Maklik of Boelie

1 11 2012

Ongeag of dit Steve of Werner die dag is.  Almal was van meet af geirriteerd oor Biep Bank se arme client retention officer wat geen haar kan afmaak teenoor FNB nie.  Geirriteerd, maar almal het deeglik kennis daarvan geneem.  Blykbaar doen naarheid iets aan jou aandagspan.  Saam met Werner en Steve het ons gehoor hoe maklik dit is om oor te skakel.  So maklik dat niemand dit kan weerstaan nie.  Die versoeking is bloot net te groot.

Wat arme Steve en Werner nie besef nie, is dat die maklik en stoomroller twee heeltemal verskillende konsepte is.  Soos ek nou die dag teen my sin uitgevind het.

Ontmoet vir Thembi, stoomroller agent van FNB.  Aanvanklik was ek heeltemal bereid om my ore aan haar uit te leen.  Ek kla al jare lank oor my bank, maar die tyd en lus het nog altyd ontbreek om na ‘n nuwe een te gaan soek.  Buitendien kan dit ‘n mens mos nie skade doen net om te luister nie.  Nie dat sy my enige iets anders vertel het as wat ek saam met Steve en Werner moes aanhoor nie.

Eerlike mens wat ek is, het ek haar vertel dat ek dit graag met van die ander produkte op die mark wil vergelyk.  Noudat ek terugkyk, was dit dalk die fout.  Dalk was dit my beleefde, effense belangstellende vrae.  Ek meen, dit doen seker nie skade om te weet wat in die mark is nie.

Ek moet erken dat FNB my asem weggeslaan het – meestal weens paniek.  Sonder dat ek dit eers gevra of gesoek het, is ek vir ‘n oortrokke fasiliteit van amper 3 keer my salaris toe gestaan.  Ek kon ook ‘n krediet kaart kry wat meer as dubbel die waarde van my huidige krediet kaart.  Ons praat hier van 6 syfer bedrae.  Ironies – toe ek destyds vir ‘n krediet kaart aansoek gedoen het, het ek heeleerste by FNB probeer.  Hulle het my sonder om twee keer te dink af te keur.  Duidelik het iets iewers verander.

Ek het Thembi vir haar inligting bedank en (hard en duidelik) gesê ek sal daaroor DINK.  Eers word ek gedreig dat ek nie weer so ‘n goeie oortrokke aanbod sal kry as ek later weer aansoek doen nie.  Dankie tog daarvoor.  Dit het ‘n ruk gevat, maar ek het haar uiteindelik van die blerrie foon afgekry.  5 minute later het ek amper ‘n lepel in die dak gesteek toe ek weer na my selfoon kyk.

Skielik het ek selfoon en internet bankdienste by FNB. 😯  Kort daarna het die koerier maatskappy my bloed begin soek.  Thembi het besluit dat ek ‘n FNB rekening sal kry – of ek dit wil hê of nie.  Ek praat nie eers van die smse oor my salarisse en debiet orders nie.  Terwyl ek nêrens gesê het dat ek ‘n rekening soek nie.

Maklik – seker.  Maar maklik teen my sin is nie ‘n goeie ding nie.  Ek het nog nie eers kans gekry om daaroor te dink nie.  Ek was te besig om te verseker dat ek die besluit oor waar my rekening gehou kan neem.  Ek laat my nie stoomroller nie.

Breinvasbrand:  Wat is Suid-Afrika se groot 4 banke?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Katrina.  Het julle geweet Amerika was in 1981 oor deur ‘n Orkaan Katrina getref?