Mandela Geld

7 11 2012

Ek onthou toe ek in die laerskool was hoe dat Jan van Riebeeck vir die Groot 5 moes plek maak.  Natuurlik was my mening nie gevra nie, die oom moes van die geld af.  Hopeloos te koloniaal vir die Nuwe Suid-Afrika.  Ek was nogal redelik bitter daaroor.  Veral omdat die nuwe dieregeld vir my lelik was.  Ek het net mooi niks daarvan gehou nie.  Diere op geld het so half laerskoolagtig gevoel.

Nou is ons ‘n paar dekades later en gister is daar weer nuwe geld in die land vrygelaat.  Die renoster, olifant, leeu, buffel en luiperd gaan nou blykbaar saam met Riaan Cruywagen aftree.  Die afgetrede Nelson Mandela neem nou hulle plek op die note in.  En ek is weer bitter daaroor.

Sien, iewers het ek gewoond geraak aan die diere op die note.  Ek het ‘n bietjie geld van ander lande en streke gesien en besef ons geld is nie so sleg nie.  Ek  het ook iewers ‘n bietjie meer wysheid gekry en besef dat die diere niemand aanstoot gee nie.  Eintlik het die Groot 5 meer waarde vir Suid-Afrika as enige gesig wat op die geld gesit word.  Hulle is in elk geval gerespekteerd en geliefd onder die meeste mense.  En sou een van hulle jou pad kruis, gaan hulle jou nie ongeërgd laat nie.

Baie mense sal aanvoer dat dieselfde van Nelson Mandela gesê kan word.  Behalwe dalk dat hy gerespekteerd en geliefd onder almal is.  Daar sal seker ook die uitsonderings betreffende die diereryk.  Tog, Madiba is alreeds soveel kere vereer.  Daar is hoeveel strate in Suid-Afrika na hom vernoem, daar is selfs ‘n Nelson Mandela Metropool en ek dink amper ‘n universiteit ook.  Dan praat ek nie eers van al die pleine en ander lokale nie.

Daarbenewens reken ek dat die verandering om die diere af te skop nie goedkoop was nie.  Daar was niks fout met die geld nie, hoekom de hel moes dit verander word?

Dit laat my weer dink aan die aanvanklike veranderinge wat aan die Nuwe Suid-Afrika gebring is.  Eers was daar ‘n daadwerklike poging om alles apolities te hou.  Dink byvoorbeeld aan die lughawens, die name is verander om die stad te verteenwoordig waar dit geleë is.  So het Jan Smuts byvoorbeeld Johannesburg Internasionaal geword.  Dieselfde het met hospitale, damme ens. gebeur.  Toe die stof gaan lê het, is dit skielik – ek wil amper sê wederegtelik – ver-ANC.  Johannesburg Internasionaal het OR Tambo geword en Pretoria Akademies het Steve Biko geword.

En as ek my vir ‘n oomblik kan verstout?  Wat het die ANC gedoen dat hulle monumente en instansies kan steel om hulle self te verewig?

Ja, ek weet.  Galbitter.

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Wat was die Steve Biko Hospitaal in die 90’s se naam?

Breinlosbrand:  Selene was reg met ABSA, FNB, Nedbank en Standard Bank.