange roeibootjie in die Stille Oseaan oorleef.  Hulle het water in die boot opgevang en dryfhout geëet.  2 mans is dood voordat hulle gered is, in sluitende ‘n seun wat in die see verdrink het terwyl hy probeer het om sy hemp te red.





Die wat nie val vir belaglikhede nie

18 11 2009

Ek wonder of iemand ooit in die openbaar sal erken dat hulle aan Gun Free South Africa (GFSA) behoort?  Eerlik, ek erken eerder dat ek pensioengeld gesteel het voordat ek met hulle verbind het.  Al is ek onskuldig.

Ek weet nie of ek moet lag oor huil oor hulle nuwe veldtog nie.  Hulle wil speelgoed vuurwapens van die rakke af laat verwyder, ouers ontmoedig om dit te koop en kinders aanmoedig om van hulle speelgoed vuurwapens in te gee.  Hulle sukkel seker met die regte wapens, nou oefen hulle op die onskadelikes.

Blykbaar lyk speelgoedwapens meer en meer na regte wapens en wat dikwels in rooftogte gebruik word.  Ongelukkig het hulle ‘n punt beet hier.  Hulle voer verder aan dat ouers kinders toestemming gee om vuurwapens te koop wanneer hulle die speelgoed vir hulle kinders koop.  Kinders se speletjies is oefening vir wanneer hulle groot is.  Blykbaar sal hulle nie tussen die ware Jacob en ‘n speelding nie. 

Weereens iemand wat as grootmense op die aarde geland het wat sulke tjol kan uitdruk.  Almal weet wat die verskil is.  Buitendien sal ‘n verantwoordelike vuurwapeneienaar sy wapen ver buite bereik van kinders bêre.  Kinders is beslis in staat om te onderskei tussen regtig en speel.  En ‘n mens dra nie al jou spelery oor na die grootmens wêreld nie. 

Pick & Pay het aangedui dat hulle die projek gaan steun, behalwe met water gewere.  My dunk van Kies en Betaal het sommer nou gedaal. 

Ek salueer almal wat nie vir dit gaan val nie.  ‘n Mens moet darem nie die dam onder die eend uit ruk nie. 

Breinvasbrand:  Watter vuurwapen gebruik Dirty Harry?

Breinlosbrand:  Bobbejane.





Nuusbrokkies

18 11 2009

Die brandende lyk van ‘n blonde meisie (16 – 20) is langs die pad tussen Orange Farm en Poortjie deur ‘n verbyganger gekry.  Daar was iets op haar uitgegooi toe sy aan die brand gesteek is, vermoedelik terwyl sy nog lewendig was.  Haar gesig is onherkenbaar verbrand.  Niemand wat aan haar beskrywing voldoen is as vermis aangemeld nie. 

Jackie Selebi voer aan dat Vusi Pikoli aan dat hy Selebi vir duistere motiewe vervolg het.  Pikoli se vrou, het glo miljoene rande se aandele verniet gekry aan die Kebble Myne.  Dit is dus die eintlike rede hoekom Selebi vervolg word.  Pikoli het dit ontken en alles as leuens afgemaak.

Polmed, die polisie se mediese fonds, se beursie gaan geskud word betreffende ou polisielede.  Lede wat langer as 10 jaar in die polisie was mag aan die Polmed behoort en Polmed moet hulle bydrae nog steeds subsideer.  Dit is terugwerkend tot 1 Maart.  Polisielede wat met die voorwaarde van geen subsidisie by die Polmed aangebly het, se subsidisies is terug betaalbaar.

Skole se beheerliggame betaal tot 50 000 onderwysers en 100 000 admin personeel se salarisse.  Dit kom uit skoolfondse uit.  Dit is meer as 515% meer as 10 jaar gelede.  Meer as 60 000 poste van die onderwysdepartament is al sedert 2006 vakant.  Dit laat my wonder.  As die departament die poste gaan vul, gaan die beheerliggaamposte nog nodig wees?  En sal die departament dit vul terwyl die beheerliggame al reeds opgetree het? 

Ben Aplain (27) het homself in Wierdaburg polisieselle gehang.  Hy was sondig op aanklagte van gesinsgeweld en aanranding gearresteer. 

Almal weet dat drank mors net so erg is as vrouslaan.  Geen wonder dat Ernest Shackleton se besending McKinlay & Co.-whisky deur boorders gesoek gaan word.  Dit is al sedert 1909 in die Antarktiese ys verlore.  Die distillery het vir ‘n monster gevra om te toets of die whisky weer gemaak moet word.  Ek wonder of dit nog drinkbaar is? 

‘n Blogger, Belle du Jour, wat as ‘n hoëklas-sekswerker geblog het, sy identiteit is bekend gemaak.  Sy is Brooke Magnanti (34) wat ‘n PhD het en ‘n wetenskaplike navorser is.  Sy het haarself in die Sunday Times bekend gestel, nadat die Daily Mail ‘n ondersoek gelei het en haar die week sou onmasker.  Magnati het 14 maande as prostituut gewerk terwyl sy haar meestersgraad gedoen het.  Wat het tog geword van anoniem blog? 

Ter afsluiting:  Parlementslede beskou Ras Dumisani se vertolking van die volkslied as hoogverraad.





Feral Kinders

17 11 2009

Die regte Afrikaans is blykbaar wildekinders, maar ‘n 3 jarige wat ‘n tantrum is in my oë wild.  Die wilde kinders waarvan ek praat is diegene wat min of selfs sonder enige menslike kontak groot geword het en dan soos diere optree.  Iets hartseer en glad nie stout of prettig nie.  Eintlik is hulle ‘n klag teen die mensdom. 

Die kinders kom van ‘n verskeidenheid van omstandighede.  Party mense ken hulle as wolfkinders, omdat die kinders dikwels deur wolwe en ander diere versorg word.  Ongelukkig is dit nie kinders wat om een of ander rede van hulle ouers geskei is nie.  Dit is dikwels hulle eie ouers wat hulle uitsmyt, juis omdat ouers nie die kind se gestremdheid kan aanvaar nie.  Nie dat alle ferale kinders gestremd is nie.  Sommige van die kinders was ‘n groot deel van hulle lewens opgesluit (weereens baie keer deur hulle eie ouers) en het hulle nooit basiese vaardighede geleer nie.

Verwerping en/of verlating, dus voorafgaande ernstige trauma is iets wat al die kinders in gemeen het.  Dit kon met mishandeling voorafgegaan gewees het.  Hulle ken nie menslike versorging en liefde nie.  Hulle het nooit geleer was sosiaal aanvaarbare optrede is nie en ken glad nie menslike taal nie.  Die kinders wat deur diere groot gemaak is, boots dikwels hulle “pleegouers” se gedrag na.  Diegene wat bv saam met wolwe gewoon het, eet net rooi vleis.  Hulle loop ook soos die diere waar hulle gewoon het en maak soortgelyke geluide as die diere.  Die kinders wat op hulle eie gewoon het, eet dikwels net plantaardige kosse. 

Asof die aanvanklike verwerping nie erg genoeg is nie. . .  Daar is gewoonlike wye belangstelling wanneer so ‘n kind ontdek word.  Hulle word toegegooi onder aandag en skenkings.  Ongelukkig taan die belangstelling ook weer net so vinnig.  Hierdie kinders eindig gewoonlik in ‘n inrigting op waar hulle weg van alles af moet doodgaan.

Dit is amper ‘n onbegonne taak om die kinders te help, die meerderheid kom nooit “reg” nie.  Hulle leer ook baie selde mens taal aan en beweeg vir die res van hule lewe soos hulle gedoen het toe hule nog nie ontdek was nie.  Hulle sukkel selfs om te leer hoe om die toilet te gebruik.  Alles goed wat ons as vanselfsprekend aanvaar wat hulle nie as kleuters aangeleer het nie.

Soos Genie, die meisie in die onderstaande foto.  Sy is in 1970 ontdek.  Sy was op 14 maande as stadig gediagnoseer.  Haar pa het hoor elke dag vir omtrent 12 jaar lank op ‘n potjie vasgemaak.  Haar ma en broer was toegang na haar verbied gewees.  4 jaar nadat sy ontdek is het fondse opgedroog omdat sy so min vordering gemaak het.  Sy was op ‘n stadium by pleegouers wat haar nog verder mishandel het.  Sy is vandag, 35 jaar later, in ‘n gestig.  Niemand het ooit weer probeer nie. 

Suid-Afrika het ook hulle deel in wilde kinders gehad.    Die mees onlangse voorbeeld is Mthiyane.  Hy was 5 jaar oud en het ongeveer ‘n jaar lank saam met blou ape in Natal gebly.

Ek dink die hartseerste is dat ‘n mens vandag nog feral kinders kry.  Van Wikipedia is dit die lys wilde kinders wat sedert 2000 ontdek is.  ‘n Mens moet onthou dat van die kinders vroeg genoeg gekry is.  Daar is ook baie onware verhale van feral kinders in die omloop.  Mense sal enige iets doen vir sensasie. 

  • 2001 – Alex, die hondseun wat in Chile ontdek is.
  • 2002 – Traian Cãldãrar is in Romanië ontdek nadat sy 3 jaar saam met wilde honde gebly het.
  • 2004 – Andrei Tolstyk is deur ‘n waghond in Rusland groot gemaak nadat sy ouers hom verlaat het.
  • 2007 – Lyokha ook van Rusland wat saam met ‘n trop wolwe gewoon het en soos ‘n wolf opgetree het.  Hy was in Moskou in ‘n hospitaal opgeneem waar hy gebad en sy naels geknip was, hy mediese behandeling en ‘n paar etes gekry het voordat hy ontsnap het.  Hy is vermoedelik steeds in die wild. 
  • 2008 – Danielle Crockett, VSA, was vir die eerste 7 jaar van haar lewe opgesluit gewees.  Sy is aangeneem en kry intense terapie om haar aan die menslike omgewing gewoond te maak.  Dit is nog net ‘n jaar, hopenlik gee haar versorgers nie op nie. 
  • 2009 – Natasha, ‘n Russiese 5 jarige meisie wat haar lewe lank in ‘n kamer saam met honde en katte opgesluit was.  Daar was geen warmte, water of rioolstelsel gewees nie.  Soos honde spring sy teen mense en deure op en blaf vir haar versorgers. 

Hopenlik is daar vir die kinders ‘n bietjie genade.  Hoe dink julle behoort hulle gehelp te word?

Lees gerus hier vir meer inligting. 

Breinvasbrand:  Suid-Afrika het in 1904 ‘n ferale kind, genaamd Lucas, gehad.  Dit word vandag net as ‘n storie beskou, maar dit het destyds groot opslae gemaak.  Watter tipe diere het Lucas na bewering versorg? 

Breinlosbrand:  Olga was reg met Rudyard Kipling.





Susters, susters, susters

17 11 2009

P1000784

Mense – hier is julle reminder.  Julle absolute laaste kans om vir Sisters in te skryf. 

Hier is die reëlings. 

Datum:  28 November

Tyd:  Die 4 km begin om 10h30

Drag:  Rissies teen Sissies t-shirts.  As jy nie een het nie, kan jy een by my bestel vir R60.

Wie gaan daar wees:  Xena, Laviga, Selene, Girl van die Suburbs, Olga, Baby Jane, Wheelbarrow Jack (grappie, hy sê hy is te ver.  Ek verwag jou Teddiebeer, Domkrag), Fokker en amper vergeet ek Willekjind.  Almal met maatjies. 

Koste:  R100 by Xena inbetaal en ‘n vriendelike versoek om ‘n teddiebeer te skenk.  Onthou ook dat ek nie sal weet dat jy inbetaal het as jy my nie laat weet nie.  Dit sal vir ‘n erkende organisasie met ‘n fondsinsamelings nommer geskenk word.

Waar:  Campus in Bryanston

Hoekom:  Stap vir stap teen vroue en kindermishandeling.  Doen iets konstruktief, in plaas om net daaroor te praat.  Daar is niks verkeerd daarmee dat dit vet pret ook is nie. 

Sien ons jou daar? 

Moenie vergeet, al kan jy self nie loop nie, kan jy nog steeds ‘n teddiebeer of twee skenk.  Hulle gaan vir die behandeling vir verkragtingslagoffers.

Epos my gerus by amaal3@gmail.com as jy meer inligting soek.

Rissies-Teen-Sissies-Groete





Nuusbrokkies

17 11 2009

Beandri Booysen is saam met haar ouers oppad Boston toe waar sy aan ‘n kliniese proefneming oor progerie.  Die 4-jarige is in 2006 met Hutchinson-Gilford se progerie-sindroom, dieselfde sindroom waarin Fransie Geringer destyds gelei het.  Die kinders het ‘n lewensverwagting van 13 jaar.  Nog 44 kinders van 19 lande gaan aan die proefneming deelneem. 

‘n Man is dood nadat hy aan die 94.7 fietswedren Sondag deelgeneem het.  Hy het net na die eindstreep in mekaar gesak, moontlik weens uitputting en dehidrasie. 

Dr Chantel Reddiar het mediese afval agter haar spreekkamer in Nelspruit verbrand.  Haar verskoning is dat sy ‘n junior dokter is wat nie van beter weet nie.  Sy het glo die plaaslike hospitaal gebel om die afval te verwyder, maar hulle het geweier.  Sy het ook naalde in die asblik gegooi wat nie vooraf vernietig is nie. 

Robbie Klay se ma was gister in die getuiebank.  Volgens haar het Els belowe om Klay van die lewe te leer, maar sy het nooit aan molestering gedink nie. 

‘n Maroelaboom het op die DBV hut in Baberton geval en dit vernietig.  Geen diere is in die voorval beseer nie.  Voertuig toegang tot die perseel en die diere se hokke is tans nie moontlik nie.  Die munisipaliteit is gevra om die boom te verwyder, maar dit is onseker wanneer dit gaan gebeur.

11 November was die verjaarsdag van twee van Bloemfontein se oudste inwoners.  Christina Khamale (112) en  Puleng Maleleka (108) bly net ‘n paar blokke van mekaar, maar het nog nooit ontmoet nie.  Christina maan die jonger geslagte om respek vir ou mense te hê en Puleng deel weer skroberings uit vir die wat nie kerk toe gaan nie.  Altwee word deur hulle dogters versorg.





Is anders foutief?

16 11 2009

Ek het die afgelope naweek vir die eerste keer Nell (Jodie Foster en Liam Neeson) gekyk.  Dit handel oor ‘n jong vrou wat ontdek word nadat haar ma sterf.  Sy was nog nooit in aanraking met enige iemand anders nie en het nog nooit die beskawing gesien nie.  Sy praat een of ander onverstaanbare taal.  Haar ma het ‘n beroerte gehad en was verlam aan die een kan van haar liggaam.  Dit het haar spraak aangetas.  Daar is later aangeneem dat Nell se taal ‘n vermening was van hoe haar ma gepraat het en tweelingtaal.  Haar identiese tweeling is as kind dood.

Twee dokters moet besluit of Nell in ‘n inrigting opgeneem moet word en of sy in staat is om op haar eie te oorleef.  Haar verstandelike vermoë word betwyfel omdat sy onverstaanbaar babbel en soms vreemd optree.  Hulle verstaan nie wat met haar aangaan nie, dus moet daar met haar fout wees. 

Ironies, nie waar nie.  Die oomblik wanneer ‘n Amerikaner – wag, laat ek regverdig wees – ‘n mens  met iets gekonfronteer word wat hulle nie verstaan nie, is dit verkeerd.  Daar skort nooit iets met die mens se begrip nie, as dit nie in die algemene blokkie pas nie, is dit foutief.  Klaar!  Daar word nie ‘n rede gesoek nie, niemand stel belang in ‘n verklaring nie. 

Ek moet toegee dat die mens dit altyd probeer regstel.  Die enkeling of minderheid word teen alle kostes gehelp.  Iemand besluit wat vir hulle die beste is, sonder om in ag te neem dat hulle moontlik self weet wat die beste is nie.  Hulle versorging word uit hulle hande geneem, hulle besluitneming word beperk, hulle menswaardigheid word hulle ontneem.  Net omdat diegene wat hulleself as intellektueles beskou iets gekry het wat bokant hulle intelligensie is.

Hoekom?  Is dit vrees?  Vir wat, om te erken ek weet nie en my teorieë kan verkeerd wees?  Is dit dalk omdat dit skrikwekkend is dat iemand buite die mens se raamwerk kan oorleef en selfs dalk gelukkig kan wees?  Kan ‘n mens ‘n oordeel vel oor ‘n ander se lewenswyse?

Breinvasbrand:  Wie het “The Jungle Book” geskryf?

Breinlosbrand:  Eureka.





Te goed om waar te wees?

15 11 2009

Daar is seker ‘n afgryslike straf om as naïef gesien te word.  Party mense sal enige iets doen om dit te vermy.  Dit is veiliger om te glo dat iets wat te goed lyk om waar te wees, onwaar moet wees.  Die teendeel gaan vrae vra waarvoor daar nog geen antwoord is nie.  Daarom moet die fout by hulle oë wees wat hulle beslis bedrieg.

Dit is geen nuwe konsep nie.  Ek was die volgende storie as die reine waarheid vertel.  In Cullinan, 26 Januarie 1905, het Frederick Wells ‘n deurskynende steen ongeveer 9 m ondergronds gekry.  Hy het dit opgewonde aan sy hoof gewys, wat dit een kyk gegee het en dit toe by die venster uitgegooi het.  Mooi klippe is goed en wel, maar hy is betaal om diamante te myn.  So groot diamand is net nie moontlik nie.

Buite die venster het iemand dit opgetel en huis toe gevat.  Hy het jare terug sy vrou die grootste diamant in die wêreld belowe en nou kan hy darem ‘n poging aanwend om die belofde na te kom.  Kan julle die toneel voorstel?  Jy is besig met jou sleurtakies voor aandete.  Jou man kom in en gee jou die diamant wat hy in julle hofmaakdae belowe het.  Jy raak eers opgewonde tot hy vir jou lag en vertel dit is net ‘n klip.  Die volgende dag is hy terug werk toe daarmee.  Moontlik sodat iemand anders dieselfde storie vir sy vrou kan gaan opdis.

Iemand doen verdere toetse en skielik is die onwaarskynlike ‘n voldwonge feit.  Die klip is ‘n 3106 karaat diamant.  Ek is seker daardie man was toe bitter spyt dat hy dit nie by sy vrou gelos het nie.  Mooi klippe was daardie tyd nie verkoop nie en groot diamante ook nie.  Die Transvaalse regering het brownie points nodig gehad en het die diamant as ‘n geskenk vir Koning Edward VII.  Dit was later in 9 groot stene en verskeie kleiner steentjies verdeel.  Vandag nog is dit die grootste diamant wat nog gekry is en pryk dit trots in die Britse kroonjuwele.

Wat sê jy vir jou vrou as die waardelose klip wat jy haar gegee het, nou goed genoeg is vir die Britse Kroon?  Wat doen jy jou man aan na so ‘n voorval?

Om te dink, dit is beslis nie die enigste diamant wat met soveel minagtende ongelowigheid behandel was nie. 

Breinvasbrand:  As wat staan die diamant bekend wat deur Erasmus Jacobs in 1867 naby Hopetown opgetel is?

Breinlosbrand:  Simon van der Stel was op die skip, Cappel, ter see gebore.