Deesdae is daar ‘n nuwe woord wat soos ‘n bom rond gegooi word. Voordeel. Wel, streng gesproke is dit eintlik ‘privilege’. Iets wat sekere mense taamlik gemaklik laat lewe danksy as wat hulle gebore is.
Voordat ons op ons perdjies spring, dit gaan oor meer as net ras. Alhoewel, die blote ras van ‘n persoon kan ‘n bydraende faktor wees hoe maklik hulle sukses gaan behaal. Daar is egter ‘n mynveld van ander faktore ook. Enige iets wat die opdraande pad na sukses ‘n bietjie meer gelyk kan maak.
Dit sluit goed in soos ouderdom, geslag, kultuur, geloof en oriëntasie in. Natuurlik help dit as jou ouers ryk, geleerd en suksesvol is. ‘n Stewige bate danksy ‘n oupa of oupagrootjie is ook nie te versmaai nie. Dit gaan selfs sover of jy met een of twee ouers groot geword het.
Mens kan dit seker nie as kaf afmaak nie. Neem vir Jan en Pieter. Jan bly by sy ongehude moeder wat geen onderhoud vir hom kry nie. Sy het twee ander kinders en werk as ‘n kassier by die kafee. Pieter bly by sy ma en pa. Sy pa is ‘n prokureur op die dorp en sy ma was voorheen ‘n finansiële raadgewer. Hy is die enigste kind.
Tussen Jan en Pieter, wie is die mees waarskynlik om ‘n universiteitsgraad te behaal?
Gestel nou Jan is slimmer as Pieter. As Pieter met iets sukkel, is sy ma waarskynlik in ‘n beter posisie om hom te help. Sy is nie net beskikbaar nie, maar het formele opleiding na skool gehad. Indien sy nie kan nie, kan Pieter ‘n tutor kry om hom te help. Jan se ma het Wiskunde gelos in st 7. ‘n Tutor maak meer per uur as wat sy ‘n dag maak en is dus buite die kwessie.
Pieter kan aan sport deelneem. Sy ouers kan die sportfooie en toerusting met gemak bekostig. Hy het toegang tot sportwetenskaplikes, ‘n gimnasium en privaatafrigtings. Jan kan nie rugby speel nie, sy ma kan nie vir sy suster skoolskoene koop en vir hom rugbystewels nie. Pieter kwalifiseer vir ‘n sportbeurs. Jan kan nie sy rapport kry nie, omdat sy skoolgeld agterstallig is.
Jan werk na skool as ‘n petroljoggie om sy ma te help. Jan kan dus nie al sy take doen nie. Pieter se ma doen sy take vir hom.
Ensovoorts. Natuurlik gaan dit vir Pieter makliker weer om goed te presteer op skool en hy sal dus makliker vir naskoolse studies aanvaar word. Jan – ja, wel! Universiteitsgelde kom nie uit ‘n kafeesalaris uit nie en hy het niks gedoen wat hom vir ‘n beurs te laat kwalifiseer nie. Hy was te besig om te probeer oorleef. Sy ma word ook nie deur die bank as voldoende sekuriteit aanvaar nie.
Was dit Jan se skuld? Natuurlik nie. Hy kon nie sy sterre kies nie?
Is die kompetisie (die sterkste moet oorwin) tussen die seuns regverdig?
Was dit Pieter se skuld? Hy kon immers ook nie sy sterre kies nie?
Behoort Jan ten koste van Pieter bevoordeel word om sy agterstand uit te wis?
Ja, die ou lewe is nie altyd regverdig nie!
Daar is geen wet dat die lewe regverdig moet wees nie. 😉
n bietjie hulp of sal ek die genade noem sou darem welkom in Jan se kamp gewees het. ek kan jou wed self as Jan goed gepresteer het sou sy moraliteit hom seker ook gedwing hetvom eerder te gaan werk het om sy sibbe n beter kans in die lewe te gee.
Ongelukkig word jou ywerigheid in jou beroep nie altyd beloon nie. Ongelukkig sal Jan seker gou in dieselfde sirkel as sy ouers wees.
Ek wonder ook baie keer oor daardie dinge… sommige kinders maak ‘n sukses van hulle lewe ten spyte van, terwyl ander misluk met al die hulpbronne tot hulle beskikking … jy is reg waar moet mens die skuld plaas.
Ek wonder eintlik of daar enigsins skuld is. Agtergrond of voordeel maak nie noodwendig van iemand ‘n sukses nie.
Dis waar…
Ek glo nie juis daar is skuld te plaas nie. Mens kan nie die een se goeie geluk of die ander se slegte geluk teen hom hou nie. Maar ek het al net soveel Janne sien ‘n reuse sukses van hulle lewens maak as wat ek Pieters gesien het wat net eenvoudig nie die deursettingsvermoee het om in die aangesig van sy goeie geluk ‘n sukses te wees nie.
Daar is ook baie Janne wat nie eers probeer nie.
In my eerlike opinie het ‘n ‘ag siestog houding’ niemand al iets in die sak gebring nie. Ek het nog altyd geglo elke mens kan hulle eie sterre verander. Daar is hoeveel miljoenêrs en selfs biljoenêrs wat van niks gekom het en die heelal ‘n ding of twee gewys het. Ek lig my hoed vir sulke mense.