Toeka-Tokkel 6: Telefoon stories

2 02 2015

 

Scrapy se onderwerp van die week is telefone.

In die Maasdorp boeke, was die meisies verplig gewees om die eerste aand in die koshuis hulle ouers van hulle veilige aankoms te verwittig.  Die eerste Maasdorp boeke was in die 1930’s gepubliseer.  Ek het dit altyd amusant gevind.  Die meisies is almal per trein skool toe gestuur.  Sekerlik sou die ouers gehoor het van ‘n treinongeluk lank voordat ‘n brief in die posbus geland het.  Tog is dit iets wat ‘n mens in baie ander ou Afrikaanse stories sien.  Met jou aankoms, skryf jy ‘n brief of poskaart om die mense tuis te laat weet jy is nog in een stuk.

Die klem was op skryf.  Daar was in die 30’s telefone gewees, maar dit was iets wat net in ‘n noodgeval gebruik was.  Telefoon oproepe was duur en moes tot ‘n minimum beperk word.  Met die verloop van jare, was mense minder geintimideerd oor ‘n telefoon rekening.  Briewe was later met ‘n telefoon oproep vervang.  Wat natuurlik baie vinniger en minder moeite as ‘n brief was.  Dit het dan ook gerieflik geraak om iemand te laat weet wanneer jy vertrek.

Vandag kan ‘n selfoon nie net ingespan word om iemand van jou vertrektyd of veilige aankoms te laat weet nie.  Siende dat die selfoon die heeltyd by jou is, kan jy mos vorderingsverslae van jou reis verskaf.  Selfone is natuurlik wonderlik wanneer jy jou handsak vergeet het of iemand se sleutels saam met jou geneem het.  Die uwe is natuurlik skuldig aan beide.  Deesdae kan jy nie eers onkostes smeek as ‘n verskoning om van die radar af te verdwyn nie.

Ek het my nooit regtig aan WiFi gesteur op my foon nie.  Tot die dag wat ek op ‘n stasie gesit het en nuuskierig geraak het oor wat op die blogs aangaan.  Ek moes juis wag en besluit toe om WiFi uit te toets.  Die volgende oomblik kom al my Swartbessieboodskappe deur.  Teen amper R3 ‘n internasionale sms, wie gaan hulle neus optrek vir gratis Whatsapp, BBM of Skype?

Dit is nou as jy daardie moeite wil doen.  Facebook kan natuurlik al die laat weet werk namens jou doen.  Dit klok jou in waar jy ook al gaan.  So het ek eendag in die vreemde ‘n vriendin ontmoet vir koffie.  Nie een van ons het geweet die ander beplan om oorsee te gaan nie.  Tuis sukkel dit maar om tot ‘n kuier te kom.  Danksy ons selfone (wel, eintlik haar selfoon – ek hou van privaatheid) kon ons mekaar op die mees onverwagte tyd raakloop.  Sonder ons selfone sou ons waarskynlik nooit geweet het die ander is in die omgewing nie.

Persoonlik hou ek nie juis daarvan dat iemand my vinnig deur my selfoon kan opspoor nie.  Maar dit het sy voordele.

Wie dink nog selfone is net daar om mee te bel?

Breinvasbrand:  Watter organisasie het Andriod vir fone ontwikkel?

Breinlosbrand: Olga het raak gegorrel met R265.

En sommer maar net omdat van die liedjie hou:

 


Aksies

Information

26 responses

2 02 2015
rondomtaliedraai

Ek hou van my foon … hier by my is daar baie wat fone net gebruik om te bel. Hulle kan nie eers ‘n sms antwoord nie

3 02 2015
Xena Phoenix

Vir die rekord, ek is self verslaaf aan my foon. Ek hou ook net van privaatheid.

3 02 2015
rondomtaliedraai

Dis ook waar!

2 02 2015
Olga

Tweede. Google ontwikkel die Android stelsel gebasse op die Linus kern beginsel.

Ai, tegnologie gaan die mensdom se ondergang wees. Maar nou ja, ek geniet my foon.

3 02 2015
Xena Phoenix

Soos elke skool wat deesdae ‘n I-Pad vir elke snotkop wil hê. Ek wonder of dit nie lees, skryf en reken se ondergang gaan wees nei.

3 02 2015
Olga

Kan jy jou voorstel hoeveel snotkoppe gaan al op die tweede dag skool toe hom minus die I-Pad / Tablet omdat iemand dit vir “kos” gaan verkwansel het.

2 02 2015
scrapydotwo

Dankie vir die deelneem. Ek onthou ook nog die Maasdorp stories. Toe ek begin skoolhou het het ek ook met die trein vanaf Pretoria na Brakpan gery. Tuis gekom my ouers gebel om te se ek is tuis! Nou is dit gou n boodskap om te se ek is naby of gaan na…… sien jou in 10 minute! Dis heerlik. Ek ry hier trein en nes ek verby die stasie ry vertel ek my seun ek is hier by jou “bye” sien jou met terugkom

3 02 2015
Xena Phoenix

Dit is voorwaar een plek waar selfone nuttig is. Treine, vliegtuie en busse vertrek mos nooit wanneer hulle moet nie. Jy kan skree wanneer jy vertrek of wanneer daar vertragings is. Met vliegtuie weer, kan jy laat weet wanneer jy geland is en iemand kan van hulle huis af ry.

3 02 2015
scrapydotwo

Stem saam. Ek sien my skoondoger kyk ook op haar foon as hul oppad stasie toe is of die trein betyds is of laat

2 02 2015
HesterLeyNel

O toggie Maasdorp! En Keurboslaan! Was daar ooit weer sulke wonderlike reekse? Nee, hier gaan ek nou weer die hele aand langs “memory lane” af wandel en niks slaap nie.

Ek haat selfone, veral as dit telebemarkers is wat bel wanneer ek in hewige verkeer beweeg (of stilstaan). Hieroor gaan ek nog ‘n blog skryf en goed stoom afblaas.

My huistelefoon is ongelys en maak nooit ‘n geluid nie. Nee, skryf maar liewer vir my op facebook of blog daaroor.

3 02 2015
seegogga

Ek is mall oor my sel. Hier le ek nou in di middel vd nag in d bed en lees blogs op my sel…. ek het ook al 2 nuwe tale ontdek: sms taal en touchscreen taal!

3 02 2015
Xena Phoenix

Dit is amper 6h gewees. 😉 Ai, die wonders van die see.

3 02 2015
Xena Phoenix

Ek het Maasdorp baie geniet en baie moeite gedoen om die reeks in die hande te kry. Ek het egter nie byt aan Keurboslaan gekry nie.

Telebemarkers is ‘n ander spesie. As hulle jou bel oor ‘n nuwe selfoonkontrak en jy vertel hulle jy het reeds twee selfone, sal hulle jou wragtig probeer oortuig om ‘n 3de foon te kry. Mens het mos net twee ore en twee hande.

3 02 2015
HesterLeyNel

Haha, dis wat ek eendag vir ‘n finansiële instelling gesê het wat ‘n tweede kredietkaart aan my probeer afsmeer het – HOEVEEL KAARTE KAN EK GELYKTYDIG SWIPE???

3 02 2015
Toortsie

Ag, ‘n lekker ou liefdesbrief deur die pos… wat mis die jongmense nie alles nie! Onthou, ons kon nie op die foon vry nie, tannie Martha het ingeluister…

3 02 2015
Xena Phoenix

Ou flitsie, Tannie Martie het daardie tyd ook nie Sepies gehad om te kyk nie. Gun haar die ou plesiertjie.

Die vraag is of daar vandag nog plek is vir romanse? Maak mense mekaar nog hof? Dit is deesdae ontmoet, kry ‘n drankie en verdwyn om die hoek.

3 02 2015
Toortsie

Haar koekoekklok het haar weggegee. Soms het jy daar gekom dan was die koekoek se deurtjie gesluit… 😉

3 02 2015
Kameel

Ek lees sommer jou blog hier op my selfoon, hy het dus sy voordele 🙂 Ek geniet my selfoon, maar sal nie omgee vir ‘n dik geselsbrief so nou en dan nie.

3 02 2015
Xena Phoenix

Ek moes ‘n paar jaar terug weer met tye ‘n pen opneem en skryf vir ‘n vale. Weet jy hoe lam was my arm? Op skool het jy ure aan een geskryf. Nie net notas gemaak of getik nie. As ek briewe moes skryf, het niemand van my gehoor nie.

3 02 2015
Kameel

Ek hou ook niks van skryf nie…. tot my handtekening is beroerd. Maar ‘n mooi handskrif is vir my soos kuns, en ek hou daarvan om briewe te ontvang… wat ander geskryf het.

3 02 2015
Spokie sny spoor

Ja, tegnologie is voorwaar baie handig. Ek waardeer my selfoon, maar om kort-kort ‘n nuwe te kry en dan te bemeester, frustreer my gewoonlik …
Daarom – gee my liewer ‘n klavier as uitdaging … tegnologie is vir die brein ouens wat van wiskunde seker hou.

Oulik geskryf!

3 02 2015
Xena Phoenix

Spokie, sien dit as behandeling teen Alzheimers. Hoe besiger jou brein bly, hoe moeiliker kry dit blykbaar vatplek.

4 02 2015
Toorts se Toeka Tokkel Telefoon | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

[…] nie! 😦 Verder kon ek net nie dink wát ek sal skryf in hierdie opdrag van Scapydo nie, toe die Merrie my gedagtes aan die gang gesit […]

5 02 2015
scrapydotwo

Jy het n lekker klomp telefoon geselsies hier gehad. Dis tyd dat almal n foon storie skryf

5 02 2015
TOEKA-TOKEL 7 : KLERE/MODE | scrapydotwo

[…] https://herriemerrie.wordpress.com/2015/02/02/toeka-tokkel-6-telefoon-stories/  was heel eerste met haar telefoonstorie en ouens het lekker gesels. […]

5 02 2015
Toeka tokkel 6. Olga se onthou. | OLGA SE OKSELTJIES

[…] het by Grieters van Scrapy se uitdagings […]

Lewer kommentaar op Olga Kanselleer antwoord