Die Groot L woord

20 11 2012

Tannie Gypsie het my gedare om van die groot liefde in my lewe te vertel.

Dit is nie ‘n mooi storie nie, maar op sy beste maar ‘n bietjie vaag.  ‘n Storie van verbode gedagtes en skepe in die nag.  Een waar daar geen held of heldin is nie.  My groot liefde  . . .

Iets wat doodeenvoudig nog nooit gebeur het nie.  Ek is bevrees as ek die storie van my grootste liefde sal moet opdis, sal ek dit uit my duim uit moet suig.  Dit is bloot iets wat my ontwyk of miskien selfs iets wat ek nie sal erken as dit kaalvoet in die reën met my dans nie.

Ek gee toe dat daar al mans was wat voelers uitgesteek het.  Een was selfs dapper genoeg om my pa te wil bel om sy toestemming te vra om my die hof te maak.  Dit was in die dae van Mxit.  Ek het nie gedink dit was ‘n vreeslike oulike gebaar nie.  Siende dat hy my die hof wil maak, reken ek dat dit nogal ‘n goeie plek is om met my te begin.  Ons het ‘n paar jaar lank met mekaar gemxit en ons het mekaar selfs ontmoet.  Ek het egter nooit aan hom enige beloftes gemaak of enige verwagtinge geskep nie.  Ek het geweet dit gaan nooit iets verder as vriendskap – soos in doodonskuldige platoniese vriendskap – ontwikkel nie.

Dit was seker die naaste aan ‘n verhouding wat ek ooit was.  Die ou was bereid om volgens my reëls te speel en ons het pret gehad.  Oor die algemeen soek ek na my tekkies, grou loopgrawe en raak sommer ongeskik as ek agterkom ‘n man het planne.  Gewoonlik het ek nie planne in dieselfde rigting nie.  Ek sal nie daarvan hou om iemand se speelding te wees nie en ek maak nie van ander my speelding om my in die tussentyd te vermaak nie.

Daar was natuurlik ook ‘n paar ouens met wie ek nie sou omgee dat iets verder moet ontwikkel nie.  Ek sal nou nie sê dat ek verlief op hulle was nie.  Eerder dat hulle heel aanvaarbaar was en baie eienskappe gehad het wat ek noodsaaklik in ‘n toekomstige eggenoot ag.  Amper soos ‘n mens iets uit ‘n katelogus bestel.  Nogtans het ek nooit moeite gedoen om dit na te jaag nie.

Sinies soos ek oor trou is, is ek nie in beginsel teen trou nie.  Dit is net bloot iets wat nog nie met my gebeur het nie.  Ek kan myself nie regtig in die rol van ‘n liefdevolle vrou sien nie.  Ek dink ek sal van ‘n metgesel hou, maar die metgesel hoef nie noodwendig in my huis of bed te wees nie.  Ek soek nie iemand die heeltyd onder my voete nie en sal baie geirriteerd wees as ek daagliks verslag sal moet doen van my kom en gaan.

So waar laat dit my?  Seker maar ‘n gebore oujongnooi of is singleton die beter woord daarvoor?  Bloot net iemand wat die Cupido nooit getref het nie, maar dalk ook iemand wat ‘n natuurlike skild teen sy pyle het.

Breinvasbrand:  Wat was Romeo en Juliet se vanne?

Breinlosbrand:  Ek het eendag iewers gelees die direkte vertaling van Kyu is Seun.  Maar Olga is reg dat dit range aandui.


Aksies

Information

20 responses

20 11 2012
Natasha

Romeo Montague en Juliet Capulet
of was dit nou andersom?
Romeo Capulet en Juliet Montague.

?????

20 11 2012
Natasha

When in doubt, Google….
My eerste instink was reg😀

21 11 2012
Xena Phoenix

Eerste instinkte is gewoonlik. 😉

22 11 2012
Natasha

🙂

20 11 2012
lekkerjeuk

As jy gelukkig is met sake soos dit is, maak dit nie ‘n blou duit saak wat ander dink nie. Sommige mense is gebore loslopers. Maar die moontlikheid bestaan tog dat dinge kan verander, is dit nie? Want ons weet mos al waarop ons kan staatmaak is dat dinge nooit dieselfde bly nie.🙂

21 11 2012
Xena Phoenix

Kan ek vir die rekord noem dat ek die post net aangepak het omdat dit ‘n dare was? 😉 Dinge kan verander. Ek sal nie my polse afbyt as dit verander nie, maar ek sal ook nie my polse afbyt as dit nie verander nie.

20 11 2012
Olga

Good for you. Nie bang om jouself te wees nie. Of met jouself te wees nie. Lewe soos jy TEVREDE en gelukkig is.

21 11 2012
Xena Phoenix

Met myself is ek altyd verseker van goeie geselskap.

20 11 2012
Loli Pretorius

Mmmmh, ek onthou jy’s erns in jou 30’s, en wil bylas, dit maak jou nie in vandag se dae ‘n ‘oujongnooi’ nie…ek gaan hier kies om te sê: It aint over sister…jy vind dalk regtig nog die L ‘de

21 11 2012
Xena Phoenix

😯 Ek praat nie oor my ouderdom nie.

Jy sal verbaas wees hoeveel mense is gepla daarmee dat ek nie in ‘n verhouding is nie. Gewoonlik die mense wat die minste “reg” het om hulle neuse in my persoonlike sake te steek.

20 11 2012
JWW

Wel, ek kan baie aanklank vind by jou skrywe – dalk is ek al te geset in my eie wereld en maniere van dinge doen, ek wil nie wanorde in my lewe inbring nie, ek is te selfstandig om ooit na ander se bevele te luister…. doen nou dit doen nou dat, maak sis, en maak so. Dit klink te veel na harde werk.
Aan die anderkant, dalk net mis ek uit op iets wat dalk net wonderlik kan wees… maar nouja mev “right” het nog nie my paadjie gekruis nie.

21 11 2012
Xena Phoenix

Ek wonder of die aanjaers al ooit daaraan gedink het dat mens nie net iemand uit die bloue lug kan gryp nie. As dit nie gebeur nie, bebeur dit nie. So eenvoudig soos dit.

Ek gaan nog op iemand se skoene kots wat my vra “Nou hoekom het jy nie ‘n outjie nie?”

21 11 2012
Sonlig

Al wat ek kan sê is: “Good things come to those who wait”.

Ek stem saam met Loli. Die term “oujongnooi” beteken vir my oor die sestig en nooit getroud. Jy het nog ‘n paar kilometers om te gaan ou girl.

21 11 2012
Xena Phoenix

Wait impliseer dat jy doelbewus wag dat iets na jou kant kom. Ek wag nie. Ek gaan aan met my lewe tot daar rede is om te verander. 😉 Wag is net ‘n manier om jou lewe te mors.

22 11 2012
Sonlig

Wag is nie noodwendig sleg nie. Hang af waarmee jy dit assosieer. Sonlig se definisie van “wait” beteken: “to do nothing”. Ja, dis soms frustrerend – soos om in ‘n ry te wag by die bank of by SARS😡 (dankie tog vir e-filing!😀 ), maar dis ‘n kuns wat ek nog gaan bemeester – soos in Eat, Pray, Love – “The art of doing nothing”. Maar dis ‘n filosofiese gesprek vir ‘n ander dag……

21 11 2012
brieweuitdievreemde

Jou inskrywing het my laat dink – ek was al hordes kere verlief, drie langtermyn verhoudings (oa huwelikke), ‘n klompie kortstondige verhoudinge – maar weet ek regtig wat liefde is? Ek begin al meer dink van ‘nee’.

21 11 2012
Xena Phoenix

Hi Briefie

As jy my sal verskoon, maar my ondervinding is dat liefde die goedkoopste woord ooit is. Maar ek sal jou my sinisme daaroor spaar.

21 11 2012
brieweuitdievreemde

Nee, hoef my nie te spaar nie🙂 Ek dink ek is op ‘n lyn wat die sinisme aanbetref…. Mense wat se hulle is lief vir jou, doen op die ou end die eienaardigste dinge, dinge wat volgens my glad nie rym met ‘liefde’ nie.(Maar goed, dit bly lekker om verlief te raak. Sal dit maar seker weer doen🙂 )

22 11 2012
Toortsie

Ag wat…. solank jy gelukkig is!!🙂
Ns. Ek het nog nie van jou dare vergeet nie…

29 11 2012
Ek, Alleen « goeienuusloli

[…] Getroude mense kyk maklik neer (as hul eerlik is, and I’m being honest) op enkellopendes. […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: