Fooitjie kreune

23 08 2018

tips-jar-1024x580-800x500_c

Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer begin die idee van ‘n fooitjie die witlig uit my uit irriteer.  Ek is ‘n semi-ordentlike mens en soos enige semi-ordentlike mens gee ek fooitjies waar dit verwag word.  Dit begin net hopeloos te veel deesdae verwag, op meer plekke waarmee ek gemaklik of tevrede is.

Kom ons dink gou ‘n oomblik oor fooitjies.  Dit behoort ‘n beloning te wees vir iemand wat jou buite verwagting gehelp het.  Ek dink byvoorbeeld aan die petroljoggies wat eendag my wiel vir my reggemaak het.  Dit is nie in hulle posbeskrywing om kliente se wiele reg te maak nie.  Nogtans het hulle dit vol vreugde gedoen.

Dit is nogal ‘n dun lyn om te onderskei.  Tegnies, behoort ‘n mens nie vir hulp of plein ordentlikheid te betaal nie.  Die onderskeid is seker tussen diens en hulp.  Wat egter van die diens wat iemand lewer nadat jy daarvoor betaal het?

Kom ek gee ‘n voorbeeld.  Jy gaan na ‘n restaurant en bestel ‘n biefstuk.  Dit kos argumentsonthalwe R150.  Die besigheidsmodel van die restaurant is dat iemand jou vra wat jy wil eet, hulle bestel dit vir jou en bring dit vir jou.  Agterna vat hulle jou vuilbord weg.  Daarvoor betaal jy ten minste R15.  Jou ete kos jou dus R165.

Die probleem is dat jy nie self jou bestelling kan plaas of self jou kos in die kombuis gaan haal nie.  Dus betaal jy iemand eintlik net om hulle werk te doen.  Netsoos jy nie ‘n kassier gaan betaal om jou inkopies op te lui nie, hoekom moet jy ‘n kelner betaal?

Wel, jy is ‘n semi-ordentlike of selfs ‘n ordentlike mens.  Jy weet dat die kelner nie betaal word nie en van jou afhanklik is vir ‘n inkomste.  Wie se verantwoordelikheid is dit egter om die werknemers betaal?  Die werkgewer s’n!  Van die geld wat hy uit die klient maak!

Dit is wat my die olga in maak.  Dat ek iemand se salaris moet betaal wat ek nie in diens geneem het nie.

Ek het nou die dag iets gelees dat die hele fooitjiekultuur uit slawerny ontstaan het.  Mense wou nadat slawe bevry is, nie die nuwe werkers betaal nie.  Die oud-slawe kon wel vir ‘n fooitjie werk.  ‘n Stelsel wat simpel is.

Dit is deesdae egter nie net meer kelners, karwagte en petroljoggies wat jy ‘n fooitjie voor moet gee nie.  Terloops, baie mense voel dat 10% in ‘n restaurant ‘n belediging is.  Diegene voer aan dat dit 20% moet wees.  Ek weet – ek het al dikwels 20% fooitjies uitgedeel, maar dit grief my as dit verwag word.  Ek weier egter om ‘n fooitjie aan haarkappers te gee.  Genugtig, ek betaal honderde rande vir ‘n haarsny.  Ek verpes dit ook om gastehuise ‘n fooitjie te gee.  Weereens – ek het die volle prys betaal.  Ek sal dit heroorweeg as iemand my swaar tas gedra het of ek ‘n groot gemors gemaak het.

Hoe voel julle oor fooitjies?  Voel julle dalk ook dat die werknemers hulle werkers moet betaal vir die werk wat hulle gedoen het.  Dink julle dalk ons behoort die ontvangsdame by die dokter ‘n fooitjie te gee?  Dalk ‘n fooitjie vir die handlanger van die loodgieter?  Hulle kry mos ook ‘n slegte salaris wat aangevul moet word?

Waar trek ‘n mens die lyn?


Aksies

Information

8 responses

23 08 2018
HesterLeyNel

Die restaurante sê eenvoudig as hulle die kelners ‘n salaris moet betaal, sal die kos baie duurder wees. Ek wonder nogal hoeveel ek uitgee aan fooitjies elke maand en dan praat ek nie van restaurante nie – sommer net vir pompjoggies, karwagte, pakkers by die kassiere (ja, hier gee ons ‘n fooitjie vir daardie persoon), die dame wat my hare was by die haarkapper. Ek gee graag, maar het ook nie veel om uit te deel nie.

5 09 2018
Xena Phoenix

So die kos gaan met 10% op en die klient betaal net die rekening. Met baie minder admin. Buitendien, ek het al van oor die 1000% winsgrense gehoor.

😉 Jy is ‘n ordentlike mens – om te gee sonder om te kla.

23 08 2018
Olga

Wel, ek trek die lyn met karwagte, kelners en petroljoggies, mits hy my kar se venster gewas het. As hy nie gewas het nie, too bad. Ek het vir die petrol betaal. Die pakkers betaal? Nie vir ‘n vy nie. Hulle kry ‘n salaris. Meestal moet die karwagte iemand anders ‘n fooitjie of in sommige gevalle ‘n persentasie van sy dag se fooitjies betaal. Dit is net verkeerd.

5 09 2018
Xena Phoenix

Ek verstaan dit van die kelners ook hulle fooitjies moet deel, maar dit is dalk net in Amerika van toepassing. Dit is verkeerd. Betreffende karwagte, kan die eienaars van die sentrums nie aan hulle ‘n salaris gee nie? As niemand by hulle kom parkeer nie, gaan niemand by hulle wil winkels huur nie. Hulle maak mos ‘n fortuin uit huurinkomste.

7 09 2018
Olga

Hulle mag dan die hempie/ frokkies nie eers huis toe neem nie. Hulle betaal elke more vir die voorreg om daardie frokkie te dra.

28 08 2018
pandoraseboksie

Niemand betaal my n fooitjie nie…dalk moet ek bietjie begin bakhand staan😉
Ons almal kan mos doen met n ekstra paar sente, maar ja…ek raak ook nogal geirriteerd as n kelner of joggie my aankyk met daai “ek soek n ietsie” ogies

5 09 2018
Xena Phoenix

Presies net so.

21 08 2019
Nikita

Ek is heeltemal ten gunste van ‘n fooitjie – as dit verdien word. Ek dink dis laks van restaurante om nie salarisse te betaal nie. Hulle kan dit doen en die fooitjies wegneem! Siedaar! Probleem opgelos en almal is happy. Al wat hulle moet doen is om net vir elke bord kos ‘n klein bedraggie meer te laat betaal – en dit is dan die ‘footjie’. My dogter het kelnerin-werk gedoen terwyl sy geswot het en ek verstaan die probleem – almal het geld nodig. Die geld wat sy verdien het, het haar gehelp om al die ekstras en boeke te koop wat sy wou – en moes koop en dit was ‘n ekstra sakgeld buiten ons as ouers se bydrae. Baie jong kelnerinne – oor die wereld heen – doen die werk vir tydelik en vir sakgeld, maar tog ander doen dit vir ‘n lewe en lewenskostes is taamlik hoog deesdae. Ek stem, haarkappers maak genoeg geld.

Lewer kommentaar