Reg en regverdig

7 07 2016

6 jaar tronkstraf vir moord is vir baie mense ‘n bietjie dik vir ‘n daaler.  Ek is geen regskenner nie, maar ek is seker die storie gaan weer in die Appélhof draai.  Die reg sal seker sy gang gaan, maar baie mense is bitter ongelukkig daaroor.  Iemand het juis gister op Twitter die volgende kwyt geraak:  “Dear Black Child.  Don’t go killing others thinking you are #OscarPistorius, you’ll NOT get a lighter sentence than 15 years in jail.” 

Daar is baie te sê oor die tweet (en ander in dieselfde lyn), maar dit verander nie die persepsie wat daar tans heers nie.  Die reg is inherent rassisties.  Dit is terloops nie net ‘n plaaslike persepsie nie.  Ek is te lui om nou te gaan soek, maar daar was in Amerika navorsing gedoen wat gewys het dat gekleurdes deurlopend swaarder strawwe as hulle ligte tydgenote kry.  Dit is natuurlik ook ‘n ekonomiese vraagstuk, maar dan word daar weer rede gesoek oor hoekom gekleurdes in ‘n slegter finansiële posisie is.

Vraag is egter:  “Word ‘n 6 jaar tronkstraf gekoop met ‘n ligte vel, ‘n gestremdheid of ‘n sak vol geld?”  Feit is dat die gelukkige oortreder finansieel geruïneer is.  Dit is iemand wat skatryk was voor die moord en wat uit ‘n ryk familie gekom het.  Goeie regspersone is nie goedkoop nie en is nie vir elkeen beskore nie.

Kom ons neem vir Pieter (‘n kelner), Fatima (‘n klerk), Thando (‘n motorwerktuigkundige) en Avatar (‘n persoon met ongespesifiseerde ras en geslag).  Maandagaand het hulle elkeen in afsonderlike gevalle aan hulle buurman se deur geklop, ‘n pistool teen die man se kop gedruk en die sneller getrek.  Hy het in die voorval gesterf en die beskuldige is met bloed op sy/haar hande in hegtenis geneem.  Elkeen se motief is dat dit ‘n donkermaan was.

Vraag is nou wie gaan die lankste trunk toe?  Wie kry die vinnigste parool?  Met die beskikbare feite en ‘n regverdige regstelsel, behoort elkeen ewe lank tronk toe te gaan en ewe gou vir parool in aanmerking te kom.  Is dit regtig die geval?  Wie gaan die minste simpatie kry?  Sou daar ‘n verskil gewees het as die slagoffers wit was?  Wat daarvan as die slagoffers swart was?  Wie sou dan die grootste vark in die verhaal gewees het?

Kom ons veronderstel dat die reg regverdig is en dat Pieter, Fatima en Thando elkeen lewenslank tronk toe gestuur is.  Avatar het egter ‘n kelder vol Krugerrande.  Hy huur die beste advokaat in die land.  Die advokaat gaan argumenteer dat Avatar vas geglo het hy skiet ‘n spook.  Hy haal presedente aan van soortgelyke gevalle waar die oortreder vrygespreek is.  Verder het hy ‘n wêreldbekende wat getuig dat die fases van die maan ‘n mens se goeie oordeel kan belemmer.  Na ‘n 3 jaar lange saak, het Avatar nie meer een Krugerrand oor nie, maar hy/sy kry tronkstraf van 8 jaar.

Is Pieter, Fatima en Thando regverdig behandel?  Hulle het immers presies dieselfde misdaad gepleeg as Avatar?  Word regverdigheid net met geld gekoop?  Sou Avatar se velkleur die skaal se gewig geaffekteer het?

Hoeveel vertroue kan jy in die reg stel?

Breinvasbrand:  Waar is die hoogste Hof van Appél in Suid-Afrika gesetel?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Bud van sy gunsteling bier, Budweiser, en Spencer van sy gunsteling akteur, Spencer Tracey.





Waardigheid kom nie met rooi karre nie

11 05 2016

Ek is altyd verstom oor hoe onkundig (die regte woord is eintlig ignorant) mense oor armoede is.  Ek was byvoorbeeld eendag by ‘n seminaar oor menshandel gewees.  Die een vrou het opgespring en verkondig dat sy armoede ken.  Na die tweede wêreldoorlog kon haar familie nie suiker bekostig nie.  Hulle kon darem wel elke aand met ‘n vol maag lekker warm slaap.

Vroeër vanjaar was daar ook baie gemor oor die dagbesoekers by die strande.  Daar was verduidelik dat die dagbesoekers die hele jaar lank spaar om op die een dag hulle voete by die see te kom afspoel.  Dadelik het iemand hulle self verdedig dat hulle ook die heel jaar spaar.  Daar is ‘n verskil.  Die tweede groep kan darem akkomodasie vir verskeie nagte, akkomodasie en betroubare vervoer bekostig.

Dit is eintlik ironies, dat die meerderheid van die wêreld se bevolking brandarm is, maar dat diegene aan die anderkant nie eintlik die konsep van arm begryp nie.  Ek gaan nie met oogklappe deur die lewe nie, maar selfs ek kan met tye onkant betrap word oor hoe arm mense kan wees.

Vroeër vanjaar het ek ‘n artikel gelees waarin gemor was oor belasting op tampons.  Die argument is dat vrouens nie ‘n keuse het of hulle wil menustrueer nie.  Hulle moet!  Dus is dit onregverdig om belasting – veral luukse belasting – op die ware te hef.  Dit was ‘n Britse artikel en blykbaar is daar nie belasting op kondome nie, omdat dit as ‘n noodsaaklike item beskou word.  Dit is ‘n baie interessante debat, maar wat het dit te doen met armoede?

Dit kan nogal ‘n gesukkel wees as die tannie met die rooi karretjie jou onverhoeds betrap.  Vir die bevoorregtes, is dit ‘n irritasie.  As jy nie voorsiening gemaak het nie, kan jy vinnig ‘n plan maak as dit moet.  Al moet jy belasting daarop betaal.  Wat as jy egter nie doekies of tampons kan bekostig nie?  Mens moet eet ook en dit is nie juis aptytlik nie?

Dit is presies die lot wat glo 2.1 miljoen meisies en vroue in Suid-Afrika raak.  Hulle probeer maar oor die wegkom met gras, blare, papier of selfs gebruikte doekies (nie noodwendig hulle eie nie).  Die probleem is so erg dat hulle tot 5 dae ‘n maand (het ek iewers gelees) eerder by die huis moet bly en klaar bloei.  Hulle mis dus tot 5 dae ‘n maand werk en / of skool.  Dit help natuurlik nie om die nodige sanitêreware te kan bekostig nie.

Behalwe nou vir die idee van gebruikte doekies, maar die hele idee my naar.  Die tannie is nou geen plesier om te onthaal nie, maar dit behoort nie jou lewe tot ‘n stilstand te bring nie.

Wat kan ‘n mens daaromtrent doen?  Ek verstaan dat daar groepe is wat herbruikbare doekies ontwikkel het.  Jy was dit glo soos dit gebruik word.

Dit laat my nou natuurlik oor weggooidoeke wonder.  Niemand gebruik mos meer gewone doeke nie.  As jy egter nie sanitêreware kan bekostig nie, wat doen jy dan as ‘n baba opdaag?

Breinvasbrand:  Wie het die eerste moderne tapons gepatenteer?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 30 Junie 1921.





Verarming in werking

9 05 2016

Ek bly langs ‘n huurhuis.  Klokslag, elke jaar Oktober, kry ek nuwe bure.  Presies op die 1ste Oktober.  Hoekom?  Die huur word elke jaar met 10% opgestoot.  Die inwoners kan dan nie meer die huur bekostig nie en gaan soek dan na ‘n ander heenkome.  Natuurlik na ‘n effens goedkoper plekkie wat waarskynlik ook ‘n ‘swakker’ huis of in ‘n slegter buurt sal wees.  Kortom, hulle lewensstandaard neem jaar na jaar af.  Hulle word dus stelselmatig armer en armer.

Ek is geen ekonoom nie.  Soos ek die storie verstaan is inflasie die gemiddelde koers waarmee pryse verhoog word.  In Suid-Afrika staan dit blykbaar op 6% (min of meer).  Ek wonder dikwels hoe word daar op 6% bereken.  Huur gaan oor die algemeen met 10% op – die maksimum wat huur mee kan styg.  Elektrisiteit styg jaarliks met meer as 10%.  As Eskom hulle sin kry, sal dit nader aan 20% wees.  Elke keer as die petrolprys styg, styg die prys van kos en gebruiksware.  Daar was boonop nou ‘n droogte, dus is suiwel, groente, vrugte en vleis deur die dak.

Om ‘n inflasie van 6% te kry, moet die styging van ander ware laer wees om op te maak vir die goed wat met meer as 6% styg.  Dit voel net skeef.  Wat het net met 6% toegeneem?  Ek is nie juis groot op inkopies doen nie.

In elk geval, dit is net een kant van die munt.  Salarisse neem gewoonlik net toe om inflasie te dek.  As jy gelukkig is, ek het al baie gehoor van mense wat in jare geen verhoging gekry het nie.  Buitendien, die eerste hap uit jou salaris gaan vir die regeringskoffers.  Jou salaris styg dalk (as jy gelukkig is) met 7%, maar gewoonlik eindig daar minder as 7% ekstra in jou rekening.

Maak nie saak hoe ek daarna kyk nie, dit bly ‘n gemors.  Of het ek heeltemaal die kat aan die stert beet?

Hoe maak jy die beste gebruik van elke 100c in ‘n Rand?  Hoe sit jy vir inflasie ore aan?

Breinvasbrand:  Wanneer het die Reserwe Bank geopen?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Absalom.





Wat word??

15 02 2016

Kommentaar op nuusberigte is seker maar ‘n wetenskap op hulle eie.  Dit is gewoonlik vermaaklik, op ‘n afgryslike, sepie-agtige manier.  Mens kan dikwels nie glo dat daar sulke mense daar buite is nie.  Iets wat my dikwels opval is hoe gatvol van die mense is oor berigte van moord en doodslag.   Dit gewoonlik op ‘n berig wat oor moord of iets dergliks gaan.  As daar nie daaroor berig word nie, het dit seker nie gebeur nie.  Hoe dit ook al sy, 2016 het nuus amper ‘n heel nuwe fase van verskriklik betree – sonder moord.

As ons net na die afgelope 10 dae kyk.  Daar was die vrou wat lewendig in ‘n vlak graf gekry is.  Gped, dit was amper moord.  Tog sal baie mense eerder verkies om vermoor te word as om lewendig begrawe te word.  Dit is een van die redes hoekom verassing so ‘n gewilde keuse is.  Yvonne Mnisi, Pretty Mabuza en Solomon Nyarenda het seker nooit gedroom dat ‘n gewone werksdag sou veroorsaak dat hulle meer as ‘n week begrawe sou word nie.  Hulle werk tog immers bogronds.  Tog, word daar al meer as ‘n week gespook om hulle uit dit gat waarin hulle skeepshouer gestort het uit te grou.  Benewens die feit dat hulle vergeval het (sonder beskerming), is dit noual meer as ‘n week dat hulle nie water of kos het nie.

Dit is dalk nie so traumaties soos om lewendig begrawe te word nie, maar ek moet die twee meisies noem wat genadeloos ‘vervolg’ is omdat hulle gesigte pers geverf was.  Die meisies het ‘n foto geplaas waar hulle gesigte swart gelyk het.  Hulle het hulle gesigte en arms pers geverf vir hulle koshuis se sterreruimpartytjie.  Al het dit vroeg-vroeg geblyk dat die berg ‘n molshoop was, was hulle ‘n weeklank in al die koerante en uit hulle koshuis geskors.  Hulle was ondermeer gedwing om ‘n gedikteerde verskoning op Facebook te plaas, moes hulleself verdedig teen leiersfigure wat meer belanggestel het aan hulle eie reputasie as om te luister en moes blykbaar self gaan wegkruip het van ‘n protesoptog.  Ek verstaan hulle gesinne oorweeg nou regsaksie.

Ek gaan volstaan met Highveld Steel.  Die maatskappy het doodeenvoudig Woensdag hulle mense sonder betaling huis toe gestuur.  Die voornemende kopers het geweier om aan die koop voorwaardes te voldoen en daar is doodeenvoudig nie geld om die werkers te betaal nie.  Highveld Steel was een van die groot werkgewers in Witbank en die sluiting van die maatskappy sal ‘n rippeleffek op die groter gemeenskap hê.  Daar word al reeds planne gemaak om kospakkies vir die mense te gaan uitdeel.  Mense, wat nou werkloos is, sonder dat hulle iets gedoen het om dit te verdien.

Wat met Highveld Steel gebeur het, kan so maklik met ander maatskappye ook gebeur.  Dit het trouens al Ellerines en 1time getref.  Die dae wat ‘n mens sekuriteit in ‘n werk gehad het, is verby.  Die regering maak dit ook so moeilik as moontlik vir ‘n maatskappy om ‘n bestaan te maak.  Ons praat dan nog nie eers van vakbonde nie.  Aan die een kant kort Suid-Afrika meer industrieë om werkloosheid aan te spreek.  Aan die anderkant, word beleggings afgeskrik met onredelike eise en hindernisse.  Nogtans wil die regering ekonomiese groei hê, terwyl hulle net meer en meer hindernisse in die pad plaas.

Helaas sal die sluiting van Highveld Steel nie ‘n omdraaipunt wees nie.

Watter onlangse nuus het julle naar, woedend of hartseer gemaak?  Wat was sover nog vir jou die skokkendste?

Breinvasbrand:  By watter myn in Baberton is drie mense na ‘n ineenstorting in ‘n skeepshouer begrawe?

Breinlosbrand:  Bilbo Baggins





Wat is die reëls van rassisme?

9 02 2016

“Enige aap kan dit sien!”

Dit is ‘n welbekende uitdrukking.  Ek vermoed ek kan dit selfs ‘n idioom noem.  Ek het redelik onlangs die sin effens geirriteerd geuiter oor iets wat iemand droog gemaak het.  Dadelik het die persoon met wie ek gepraat het gaan loer wie moontlik in die gang is.  Na dese is aap nie meer ‘n word wat gebruik kan word nie.

2016 het met ‘n ontploffing begin.  Skielik is rassisme met mening op die voorgrond en dit is wys dat almal weer onthou hoekom ‘n mens twee ore en net een mond het.  Wel, dit is seker waar die probleem ontstaan.  Jy mag dalk net een mond hê, maar jy het 10 vingers.  Dit is daardie einste 10 vingers wat op sosiale media jou graf gaan grawe.  Nie jou mond nie.

Ons het almal al as kleuters geleer om nie mense name te noem nie.  Dit is seker ‘n goeie beginsel om as ‘n volwassene te onthou, veral waar jy iemand met jou rekenaar / selfoon te skel.  Om verder te gaan en ‘n hele bevolkingsgroep (skuldig en onskuldig) met ‘n dier te vergelyk is bloot net dom.  Dit is nie asof dit eers in 2016 ‘n kwessie geword het nie.  Tog is daar ‘n paar goed wat my laat sidder.

Eerste ding is die dat enige kritiek sommer as rassisme gesien word.  As jy kritiek uitspreek teenoor mense se gedrag en die groep mense is almal van dieselfde bevolkingsgroep, is dit outomaties rassisme.  In plaas dat die probleem geidentifiseer word sodat dit opgelos word, word dit nou onder ‘n rassisme gordyn weggesteek.  As niemand hulle monde daaroor kan oopmaak (of hulle vingers kan opwarm) nie, bestaan dit seker nie.

Tweedens was daar vanjaar al defnitiewe aanslae op vryheid van uitdrukking gemaak.  Vryheid van uitdrukking is die hoeksteen van enige demokrasie en dit behoort tot die uiterstes beskerm te word.  Snaaks hoe alle bevolkingsgroepe bereid is om dit “op te gee” sodat hulle hoef te luister na wat hulle nie wil hoor nie.  Toegegee, vryheid van uitdrukking beteken nie dat jy nie verantwoordelik gehou kan word vir jou uitsprake nie.  Dit mag ook nie gebruik word om geweld ens. aan te hits nie.  Nogtans moet jy vry te kan wees om kritiek te kan uitspreek of om idees te kan deel.

Derdens dink ek alle redelike mense is siek oor hoe die ‘reëls’ aangepas word afhangende wie die beskuldiges is.  Terug na Januarie, het ‘n paar mense hulle inkomste verloor omdat hulle uitsprake gemaak het wat ‘n bevolkingsgroep aanstoot gegee het.  Ek kan die ongelukkigheid oor van die uitsprake insien, maar ek dink in die ekonoom se geval is die dam onder die eend uitgepluk.   Tog was daar weinig in die openbaar gesê oor die blatante haatspraak wat in reaksie op die voorvalle gesê is.  Net die week is daar op ‘n Universiteits gebou “F### White People” aangebring.  Geen stappe gaan geneem word nie, want dit is vryheid van uitdrukking.  Goed en wel.  Ek sal egter werkloos wees as ek iets soortgelyks op my huis se dak gaan verf – al behoort die huis aan my.  Die FW de Klerk stigting het klagtes gelê teen 46 haatspraak gevalle.  Raai wie is die nuwe Hitler in die land?

Dit is om die minste te sê kommerwekkend.  Niemand kan rassisme goed praat nie.  Tog moet daar onderskei word teenoor regverdige kritiek (net van toepassing op die mense wat op daardie punt ‘skuldig’ is) en werklike rassisme.  Vryheid van uitdrukking behoort op dieselfde manier op almal toegepas te word en dit moet ten alle koste beskerm te word.

Intussen hoop ek dat daar onafhanklike kandidate in Pretoria gaan staan vir die verkiesing.  Ek is nie op die oomblik lus om DA te stem nie.  Tot tyd en wyl hulle almal oor dieselfde kam gaan skeer.

Breinvasbrand:  Hoe is Martin Luther King dood?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Creed.

 

 





Fees must fall

27 10 2015

Iewers het iemand genoeg dat verlede week se studente oproer die grootste sedert 1976 was.  Daar was darem nie studente doodgeskiet nie, maar die waterkanonne en ander afskrikmiddels het gewerk.  Studente was onversetlik.  Hulle het op geen verhoging vir die 2016 akademiese jaar aangedring nie.  Hulle het voet by stuk gehou en het op die einde hulle sin gekry.  Blykbaar is almal nie gelukkig nie.  WITS soek gratis onderwys en AFRIFORUM kla verder oor hulle reg op onderrig, in Afrikaans en dat alle kwotas summier geskrap word.

‘n Besige week onder studente.  Veral as ‘n mens in ag neem dat die jakarandas se blomtyd aan die verbygaan is.  Dit is dus eksamentyd, nie die mees ideale tyd om te gaan protesteer nie.  Die studente het nogal wye steun geniet.  Elke politieke party behalwe die ANC was bankvas agter hulle.  Elke twitter rekening het hulle steun bevestig.  Max Price, Universiteit van Kaapstad, se seun was selfs een van die wat tydens die betogings gearresteer is.  Price was vinnig om te verkondig dat hy trots op sy seun is.

Gratis onderwys is seker nie ‘n slegte ding nie.  Dit is natuurlik hartseer dat verdienstelike jongmense op naskoolse studie uitmis omdat hulle dit nie kan bekostig nie.  Die voorstanders van gratis onderwys argumenteer dat meer gegradueerdes, ‘n groter arbeidsmag sal beteken wat natuurlik ‘n groter belastingbron sal wees.  Daar sal dan ook minder staatstoelae betaal hoef te word.  Dit klink Utopies.  Waarskynlik omdat Utopië ‘n fiktiewe wêreld is.

Daar is ‘n ander kant ook.  Ten spyte daarvan dat universiteit opleiding so duur is en nie toeganklik vir almal is nie, is daar baie gradueerdes wat sukkel om werk te kry.  Gaan die arbeidsmag dan werklik vergroot?  Suid-Afrika kort immers werkskeppers en dit is nie noodwendig ‘n snotneus met ‘n splinternuwe graad nie.

Netsoos daar mense is wat dit doodeenvoudig nie kan bekostig om te studeer nie, is daar ander wat die voorreg om te studeer misbruik.  Daar is studente wat jare (dekades) lank op universiteite sit sonder om iets te bereik.  Gaan gratis onderrig dit nie vererger nie.  Dit is nie noodwendig die lui studente wat nie wil gaan werk nie.  Ek ken ‘n meisie wat voor my op skool was.  Teen die tyd wat ek graad gevang het, was sy nog steeds ‘n eerste jaar.  Nie omdat sy gedruip het of sleg gevaar het nie.  Sy is een van daardie mense wat elke wakker oomblik agter die boeke spandeer.  Sy het net nooit met haar ‘gekose’ graad deur gedruk nie.  Sy het onder meer keuring vir medies, tandheelkunde, aptekerswese en veearts en nykunde gehad, maar altyd besluit dit is nie vir haar nie.  (Ek wonder nou, is sy nog steeds ‘n eerste jaar?).

Ek het nou-nou ‘n opskrif gesien dat die onderwys department nie van hulle posisie wil afsien dat druipelinge deur gesit mag word nie.  Blykbaar doen dit geen kind goed om agter te bly nie.  Sal die kinders met die mentaliteit wil universiteit toe wil gaan?  Wat sal dit vir ons standaarde beteken?  Veral as die voornemende studente nie kan lees of skryf nie?  Behoort skole nie eerstens gratis te wees nie?

Wat gaan die implikasie wees as elke Jan, Mart, Sipho en Thandi ‘n graad het?  Gaan straatveërs in die toekoms ‘n BA graad benodig?

Persoonlik is ek nie teen gratis onderrig nie.  Ek betaal immers self om verder te studeer.  Ek is net nie so seker of ‘n ‘Free for all’ gaan werk nie.  Sekerlik moet daar nog streng toelatingvereistes wees en moet die studie in ‘n sekere tyd afgehandel word.  Dalk moet die staat vir almal ‘n kans gee om gratis volgens hulle sterkste aanleg / aanlegte te kwalifiseer.  Dus as jou aanlegte wys jy moet ‘n rekenmeester wees, betaal die staat vir jou B.Com (rek) graad.  As jou aanlegte wys dat jy ‘n loodgieter moet wees, betaal die staat vir jou loodgieter opleiding.  Jy gaan word nie net ‘n dokter omdat jy dit gratis kon doen, kon eis het op keuring en boonop deur gedruk is nie.  Veral as jy nie die aanleg en/of intellek daarvoor het nie.

Wat reken julle is die oplossing?

Breinvasbrand:  Wie kwalifiseer in Duitsland vir gratis naskoolse studies?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 1918.





Die Evolusiebom

29 09 2015

Daar is min dinge wat mense so warm onder die kraag maak as evolusie en / of die skepping.  Die evolusioniste is net so passievol as die kreationiste (ek het geen idee waar die vieslike woord vandaan kom).  Dit sal my beslis nie verbaas as dit eendag tot ‘n oorlog lei nie.  Elke kant is so hard besig om sy kant te verdedig sonder om die ander kant ‘n regverdige spreukbeurt te gee.

Dit is eintlik lagwekkend.  Dit word immers ‘n evolusieteorie genoem omdat dit nog nie ten volle bewys kon word nie.  Ek kan seker moedswillig wees en uitwys dat daar van ‘n skeppingsverhaal gepraat word.  Die punt wat ek egter wil maak is dat die Bybel nooit noem wat gebeur het toe God die aarde geskep het nie.  “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”  Die Bybel gee nie die besonderhede van hoe die aarde geskep is nie.  Daar is dus niks in die Bybel wat ‘n groot knal kon uitsluit nie.

Netso is daar niks wat moontlike evolusie uitsluit nie.  Dinge raak natuurlik nog meer interessant dat daar twee weergawes van die skeppingsverhaal in Genesis is.  Die uiteinde van die saak is dat daar niks in die Bybel is wat evolusie uitsluit nie.  Terselfde tyd is daar niks in evolusie wat ‘n God in geheel uitsluit nie.  Ja, albei kante van die munt gaan stry tot hulle blou in die gesig is of met geweld hulle punt gemaak het.

Evolusie, in ‘n neutedop, is die vermoë van ‘n organisme om oor tyd by hulle omgewing aan te pas.  Dit was die eerste keer opgemerk aan dieselfde tipe voël wat op verskillende plekke opgemerk is.  Daar is toe geargumenteer dat die voëls van die verskillende plekke verskillende fisiese eienskappe het om hulle te help om in die unieke habitat te oorleef.  So daar genoeg tyd verloop (gemeet in generasies, eeue of selfs millennia) sal die voëls uiteindelik twee verskillende spesies kan vorm.  Die aanname is toe na ander spesies uitgebrei en iemand het durf vra of die mens ook so tot stand gekom het.  Tot op hede kon daar natuurlik nog niks bewys word nie.

Op skool was ek geleer dat evolusie die duiwel se werk is.  Om enigsins oor evolusie te dink, kom daarop neer dat jy glo dat die mens uit die aap ontstaan het.  Siende dat die mens na God se beeld geskep is, argumenteer evolusioniste dus dat God ‘n aap is.  Natuurlik met die ontdekking van Homo Naledi was daar gou oproepe van onder meer Vavi dat hy nie ‘n aap is nie.

Persoonlik is ek nie oortuig dat alles van een gemeenskaplike selletjie ontwikkel het nie.  In elk geval nie sonder ‘n besonderse goeie Wetenskaplike wat Almagtig is nie.  Terselfde tyd kan ek nie evolusie in geheel ontken nie.  Neem die mens byvoorbeeld.  Hoeveel mense word deesdae sonder verstandtande of selfs oogtande gebore?  Hoeveel mense se verstandtande moet uitgesny word.  Is dit alles die oorblysels van iets wat onnodig geraak het?

Ek is dus nuuskierig om Homo Naledi van nader te gaan beskou.  Terselfde tyd vermoed ek dat hulle nooit die bewys sal kry dat dit die mens se voorganger was nie.  In elk geval nie in my tyd nie.

As ek verkeerd is, wat maak dit saak?  Die Bybel het immers nooit ‘n stap vir stap verklaring gegee van presies hoe die mens gemaak is nie.

Hoe voel julle hieroor?

Breinvasbrand:  Wie is die vader van evolusie?

Breinlosbrand:  Olga was reg met London.





Mof en Mat

24 08 2015

Dit is nogal interessant dat almal wat graag (wil) reis, graag Switserland wil besoek.  As Heidi se tuiste, omring met skouspellende berge en vredige mere, wie wil stry?  Jy kan jou horlosie stel volgens die treine en Switserland is boonop bekend vir sjokolade en kaas.  Helaas is die Rand effens lig in die broek teenoor die Switserse Frank, maar dit is hoekom daar nie pryse op drome is nie.

Ek was bevoorreg genoeg om in Switserland te gaan draai.  Raai wat is die een ding wat my opgeval het vanaf die oomblik wat ek deur die terminaal is.  Honde!  Honde op die lughawe, honde op die stasies, honde in die treine, honde op die busse, honde in die parke en honde in die winkels.  Orals waar jy ookal gegaan het, was die mens se beste vriend welkom.  As die arme brak nou regtig nie welkom was nie, was daar ‘n plek waar die hond veilig kon wag.

In Suid-Afrika sal baie van ons onsself uitgee as diereliefhebbers.  Ons eis bloed as ‘n dier in ‘n parkeerde kar gelos word en ons eis marteling as ‘n dier mishandel word.  Natuurlik moet daar daarteen opgetree word, maar waar is diere in Suid-Afrika regtig welkom?

Gestel nou jy moet jou hond gou veearts toe neem.  Oppad terug van die veearts, moet jy stop vir melk.  Geen winkel laat diere toe nie.  Wat staan jou te doen?  Ignoreer die winkel se reëls of los die hond vir ‘n paar minute in die kar?  Dit is nie net winkels nie.  Jou hond mag nie saam met jou op die Gautrein klim nie.  Jou hond mag nie saam met jou na ‘n restaurant toe gaan nie.  Daar is selfs parke en strande wat honde nie toelaat nie.  Reis jou hond saam met jou, het baie van die russtasies langs die pad geen geriewe vir jou hond nie.  Dan praat ons nie eers van katte nie.

Is Suid-Afrika, waar die meeste mense ‘n troeteldier of meer het, troeteldiervriendelik?  Wie se skuld is dit?  Is ons te higiënies-behep vir ons eie goed?  Is ons diere goed genoeg opgelei om nie ‘n ergenis vir almal te wees nie.  Ek het geen probleem as ‘n hond by ‘n restaurant tafel eet nie, mits hy ‘n mes en ‘n vurk kan gebruik.  Indien nie, is sy plek onder die tafel waar hy nie bedel nie.  Niemand gaan tevrede wees as die hond sy been teen alles lug nie.  Versorg ons die diere na behore?  Niemand wil kos vol hondhare koop nie en niemand gaan iets wil koop wat na stink hond ruik nie.

Is daar ‘n middeweg?

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Wie het Lassie geskep?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Worsie.





Do your worst

19 08 2015

Daar was vanjaar meer as een geval waar ‘n skoolmeisie selfmoord gepleeg het as gevolg van boelies.  Normale, gesonde, suksesvolle en aantreklike kinders wat nie juis boelies iets op ‘n skinkbord aangebied het nie.  Nogtans kon die boelies hulle minderwaardig en ongeskik vir die lewe laat voel.  Tot so ‘n mate dat die dood na die enigste uitweg gelyk het.

Natuurlik is daar nou oproepe, eise en pleitdooie dat boelies in die bek geruk moet word.  Hoog tyd, maar nogtans te laat vir diegene wat reeds hulle eie lewe geneem het.  Dalk, net miskien, help dit dat ander kinders nie so desperaat raak nie.  Miskien vorm ons ‘n generasie wat in die toekoms net in liefde en vrede gaan saam woon.

Iets moet gedoen word.  Vraag is wat?

Boelies floreer op die vrees wat hulle inboesem.  Dit laat hulle magtig en onbestrokke voel.  Sterk.  Selfs dalk genadeloos.  Natuurlik is dit nie gesond of reg om te boelie nie.  Dit behoort stopgesit te word.  Gaan oppassers en ‘huursoldate’ die gewensde effek het?  Of gaan dit eerder ‘n boelie verder bemagtig en meer gevaarlike (maar subtiele) maniere om te boelie laat ontwikkel?

Ek het dit al van te vore gesê en ek sê dit weer:  die enigste manier om ‘n boelie te stuit, is as die slagoffer hom/haar stuit.  In ‘n fisiese boelie verhouding is dit maklik.  Slaan die grootste, gemeenste boelie ‘n bloedneus en maak van hom ‘n tjankbalie.  Dit is nou nie heeltemal moontlik met die sosiale media of afkrakende boelies nie.  Mens kan hulle seker in gelyke munt terug betaal, maar gaan dit die slagoffer enigsins as mens bevorder?

Dalk is dit ‘n tyd vir ou clichés.  Stick and stones may break my bones, but words would never hurt me.  Nou nie heeltemal die waarheid nie, maar dalk moet kinders leer wie se menings tel en dat die oorgrote meerderheid se menings of verklarings wind is.  Iets waaraan jy jou afvee.  Beslis nie die tyd en moeite werd om daaroor te wroeg nie.

Deur die nonsens met die minagting te behandel wat dit verdien (dink water op ‘n eend se rug), word die boelie ontwapen.  Sonder die slagoffer se vrees / reaksie, is daar geen ‘wins’ uit boelie uit nie.

Klink eenvoudig, maar helaas.  Wat reken julle wat moet met die boelie situasie op skole gedoen word?  Wat van die boelies in die werksplek, verskaffers of selfs die wat hulle self vriende noem?  Hoe moet die slagoffers bemagtig word om hulle self teen die boelies te beskerm?

Breinvasbrand:  Aan watter parlementslid het vermoedelik Riah Phiyega  die volgende sms gestuur?  “I am black, proud, capable and get it clear you can take nothing from me eat your heart out.  I am not made by you and can not be undone by you”

Breinlosbrand:  Olga was reg met Bruce Willis.





Ander mense se kinders

11 08 2015

Daar is beslis voordele daaraan om ‘n kind te wees.  Een daarvan is dat niemand skeef opkyk as jy in jou slaapklere reis, funksies bywoon of self kerk toe gaan nie.  Daar is ‘n tyd om formeel te wees, maar daardie tyd is nie wanneer jy ‘n kind is nie.  Dit is ‘n tyd om prakties te wees.  As jy in die bed gaan spring as jy tuis kom (of gaan aantrek nadat jy gearriveer het), wie gaan daaroor kla?

Goed en wel!  Die vraag is tot watter ouderdom is toelatings en toegewings geskik?  Kom ons neem kerk toe gaan as ‘n voorbeeld.  As jou ouers verkies om ‘n aand diens by te woon, is dit geskik om op 8 of 9 jarige ouderdom nog in jou slaapklere kerk toe te gaan?  Elke week?  Ons praat nou nie van ‘n middernagdiens of ‘n laat aand diens wat buite die normale roetine is nie.  Is dit geskik as die 8 / 9 jarige kind die enigste kind is wat week na week in slaapklere opdaag?  Veral as daar aansienlik jonger kinders is wat normaal aangetrek is?

Nie dat ‘n mens die kind kan bevraagteken daaroor nie.  Hy / sy besluit immers nie wanneer dit tyd is om te bad of kerk toe te gaan nie.  Dit vra egter vrae.  Dit het seker niks met my te doen nie, tog kan ek nie help om te wonder nie.  Sien, dit is nie die enigste ‘afwyking’ van die ander kinders nie.

Die spesifieke kind is nooit meer as 2 cm van sy / haar ma nie.  Die ma doen dikwels aktiewe diens in die kerk.  Wanneer sy voorlees of selfs nagmaal uitdeel, hang die kind aan haar.  Die kind sal nooit by die pa sit vir die paar minute wat die ma ‘n spesifieke funksie moet verrig nie.  Dat sy by iemand anders sit is ook buite die kwessie.

In die spesifieke diens is daar ‘n ouerpaar wat ‘n handvol kinders het.  Ouer en jonger as die kind waarna ek verwys.  Van die ander kinders kom sit graag by hulle tydens die diens.  Ek het al gesien dat die pa, ma en die kinders die pramhanger nooi om by hulle te kom sit, maar die uitnodigings was nie eers met ‘n antwoord vereer nie.

Dit laat ‘n mens wonder.  Snaaks genoeg vermoed ek dat dit nie die kind self is wat onveilig voel by enige iemand anders as sy / haar ma nie.  Die ma het kinders wat al in hulle 30’s is.  Kan dit ‘n geval wees van leënessindroom wat te ver gevoer word?  Hoe langer die kind ‘n baba bly, hoe langer bly die nes vol.  Is dit egter regverdig vir die kind?

Hoe voel julle?  Hoe lank is ‘n kind geregtig om ‘n baba te bly?  Is dit die ouer se reg om ‘n kind ‘n baba te hou?

Breinvasbrand:  Wie was Mickey se stem in Look who’s talking?

Breinlosbrand:  Olga en Ekmyselff was reg met Juanita du Plessis.