Katte en Honde

12 11 2012

Nadat ek in die afgelope week se Rekord gelees het hoe troetelhonde en -katte soms ‘n maaltyd vir Pretoria se dakloses word, was ek eerlik gewalg.  Aan die een kant is dit mense wat uit honger gedwing word om die troeteldiere te steel en te slag.  Dit vra immers altyd of jy genoeg doen om ‘n ander se nood te verlig.  As ‘n mens is jy tog verplig om ander te help waar jy kan.  Aan die ander kant – dit is honde en katte wat hulle eet.  Om hond en kat te eet is amper so goed as om mens te eet in my nederige opinie.

Tog moet ek myself afvra hoekom ‘n mens so gewalg is deur die idee van kat- en hondvleis?  Ek praat nou nie van Kietsie op die bed of Wagter voor jou deur nie. Hulle is immers deel van die huisgesin en dus net so verhewe bo ‘n pot is as Boet of Sus.  Ons eet tog vark en hoenders, wat netsoos katte en honde omnivore is.  Daar is min diere so afgryslik soos ‘n hoender.  Hoe het katte en honde taboe geword?  Siende dat baie kulture wel geen probleem het om dit te eet nie?

Daar is duisende weggooi honde en katte, wat weinig meer nut het as om elke mens wat al ooit eienaarskap oorweeg het se gewete te bewerk.  Baie van hulle gaan dood gemaak word, hoekom nie die karkasse beskikbaar stel vir diegene wat bereid is om dit te eet nie?  Dan het hulle lewe immers ‘n doel gedien.  Dit is nou natuurlik as die karkasse wel geskik is vir menslike gebruik.

Hoekom kan honde en katte nie kommersieel verbou word sou daar ‘n ontvanklike mark vir hulle wees nie?  Dit kan nie wees omdat baba katte en honde te oulik vir ‘n bord is nie.  Het julle al gesien hoe oulik lammetjies en kalfies is?  En hulle word soms juis vanweë die kwaliteit van hulle vleis geslag en hulle vleis kos amper soveel soos ‘n hele plaas.  Daar is seker geen rede hoekom katte en honde nie onder dieselfde kam geskeer kan word nie?

Behalwe natuurlik nou die goeie ou aanvraag-aanbod stelsel.  Ek twyfel sterk of daar ‘n mark ontwikkel sal kan word.  Ek vir een raak eerder ‘n vegatariër as om kat of hondvleis te eet.  Dit sal te veel voel soos om mens te eet.  As die idee ander aanstaan, sal ek wel nie in hulle pad staan nie.  Mits hulle my diere uitlos.

Hoe voel julle daaroor?  Sal julle kat of hondvleis eet?  Kan dit maar kommersieel verbou word?  Is die eet van kat en hondvleis gelykstaande aan die eet van mensvleis?  As ons so van die ongewensde diere ontslae gaan raak, is dit net ‘n kwessie van tyd voordat dieselfde lot ongewensde mense tref?

Breinvasbrand:  Watter land is die grootste uitvoerder van paddas?  Soos in om geëet te word?

Breinlosbrand:  Ek moes die vraag duideliker gestel het.  Sonlig het die antwoord wat ek gesoek het, HF Verwoerd, gegee, maar Olga is heeltemal reg dat die hospitaal in die 90’s ook Pretoria Akademies geheet het.