Ek dink na ‘n paar jaar in Blogland weet almal seker noual hoe ek voel oor Halloween. Ek sal julle dus vandag dit spaar – behalwe vir ‘n kort weergawe vir die wat dit gemis het. Ek voel ‘n veer oor Halloween, mits dit in Amerika gevier word. Ek verpes Halloween as dit in Suid-Afrika gevier word, juis omdat dit ‘n Amerikaanse gebruik is.
Maar kom ons beweeg aan. Siende dat WP vir Sandy blameer word (met hulle laaste Curriebeker, het 9/11 gebeur. Die keer het hulle glo vir Sandy losgelaat en ironies genoeg is hulle die Stormers in die Super 14), kan ek seker maar netsowel in Amerika bly. Wie wil in elk geval oor die sensus praat? Daar is vele wat voel dat dit ‘n klug is en dat dit ‘n goeie voorstelling van die pad na vernietiging waarna Suid-Afrika oppad is. Sonder die hulp van ‘n kategorie 1 orkaan of superstorm.
Dit is darem een baie groot voordeel van Suid-Afrika. Ons het nie juis natuurrampe of ekstreme weerstoestande nie. Ons het wel soms ‘n vloed, sukkel met tye met droogtes en daar is elke paar dekades ‘n vloekskoot, maar ons kan nie juis kla nie. Buitendien maak armoede en ons politici Moeder Natuur ‘n bietjie beskermend oor ons. Ons sal nie weet wat om te doen om vir ‘n aardbewing, tornado, tsunami of ‘n orkaan voor te berei nie.
So, wat doen ‘n mens wanneer jy hoor ‘n orkaan is oppad? Ek het onlangs van ‘n Amerikaner gehoor dat dit ‘n goeie tyd vir ‘n groot partytjie is. Dit klink bisar – hoe kan ‘n mens partytjie hou as die natuur besig is om verwoesting te saai? Tog, wat anders is daar om te doen?
Mense gaan vir ‘n paar dae lank by die huis bly. Daar is ook nie juis sprake om van die huis af te werk nie. Die kanse is goed dat die krag vir ‘n paar uur (of dae) gaan afwees en dat van jou bevore goed bederf gaan word. Hoekom dit nie gebruik om mense te vermaak wat in presies dieselfde posisie as jy sit nie? Dit is nie asof iemand kan uitgaan of ander planne het nie? Of jy braai jou voorraad op of jy gooi dit weg as jy ‘n paar dae sonder krag sit. Die orkaan gaan haar gang gaan, al sit jy vreesbevange in ‘n hoekie. As dit jou tyd is, het jy ten minste tot op die einde partytjie gehou.
Wat dink julle van ‘n Hurricane Party? Is dit iets waaraan jy sal deelneem? Dalk iets waarvoor jy gasheer sal speel?
Breinvasbrand: Watter orkaan het in 2005 in Amerika chaos veroorsaak?
Breinlosbrand: Maankind was reg met ‘n kolonie vir Melaatses.
Wie runnik saam?