Legendes en Feëverhale

11 12 2012

As ek ooit sê Nelson Mandela is my held, jok ek.  Maar Madiba is ‘n man waarvan elke Suid-Afrikaner kennis neem.

Ek was Saterdag verbaas dat die presidensie so vinnig besluit het om Mandela se opname in die hospitaal bekend te maak.  Dit is buite die normale verwagting.  Gewoonlik ontken die Presidensie dit tot hulle laaste asem, ongeag van enige bewyse wat bekend is.  Dit alleen laat my dink daar is iets groots aan die gang.  Dit laat seker die wêreld dink daar is iets groots aan die gang – as ek so na almal se beterskap wense kyk.

Ek het so ‘n vermoede dat baie winkels ‘n skerp styging in hulle blikkiekos verkope sien.  Ek vermoed ook dat daar tans met nuwe oë na beveiliging en verdediging om die huis / plaas gekyk word.  Daar is niks fout daarmee om paraat te wees nie, maar ek hoop / glo / weet dat dit ‘n onnodige stap is.

Ek weet nie of lande net aan een gesig gekoppel kan word nie.  Ek meen, in ‘n land soos die VSA kan ‘n mens nie regtig Lincoln uitsonder sonder om eers aan Washington of Franklin te dink nie.  Tog in ons geval dink ek tog Nelson Mandela is die gesig van Suid-Afrika.  Hy word deur miljoene mense as die verlosser van Suid-Afrika gesien.  Ek dink ek kan met veiligheid sê die meerderheid van die wêreld.  Nie dat hy ‘n heilige is nie, maar dit is ‘n gesprek vir ‘n ander dag.

Ek wonder nogal wie is nog aanspraakmakers as die gesig van Suid-Afrika.  Ek gaan Jan van Riebeeck ook daarvoor nomineer.  Niemand hou daardie posisie vir 300 + jaar en word dan vergeet nie.  Desmond Tutu is seker ook ‘n goeie aanspraakmaker, sonder dat hy iemand doodgemaak het.  Daar is seker verskeie sportsterre wat mense ook kan nomineer.

Wie is vir jou die gesig van SA?  Met wie sal jy SA altyd verbind?