Alle paaie gaan na Rome

24 09 2015

Scrapy praat oor paaie die week.  ‘n Onderwerp wat my laat rooi sien, veral as ek in Moerse Potholes soos ‘n dronk mens moet ry om my bande te beskerm.  Dan, in plaas om die paaie reg te maak, wil hulle mos nou die spoedgrens verlaag om padsterftes te voorkom.  Kom ek kots eerder ‘n volgende dag daaroor.  As ek daaraan dink, wil ek sommer gaan 200 km/h ry uit protes.

Kom ek vertel julle eerder ‘n ander storie.  Ek vermoed eintlik ek het dit reeds gedoen, vergewe my maar as ek julle verveel.

Ek moet een dag my ma en haar suster in Johannesburg ontmoet.  Hulle is al ‘n paar dae lank in die Goudstad en is al so effens uitgekuier.  My tannie bly boonop nie in Suid-Afrika nie en is eintlik lus om so ‘n bietjie rond te neus.  Dit vat dus nie lank nie, toe skiet ons deur Pretoors toe.  In my kar, hulle kar was by die hotel.  So is ons skaars op die N1 (vroeg middag) en ek maak die grappie dat ons moet Bloemfontein toe gaan.  My ma se ander suster bly daar.

Ek was die enigste een wat gedink het die grappie is snaaks.  Ek is sonder meer as mal gediagnoseer en Bloemfontein was heeltemal te ver.  Ons gaan gooi al die toeriste draaie in Pretoors en gaan kamp by Mugg & Bean uit.  Natuurlik kuier ons toe heeltemal te lank.  Dit was al na middernag toe ons terug Johannesburg toe in die pad val.

Teen die tyd is alles natuurlik al snaaks.  Ek maak toe die fout om dieselfde flou grappie van die middag te herhaal.  “Kom ons gaan Bloem toe!”  My metgeselle het nog steeds nie die grap ingesien nie.  Nee!  Dit is toe vir hulle sommer ‘n plan.  Ten spyte daarvan dat my Tannie die volgende middag ‘n afspraak het.

Wie is ek om te stry?  As hulle in die vroeë oggendure Bloemfontein toe wil gaan, dan neem ek hulle Bloemfontein toe.  Dit is in die middel van die pad en dit is die ideale verskoning om ‘n bietjie voet in die hoek te sit.  Dit was knap voor 4 toe ons op die derde suster se deur drempel opdaag.  Of wat ons gedink het haar deur moet wees.  Sekere mense het mos nie haar telefoon geantwoord nie.

Ons het nogal die vermoede gehad dat vreemde mense nie geamuseerd sou wees as ons ongenooid by hulle wou kuier nie.  Ons pluk toe maar my neef telefonies uit sy bed om die regte nommer te kry.  Terwyl hy uit die bed is, kan hy sommer my karsleutels wat ek in my kar toegesluit het kom haal.

In elk geval, so kuier ons toe al te lekker in Bloemfontein.  Na ‘n vroeë ontbyt moes ons weer in die bad val om teen 14:00 weer in Johannesburg gewees.  Almal het saam gestem dat dit ‘n mal idee was, maar niemand het dit al ooit ‘n slegte plan genoem nie.


Aksies

Information

12 responses

24 09 2015
scrapydo2.wordpress.com

Groote genade dis darem n hengse ent so in die middel van die nag om Bloem toe te ry. Dit was gelukkig darem nie in vandag se dae nie met al die slaggate en geen pad nie!

28 09 2015
Xena Phoenix

Dit was inderwaarheid in vandag se dae. 😉 Die enigste rede om te kla wat die N1 na Bloem het, is die blerrie tolhekke.

24 09 2015
seegogga

Silken impulsiewe mal draaie is d lekkerste

28 09 2015
Xena Phoenix

Ek soek nie baie geld nie, net genoeg om impulsief te wees. 😉 Amper op ‘n daaglikse basis.

24 09 2015
24 09 2015
rondomtaliedraai

Ek het begin skoolhou op die Hoërveld en ons het niks daarvan gedink om vir ‘n naweek see toe te ry nie

28 09 2015
Xena Phoenix

Waar ek groot geword het; so 300 km van alles af; het die mense maklik op ‘n Vrydagmiddag besluit nou gaan hulle see toe. Hulle sou dan net daar hulle tassies pak en St Lucia, Sodwana ens toe ry. Die see was ook gerieflik 300 km weg.

28 09 2015
rondomtaliedraai

Ja maar mens het darem gejaag daai tyd…

26 09 2015
Kameel

Dit is voorwaar ‘n mal ondervinding om te onthou🙂

28 09 2015
Xena Phoenix

Mens moet darem iets hê om met die nageslag te deel.

27 09 2015
Olga

SE my, is daar ooit normale planne tussen jou familie?

28 09 2015
Xena Phoenix

Niks wat die moeite werd is om oor te vertel nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: