Tyddeel

30 10 2011

Ek hoor deesdae meer en meer mense planne maak vir die vakansie.  Dit is een verseker manier om ‘n grootmens te kry om slapies te tel.  Almal wil graag meer gereeld wegbreek, verkieslik na plekke waar niemand jou naam ken nie, maar helaas is dit nie in almal se bereik nie.  Wel, tensy jy natuurlik die regte tyddeel aan geskaf het.

Dit aldus die mannetjie wat nou die dag tyddeel aan my probeer afsmeer het.  Die sommetjies het goed gelyk en die voordele ongelooflik.   Jy word eers vertel watse belegging dit is, maar anders as ‘n strandhuis het jy nie onderhoudswerk nie.  Jy het ook die vryheid van ‘n keuse, sonder om keer op keer na dieselfde plek te gaan.  Boonop – as jy slim werk – kan jy selfs oorsee gaan.  Die sommetjies lyk ook belowend.  Oor ‘n tydperk van 10 jaar, kan jy meer as ‘n R150 000 aan vakansies spandeer en niks daarvoor wys as miskien foto’s nie.

Maar as jy hom R50 000 gee, kan jy vir die volgende 15 jaar verniet gaan vakansie hou.  Daarmee spaar jy ‘n streepsak vol geld.  Dit is boonop ‘n belegging waarvan jy nie die waarde sal verloor nie.  Met al hulle vennote, sal jy ope arms oral in die wêreld verwelkom word.  Behalwe nou in Irak en Kuba, want wie wil nou eintlik daaruit kom.  Hy weet boonop dat min mense R50 000 het wat los rondlê, maar dit kan teen ‘n billike rentekoers befonds word.  Jy sal maar net ‘n paar honderd rand oor 5 jaar af betaal.

Glad nie sleg nie – alles in die naam van ‘n gratis vakansie nie.  Klink belowend en redelik – tot die verskuilde kostes verklaar word.  Soos ‘n jaarlikse heffing van meer as R5000 wat vir onderhoudskostes gebruik word.  (Verskoon my, maar ek dog dan jy vertel my dat een van die voordele is dat jy nie onderhoud het nie).  Die heffing is boonop gekoppel aan inflasie.

Dit is natuurlik nou een manier om dadelik my belangstelling te verloor.  Vertel my van ‘n ekstra heffing en ek wys hakskene.  Ongeag dit vir “gratis” vakansies is of gim kontrakte.  Ek het eers agterna aan die wiskunde gedink.

Een van die gastehuise wat ek gereeld gebruik vra my R550 ‘n aand vir bed en ontbyt.  Ek kan nege dae daar gaan uitkamp vir die prys van die heffing alleen.  Sonder die ekstra R50 000 wat ek afbetaal.  Boonop kry ‘n mens geen etes met die klub saam nie.  Na 15 jaar verval jou aandeel – wat dit nie juis ‘n belegging maak waarvoor jy meer as net foto’s kan wys nie.  En om alles te kroon, word ek dadelik vir ‘n antwoord gedruk.  Dit wys net, hulle kan nie bekostig dat jy daaroor dink nie.

Dan is die ou nog geskok dat ek glad nie belangstel nie.

Werk tyddeel vir enige iemand?  Ek dink vir ‘n enkeling is dit ‘n mors van geld, maar wat as dit vir ‘n gesin is?  Wat is die goedkoopste manier om vakansie te hou?

Breinvasbrand:  In watter oseaan sal jy die Bahamas kry?

Breinlosbrand:  Koos van der Merwe en dit is geen grap nie


Aksies

Information

6 responses

30 10 2011
Olga

Eerste????
Atlantiese oseaan???
Ek wil tog nie twee keer na mekaar dieselfde soort vakansie hê nie.

31 10 2011
Toortsie

En as die heffings die hoogte in skiet, is daar geen manier om uit die ding te kom. Ons het heerlik in switserland en portugal gebly met ons punte, maar ek was verlig toe ons ons ten duurste uitgekoop het.

31 10 2011
MaanKind

Ek si so dankbaar ons het nooit tyddeel gehad nie. Ons het wel eenmaal die fout gemaak om ‘n vakansiewoonstel in Mosselbaai te koop. Duur fout. Ons het soveel aan heffings betaal, en het later moeg geword om oor en oor soontoe te gaan, die eerste drie dae te spander op goed olie/verf/herstel, dat ons dit verkoop het.

31 10 2011
demoerin

Ek like ook nie die tyddeel effek nie. Ek sal besluit waarheen en wanneer ek op vakansie wil gaan.

31 10 2011
J W W

Tyd deel is nou mos maar net ‘n fancy woord vir skelm streek om jou geld te steel. Ek spaar vir my vakansies, dan gaan ek waar EK wil gaan – maar soms met die belaglike prys van petrol wat sommer so in sy mur in die hoogte inskiet veral naby die fees seisoen, werk die spaar ding ook nie so goed uit nie.

31 10 2011
Twilight

Nee. Nee. Nee. As iemand eers begin punte en ..en… dan rys my nekhare. Ek wil nie tyddeel besit nie en ek soek ook nie ‘n huisie by die see nie (aardverwarming, jy weet…), dankie!

Lewer kommentaar op demoerin Kanselleer antwoord