Alle paaie gaan na Rome

24 09 2015

Scrapy praat oor paaie die week.  ‘n Onderwerp wat my laat rooi sien, veral as ek in Moerse Potholes soos ‘n dronk mens moet ry om my bande te beskerm.  Dan, in plaas om die paaie reg te maak, wil hulle mos nou die spoedgrens verlaag om padsterftes te voorkom.  Kom ek kots eerder ‘n volgende dag daaroor.  As ek daaraan dink, wil ek sommer gaan 200 km/h ry uit protes.

Kom ek vertel julle eerder ‘n ander storie.  Ek vermoed eintlik ek het dit reeds gedoen, vergewe my maar as ek julle verveel.

Ek moet een dag my ma en haar suster in Johannesburg ontmoet.  Hulle is al ‘n paar dae lank in die Goudstad en is al so effens uitgekuier.  My tannie bly boonop nie in Suid-Afrika nie en is eintlik lus om so ‘n bietjie rond te neus.  Dit vat dus nie lank nie, toe skiet ons deur Pretoors toe.  In my kar, hulle kar was by die hotel.  So is ons skaars op die N1 (vroeg middag) en ek maak die grappie dat ons moet Bloemfontein toe gaan.  My ma se ander suster bly daar.

Ek was die enigste een wat gedink het die grappie is snaaks.  Ek is sonder meer as mal gediagnoseer en Bloemfontein was heeltemal te ver.  Ons gaan gooi al die toeriste draaie in Pretoors en gaan kamp by Mugg & Bean uit.  Natuurlik kuier ons toe heeltemal te lank.  Dit was al na middernag toe ons terug Johannesburg toe in die pad val.

Teen die tyd is alles natuurlik al snaaks.  Ek maak toe die fout om dieselfde flou grappie van die middag te herhaal.  “Kom ons gaan Bloem toe!”  My metgeselle het nog steeds nie die grap ingesien nie.  Nee!  Dit is toe vir hulle sommer ‘n plan.  Ten spyte daarvan dat my Tannie die volgende middag ‘n afspraak het.

Wie is ek om te stry?  As hulle in die vroeë oggendure Bloemfontein toe wil gaan, dan neem ek hulle Bloemfontein toe.  Dit is in die middel van die pad en dit is die ideale verskoning om ‘n bietjie voet in die hoek te sit.  Dit was knap voor 4 toe ons op die derde suster se deur drempel opdaag.  Of wat ons gedink het haar deur moet wees.  Sekere mense het mos nie haar telefoon geantwoord nie.

Ons het nogal die vermoede gehad dat vreemde mense nie geamuseerd sou wees as ons ongenooid by hulle wou kuier nie.  Ons pluk toe maar my neef telefonies uit sy bed om die regte nommer te kry.  Terwyl hy uit die bed is, kan hy sommer my karsleutels wat ek in my kar toegesluit het kom haal.

In elk geval, so kuier ons toe al te lekker in Bloemfontein.  Na ‘n vroeë ontbyt moes ons weer in die bad val om teen 14:00 weer in Johannesburg gewees.  Almal het saam gestem dat dit ‘n mal idee was, maar niemand het dit al ooit ‘n slegte plan genoem nie.