Voluit Pienk

21 11 2012

 

Nou skuld ek Toortsie nog haar dare.  Ek moet skryf oor pienk.  Ek verbeel my amper dat ek iewers al oor pienk gepraat het, maar nou ja.  ‘n Dare is ‘n dare.

Persoonlik is my gunsteling kleur groen, maar ek het ‘n baie sagte plekkie vir pienk.  Van kleintyd af het ek van pienk gehou.  Soveel so, dat as die Osse toe ek melktande gehad het in pienk gespeel het, was ek seker vandag ‘n lojale aanhanger.  Gelukkig het hulle nie, dus kan ek met ‘n oop gemoed ‘n WP ondersteuner wees.  Maar ek dwaal af.  Waar ek ‘n keuse betreffende kleur het, vat ek altyd pienk as groen nie beskikbaar is nie.  Daar is egter tye wat die pienk harder as die groen roep en met gemak wen ook.

Pienk is nogal ‘n veelsydige kleur.  Aan die een kant is dit die kleur van onskuld.  ‘n Kleur wat sinoniem met klein dogtertjies is wat droom van feetjies en prinsesse.  Dit is aan die ander kant ook die ander kant die kleur van rebellie.  Dink byvoorbeeld aan die Pink Ladies van Grease of hoe Dirty Dancing se tema kleur pienk is.  Dit is ook ‘n kleur wat die gay gemeenskap verteenwoordig.  Dalk nie so seer omdat dit ‘n kleur is wat hulle self gekies het as wat dit aan hulle afgesmeer is nie.  Dit is die kleur van borskanker en enige iets vrouliks.  Dit is die kleur van bloeisels en nuwe lewe.  Dit is die kleur van mens wees.

Pienk is nie ‘n kleur wat iemand koud laat nie.  Dit is bloot te kontrasterend en wyd om in ‘n blik gedruk te word.  Mense haat dit, is mal daaroor of haat dit omdat hulle mal is daaroor.  Pienk kan troos, pienk kan uitdaag en pienk kan beledig.  Pienk is ‘n fasinerende kleur.

Pienk is die kleur wat klein dogtertjies veilig en geliefd laat voel.  Dieselfde pienk kan groot uitgegroeide mans laat hardloop vir skuiling.  Alles deur net pienk te wees.

Het ek genoem dat ek van pienk hou?  Hou jy van pienk?

Breinvasbrand:  In Grease, wie was die Pink Ladies?

Breinlosbrand:  Natasha was reg met Romeo Montague en Juliet Capulet.