Die Groot L woord

20 11 2012

Tannie Gypsie het my gedare om van die groot liefde in my lewe te vertel.

Dit is nie ‘n mooi storie nie, maar op sy beste maar ‘n bietjie vaag.  ‘n Storie van verbode gedagtes en skepe in die nag.  Een waar daar geen held of heldin is nie.  My groot liefde  . . .

Iets wat doodeenvoudig nog nooit gebeur het nie.  Ek is bevrees as ek die storie van my grootste liefde sal moet opdis, sal ek dit uit my duim uit moet suig.  Dit is bloot iets wat my ontwyk of miskien selfs iets wat ek nie sal erken as dit kaalvoet in die reën met my dans nie.

Ek gee toe dat daar al mans was wat voelers uitgesteek het.  Een was selfs dapper genoeg om my pa te wil bel om sy toestemming te vra om my die hof te maak.  Dit was in die dae van Mxit.  Ek het nie gedink dit was ‘n vreeslike oulike gebaar nie.  Siende dat hy my die hof wil maak, reken ek dat dit nogal ‘n goeie plek is om met my te begin.  Ons het ‘n paar jaar lank met mekaar gemxit en ons het mekaar selfs ontmoet.  Ek het egter nooit aan hom enige beloftes gemaak of enige verwagtinge geskep nie.  Ek het geweet dit gaan nooit iets verder as vriendskap – soos in doodonskuldige platoniese vriendskap – ontwikkel nie.

Dit was seker die naaste aan ‘n verhouding wat ek ooit was.  Die ou was bereid om volgens my reëls te speel en ons het pret gehad.  Oor die algemeen soek ek na my tekkies, grou loopgrawe en raak sommer ongeskik as ek agterkom ‘n man het planne.  Gewoonlik het ek nie planne in dieselfde rigting nie.  Ek sal nie daarvan hou om iemand se speelding te wees nie en ek maak nie van ander my speelding om my in die tussentyd te vermaak nie.

Daar was natuurlik ook ‘n paar ouens met wie ek nie sou omgee dat iets verder moet ontwikkel nie.  Ek sal nou nie sê dat ek verlief op hulle was nie.  Eerder dat hulle heel aanvaarbaar was en baie eienskappe gehad het wat ek noodsaaklik in ‘n toekomstige eggenoot ag.  Amper soos ‘n mens iets uit ‘n katelogus bestel.  Nogtans het ek nooit moeite gedoen om dit na te jaag nie.

Sinies soos ek oor trou is, is ek nie in beginsel teen trou nie.  Dit is net bloot iets wat nog nie met my gebeur het nie.  Ek kan myself nie regtig in die rol van ‘n liefdevolle vrou sien nie.  Ek dink ek sal van ‘n metgesel hou, maar die metgesel hoef nie noodwendig in my huis of bed te wees nie.  Ek soek nie iemand die heeltyd onder my voete nie en sal baie geirriteerd wees as ek daagliks verslag sal moet doen van my kom en gaan.

So waar laat dit my?  Seker maar ‘n gebore oujongnooi of is singleton die beter woord daarvoor?  Bloot net iemand wat die Cupido nooit getref het nie, maar dalk ook iemand wat ‘n natuurlike skild teen sy pyle het.

Breinvasbrand:  Wat was Romeo en Juliet se vanne?

Breinlosbrand:  Ek het eendag iewers gelees die direkte vertaling van Kyu is Seun.  Maar Olga is reg dat dit range aandui.