Waar is die antwoorde?

10 09 2015

Ek het nog altyd beplan om vir Scrapy ‘n paar woorde oor soek te skribbel.  Nie dat ek noodwendig geweet het wat ek wil griffel nie.

Die afgelope paar weke was nie juis goed vir die kinders van Suid-Afrika nie.  Net om ‘n paar voorvalle te noem. . .  Daar was die 3 dowe meisies wat in ‘n brand in hulle koshuis dood is.  ‘n Verdere 50 meisies is beseer soos hulle uit die boonste verdieping gespring het om van die vlamme te vlug.

Daar was die 4 jarige meisie wie se ouma haar vroeg oggend alleen gelos het om iemand te gaan besoek.  Haar ma was ‘n halfuur later by die huis.  Te laat vir die meisie, wat eers verkrag was en toe aan ‘n boom gehang was om dood te gaan.

Dan was daar die man wat besluit het om sy 4 seuns (die jongste was maar 4 jaar oud) keel af te sny.  Asof dit nie erg genoeg was nie, het hy boonop dat die jongste sy ma bel sodat sy kan hoor wat gebeur.  Die man het homself ook prober keel af sny, maar dit lyk asof hy in die trunk sal kan gaan verrot.

Ek sal volstaan by die 8 jarige meisie wat na ‘n brand in haar ouer huis aan haar wonde beswyk het.  Haar 1 jarige boetie het ook lelik seer gekry in die brand.  Die brand was in ‘n regte huis, 10 uur die aand.  Nie waar ‘n mens gewoonlik ‘n brand sal verwag nie.

Tragedies!

Natuurlik waar daar tragedies is, is daar vrae.  Nie noodwendig altyd regverdige vrae nie, maar nogtans iets wat mense kan help om te verstaan.  Of dan ten minste iemand vir die voorval verantwoordelik te hou.  Amper asof die tragedie versag word hoe meer mense vir die voorval aan die pen gery kan word nie.  Daar is ook natuurlik die vrae wat gebruik kan word om soortgelyke tragedies in die toekoms te voorkom.  Vrae waarvoor daar antwoorde is.

Daar is ook egter met tragedies die vrae wat nie antwoord het nie.  Dit maak nie saak waar jy die antwoorde gaan soek nie, die antwoord gaan ons as mense bly ontwyk.  Hoekom my kind?  Wat besiel iemand om ‘n kleuter te verkrag?  Hoe kan ‘n man sy eie kinders doodmaak?  Hoe bang moes die kinders nie gewees het nie?  Gaan daar genade vir die onskuldige kinders wees?  Gaan die genade genoeg wees?

Iewers in my lewe het ek ‘n kursus in filosofie gehad.  ‘n Filosoof is iemand wat die vrae vra en dan die antwoorde gaan soek.  Helaas is dit nie altyd so maklik nie.

Breinvasvrand:  Volgens Dalene Matthee:  “God vergewe ons baie, maar . . . “?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Bertha.