Toeka Tokkel: Skryf ‘n boek

31 03 2015

Scrapy se taak vir die week is om oor boeke te skryf.  Wat ek al ten minste 300 keer gedoen het en ek haat dit om myself te herhaal.  😉  Dus moes ek verder as my neus dink om die onderwerp ‘n ander baadjie aan te trek.

Ek dink menige mense wat blog droom daarvan om eendag ‘n regte egte skrywer te wees.  In ag genome dat meer as 80% van die wêreldbevolking gelettered is, is dit seker ‘n redelike gevolgtrekking dat meer as 80% van die wêreldbevolking kan skryf.  Tog is nie almal wat kan skryf, skrywers nie.  As jy jouself regtig die dag ‘n skrywer wil noem, moet jy sekerlik iets daarvoor kan wys.  Wat beter is daar om jou skryf mee te bewys as ‘n gepubliseerde boek?

Die probleem is egter om ten minste 50 000 woorde aanmekaar te flans in iets wat ander mense sal betaal om te lees.  As ek die storie regverstaan moet jy ook bereid wees om redelik vinnig die proses te herhaal sodat die uitgewer waarde vir hulle belegging kry.  ‘n Belegging waarvan jy (al is jy redelik goed en gemiddeld suksesvol) baie min van sal sien.  Almal is nou nie J.K. Rowling of E.L. James wat die mark gaan storm loop nie.  Ons praat hier van uiters harde werk, terwyl jy jou regte werk moet doen om jou brood en botter te kry, vir bittermin beloning.  Behalwe nou vir ‘n boek, ‘n regte boek, wat eintlik joune is.

‘n Eie boek is dus ‘n baie mooi prentjie wat net so moeilik is om in te kleur.  Nogtans bly dit vir baie mense ‘n droom vir eendag.

Ek weet darem nie of ek myself as ‘n skrywer sien nie.  Benewens die feit dat ek ‘n luiaard van die eerste waters is, is ek nou nie regtig die letterkundige tipe nie.  My swakste vakke op skool was Tale.  Ek het my al verstout dat my Afrikaans beter as gemiddeld is, maar Better Afrikaans het my oortuig ek verkeer onder ‘n waan.  Wie sou nou ooit kon raai daar is 3 verskillende maniere om ‘n woord te spel?  Ek dwaal nou egter af.  Ek is nie ‘n goeie storieverteller nie, mense begin altyd te gaap as ek ‘n sappige skinderstorie vertel.

Maar kom ons verbeel ons vir ‘n oomblik dat daar ‘n boek in my broek sit.  Watter tipe boek sal ek wil skryf?  Die reine waarheid?  Iets anders.  Ek sal beslis nie die moeite doen vir iets wat ander al gedoen het nie.  Vir vandag sal ek ‘n storie oor ‘n vroulike spioen wil skryf.  Sy sal egter nie haar ding met geweld doen nie (daarvoor is James Bond, Jason Bourne en Evelyn Salt daar).  Nie dat ek iets het teen vrouens wat gatskop nie, kyk maar na wie ek myself vernoem het.  Ek dink net dat daar ‘n gaping is vir ‘n vroueheld wat op ‘n slim manier die wêreld red.  Slim beteken nie seksueel nie.  Ek dink eerder aan manipulasie, listigheid en outydse kul jou hier en kul jou daar.

Die toon sal sarkasties wees, hopelik met vlymskerp humor.  Dit moet ‘n lekker leesboek wees, maar intelligent en realisties.  Ernstig, maar tog vermaaklik.

Dalk moet ek eerder die idee verkoop.  Ek sal beslis nooit so ‘n vrou (of man) kan skep nie.

Skryf jy ‘n boek in jou wildste drome?  Watse tipe boek sal jy graag wil skryf?

Breinvasbrand:  Wie is die skrywer agter Jason Bourne?

Breinlosbrand:  Blykbaar die Romeine.  Dit is ook waar die woord Plumber sy ontstaan te danke het.





Waarskuwing: Gim Kleedkamers

29 03 2015

As ek kon het ek natuurlik nooit ‘n voet daar gesit nie.  Ek praat nou nie van die gim nie, maar van die gim se aantrekkamers.  Helaas is dit nie altyd moontlik.  Sien, my neus vra gewoonlik nie vir toestemming om te loop nie.  Water drink is goed en gesond, maar dit het ook ander newe effekte wat ‘n besoek aan die aantrekkamer regverdig.  Soms smeek jou hande om gewas te word.  Dit is ook nie altyd moontlik om te verklee voordat jy by die gim kom (Nota aan self:  baie mense verklee terwyl hulle bestuur.  Wat keer jou?).  Tussen jou dagboek en ESKOM is dit ook met tye noodsaaklik om by die gim te stort.  ‘n Lang relaas om te verduidelik dat ek nie die kleedkamers kan vermy nie.

Hoekom wil ek dit vermy?  Doodeenvoudig.  Elke keer wat ek my lewe in een waag is daar ‘n vrou (of meer) wat haar volle Evasgewaad in my oog steek.  Nee, dit is nie dat ek staar nie.  Ek is halfpad blind (Nota 2:  Haal dalk jou bril af as jy die kleedkamer moet betree), maar dit is blerrie moeilik om dit mis te kyk.  Dit is aansienlik minder pynlik om te aanskou as sy diskreet is.  Helaas, party vroue het geen voorbehoude nie.

Ek sien gereeld hoe iemand haar so met room smeer dat alles bespat word.  Dit is nie vreemd om ‘n vrou poedelnaken op ‘n bankie te sien sit terwyl sy met haar selfoon speel nie.  Ander van hulle blaas weer hulle hare droog voordat hulle aantrek.  Party loop ook skynbaar doelloos rond.  Diegene wat diskreet voor hulle toesluitkassie hulle ding doen, is nogal skaars.

Toegegee, mens kan hulle nou nie regtig blameer nie.  Die gim het ‘n spul afgeskorte (dankie tog!) storte.  As jy nou regtig issues het (soos die uwe) kan jy wel daar aan en uit trek.  Dit is egter baie beknop en daar is geen waarborg dat jou skoon klere droog gaan bly nie.  Die akrobatiese toertjies wat jy moet uithaal om dit reg te kry, tel seker as ekstra oefening.

Dit gaan net my verstand te bowe dat hulle nie ordentlike aantrekhokkies kan maak nie.  Ek dink aan ‘n toonbank (te hoog vir kaal, dik stêrre om op te kan spring) vir jou klere, plek om aan en uit te trek en natuurlik ‘n stort met deure sodat dit wat moet droog, droog bly.  Daar is Gims wat so ingerig is, sekerlik kan die Besige Maagde dieselfde doen?  Dalk kan hulle sommer ook die toilette van die kleedkamer skei.

Ek weet al die vroue het niks wat ek nie ook het nie.  Dit beteken nie dat ek dit wil sien nie.  ‘n Klein bietjie privaatheid het niemand al ooit skade gedoen nie.

Wat dink julle?  Is ek die een met die probleem?  Hoe voel jy oor gemeenskaplike kleedkamers / badkamers?  Hoe voel jy daaroor om sulke geriewe te deel?  Wat as jy dit met die teenoorgestelde geslag moet deel?

Breinvasbrand:  In watter gemeenskap was die eerste loodgieters gekry?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Mr. Brownlow.





1, 3, 2 . . .

28 03 2015

Hallo Maatjies

Sjoe, julle is slim.  Tannie Ougat was die regste, maar net omdat ek haar so ‘n klein bietjie gehelp het.  Tannie Rondeneusie en Tannie Skrabbel was ook reg gewees.  Tannie Tossel het die vloer gemoer omdat ek nie gesê het sy is reg nie.  So sy was ook reg, al het sy nie geraai nie.  Tannie Laken het lekker saamgespeel.

P1230808

Ek kon nie die week bitch toe gaan nie.  Boe hoe hoe!!!!  Toe gaan ry ek maar ‘n bietjie ‘n silver trein.

Weet julle waar ek is?

1

2

3

Julle is aan!





Hoort enkelkind en matigheid in een sin?

27 03 2015

Die ouers van enkel kinders is gewoonlik baie beslis hieroor:  “Ons bederf ons kind glad nie.”  Enkel kinders stem volmondig saam.  “Ek is nie bederf nie.”  Hulle glo hulle self beslis.

Dit is soos ‘n kennis met ‘n enkel kind my kort voor Kersfees vertel.  “Die jaar gaan Santie maar min geskenke kry, want een van haar geskenke was baie duur.”  Die vrou het ons toe alles van Santie se geskenke vertel.  Nie net was haar groot geskenk duurder as my hele geskenk begroting nie, maar haar min geskenke was meer as wat ek in totaal gekoop het.   Verskeie van die geskenke was ook meer as ‘n R1000 elk.  Gelukkig word Santie nie bederf nie.  Anders was ek beslis jaloers op die snotkop.

Santie is natuurlik nie die eingste onbederfde enkelkind wat ek al ontmoet het nie.  Oor verskeie kulture en ekonomiese klasse is daar een ding wat paal bo water uitstaan.  Wanneer dit kom by verjaarsdae, Kersfees en paasfees; het ouers nie remme nie.  O, ekskuus.  Daar vroetel ek in hulle gesigte.  Kom ek stel dit eerder so:  hulle definisie van matigheid en my definisie van matigheid verskil soos dag en nag.  Toegegee, ek is dalk net ‘n suinige vrek.  Feit bly staan dat ouers wat meer as een kind het, effens meer besadig is as dit kom by Kersfees, Paasfees, verjaarsdae, ‘n uitstappie winkels toe, of sirkus toe of . . .

Van waar ek op die wal staan lyk die verskil vir my as volg:  Ouers met meer as een kind, koop iets (of ‘n paar ietse) vir ‘n spesiale geleentheid.  Enkel ouers koop alles en gooi sommer ‘n iPhone in om dit ekstra spesiaal te maak.

Nee, ek het niks teen enkelkinders nie.  Ek was self vir ‘n jaar of so ‘n enkelkind gewees.  Sou ouerskap in my sterre wees, sal ek waarskynlik self die ouer van ‘n enkelkind wees.  Dan doen ek waarskynlik presies dieselfde.

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  By wie het Oliver Twist gebly terwyl hy siek was en wie Oliver later ontdek het sy oupa is?

Breinlosbrand:  O aarde!  Ek het droog gemaak.  Ek wou julle vertel het dat Kaliel vir Saul vertel het dat jy saam met ‘n kat van ‘n skip moet afklim.  Toe onthou ek dat Saul vere vir skepe gevoel het.  Verkeerde storie!  (Dammit!  Dit is hoekom mens altyd eers seker moet maak van die vraag)!!  Kaliel het dit vir Lukas (Benjamin) vertel!  In Fiela.  Ek vonnis myself om altwee die boeke die naweek te lees terwyl ek die eier van my gesig af krap.

Toortsie was in elk geval reg.





Toeka Tokkel: Daardie stemmetjie

25 03 2015

Scrapy se onderwerp van die week is Geloof / Bygeloof.

Ai!  Mense en hulle bygelofies.  Partykeer kan ek my verwonder oor waar dit oorspronklik ontstaan het.  Dit is ook verstommend dat een ongeluk aan ‘n onderwerp kan toedig en vir die volgende persoon is dit weer ‘n bron van geluk.  Dit opsigself is dan seker die bewys hoeveel vertroue daar aan ‘n bygeloof gegee kan word.

My gunsteling woord is nie verniet hoekom nie.  Ek is met ‘n gesonde hoeveelheid skeptisme gebore.  Ek aanvaar beslis nie ‘n storie net omdat dit aan my vertel is nie.  Ek moet oor die algemeen iets selfs sien, voordat ek dit glo.  Beter nog, ek toets dit sommer self om absoluut seker te wees.  Ek glo ook dat ek my eie geluk en/of ongeluk maak.  Ek is dus nie juis gepla met ‘n hoefyster, swart kat, oop sambreel of gebreekte spieëls nie.  Ek het al genoeg onder lere deur geloop om te weet dat dit beteken dat ek onder ‘n leer deurgeloop het.  Niks meer en niks minder nie.

Dit keer my natuurlik nie om aan die prettige bygelofies deel te neem nie.  ‘n Diertjie moet ‘n plesiertjie hê.  Ek gooi sout oor my skouer as ek mors, want dit is lekker om sout verder oor jou skouer te mors.  Ek moet my dak klap wanneer ek oor ‘n oranje lig ry, omdat ek geboelie was om dit te doen.  Dit voel net of jy verkeerd ry as jy dit nie doen nie.  En dit is net verkeerd om iemand ‘n handsak, beursie of spaarvarkie te gee wat leeg is.  Natuurlik gaan daar mos altyd geld in wees as die geld wat die gewer ingesit het, nooit uitgehaal gaan word nie.  Dit is buitendien net slegte maniere om nie geld wat rondlê op te tel nie.

Ek moet egter helaas erken dat ek wel bygelowig is.  Alles bygelowe wat ek persoonlik self ontwikkel het.  Ek het al hoeveel boetes gemis deur na die stemmetjie te luister wat my vertel het daar is ‘n spietkop om die draai / oor die bult / agter die bos.  Ek is veral bygelowig oor stres.  As ek moet stres en ek doen nie, het ek waarskynlik rede om te stres.  As ek my doodstres voor ‘n afspraak, taak, toets – het ek gewoonlik nie rede om te stres nie.  Ek het ook al geleer om katvoet te wees as alles klopdisselboom verloop.

Siende dat ek al my bygelowe uitgelap het, wat is jou bygelowe?

Breinvasbrand:  In Kringe in ‘n Bos, wat reken Kaliel moet jy doen as ‘n kat van die skip af klim?

Breinlosbrand:  Olga was reg met ABBA.





Moet nooit ou media afskryf nie

23 03 2015

Ek is nie seker wat mense gedoen het vir musiek voordat daar plate was nie.  Hulle moes dit seker maar self maak of na konserte gaan.  Moontlik self sing om deur die dag te kom.  Dit was eers in 1857 wat die eerste gramofoon speler gepatenteer en daarmee kon mense die musiek van hulle keuse huis toe vat.

Vir baie jare was plate (wel, een of ander vorm daarvan) goed genoeg.  Dit was dalk ‘n bietjie lomp, nou nie maklik om in jou kar te speel nie en kon nou nie ‘n paar kleuters wat op hulle geskaats het oorleef nie.  In die vroeë 70’s was daar kassette.  Nie regtig meer duursaam nie, maar makliker om jou eie te maak en rond te dra waar dit jou pas.  Selfs in jou kar en later was dit ook die eerste medium wat jou toegelaat het om dit orals saam met jou te dra.  Solank die kasset gehou het, was die klank ook beter as die van ‘n plaat.

In die 80’s het laser skywe die mark getref.  Die klank kwaliteit was uitstekend.  Die CD het vinnig lang speel plate vervang en na ‘n rukkie het dit sommer kassette ook nek om gedraai.  Dit was draagbaar, meer duursaam (nou nie perfek nie) en mens kon nog steeds jou eie CD’s maak.  As dit nog nodig is.

Die laaste dekade of so, is dit amper geldmors om ‘n CD te koop.  As jy eerlik is, koop jy sommer jou musiek aanlyn.  Dit is elektroniese media, wat dus uiters draagsaam is.  Verder is dit absoluut krap bestand.  Buitendien het jy nie meer nodig gehad om die hele album te koop as een liedjie jou sokkies op en af rol nie.  Mens kry nog CD’s, maar die doodklokke begin hard en duidelik te lui.

En nou?  Nou is ons snaaks genoeg terug na plate.  Moenie dink dat dit die ou mense is wat terug verlang nie.  Elke radiostasie het hulle “vinyl” oomblik om mense te ?  Ek is nie seker nie.  Daar is ‘n skimp dat elke mens wat ernstig oor musiek is, ernstig plate versamel.  Musiek is net musiek as dit lewendig gehoor word of van ‘n plaat afgespeel word.

Persoonlik is ek maar ‘n CD meisie.  Hoe verkies julle julle musiek?  Is plate nou hier om te bly?

Breinvasbrand:  Die eerste pop musiek CD van Polydor Pressing Operations was The Visitors in 1981.  Wie was die kunstenaars agter The Visitors?

Breinlosbrand:  Kameel was reg met Herbert Baker.





Stank vir Dank

22 03 2015

In Suidelike Afrika het Cecil John Rhodes ‘n fortuin gemaak, beslis nie vriende nie.  Ek vermoed nogal dat die vernietiging van sy standbeeld baie stoere Afrikaners se harte sal laat sing.  Rhodes het immers geen ooghare vir die Boere gehad nie.  Hy het beslis ook geen respek vir nie-blankes gehad nie.  Daar is beslis rede om hom te verag.  Nogtans was ek nog altyd iemand wat geglo het dat jy die duiwel moet gee wat hom toekom.

Die media het onlangs gegons oor studente wat Rhodes met alle geweld en bollie van die Universiteit van Kaapstad wil verwyder.  Hulle voel dat hy ‘n simbool van verdrukking, rassisme en kolonialisme is.  Iets wat Rhodes se bors waarskynlik sou laat swel het van trots.  Natuurlik is daar ook nou mense wat graag Rhodes Universiteit in Grahamstad se naam wil verander.  Nog ander wil die Rhodes uit die Mandela Rhodes Beurs gaan haal.  Toegegee, Rhodes sal waarskynlik nie oor die laasgenoemde kla nie, mits sy geld ook uit die beurs gehaal word.

Daar is natuurlik ‘n rede hoekom Rhodes se standbeeld in UCT is en hoekom die universiteit in Grahamstad na die mannetjie vernoem was.  Rhodes het die nodige skenkings gemaak waarop die universiteite gebou is.  ‘n Standbeeld en vernoeming is seker die minste wat uit dankbaarheid gedoen kon word.  110 jaar later, is dit egter nou ‘n belediging.  Ek wonder of Rhodes se geld en / of grond aan sy boedel terug besorg gaan word.

Amper vergeet ek.  Rhodes het homself groot ryk uit Afrika gesteel.  Hy was seker nou nie die eerlikste sakeman ooit nie, maar het hy regtig alles gesteel?  Indien wel, wat van die Oppenheimers, die Ruperts en die Motsepe’s?  Gaan al Suid-Afrika se super rykes oor dieselfde kam geskeer word?

Baie mense stem saam dat Rhodes nie op UCT hoort nie, maar verkies dat die standbeeld eerder geskuif word.  Malema skree weer dat alle Apartheidssimbole vernietig moet word.  Soos in gryp ‘n hamer en vee plat.  Is dit wat regtig nodig is?  Kan daar nie net nuwe standbeelde opgesit word nie?  Rhodes, Botha, Van Riebeek en Kruger was deel van die geskiedenis.  As hulle dan nie vereer kan word nie, kan hulle herinner dat Geskiedenis nie herhaal moet word nie.

Ek verstaan ook dat die UCT studente voel dat die universiteit te Europeërs is.  Hulle soek ‘n Afrika universiteit.  As ‘n stoere Tuks alumnus gee ek toe dat UCT een van die beste universiteite op die kontinent is.  😉 Amper so goed soos Tukkies.  Min mense sal hulle neuse vir UCT optrek.  Dit is beslis nie te danke aan die Afrika insae nie.  Ek glo beslis ook nie UCT sal hoog aangeskryf word as dit ‘n Afrika universiteit word nie.

Wat sal sal tog word van Afrika se jeug?

Breinvasbrand:  Wie het die Rhodes Monument ontwerp langs UCT?

Breinlosbrand:  Olga was reg met London.

 

 





Laviga is weg

21 03 2015

Hallo Maatjies,

Sjoe!!  Julle is vreeslik slim.  Tannie Ougat was die regste regste met Der Reiterdenkmal by der Alte Feste.  Tannie Daresalaam was ook reg.  Dit is presies waar die Nasionale museum van Namibië is.  Daarom is tannie Rondeneusie ook reg – dit is alles in Namibië.  Maar nou is ek moeg vir die sand en winderige hoeke.

P1150786

Die week gaan julle sukkel.  Terwyl ek wegkruip gaan ek sommer na die dolkalyne kyk.  Hulle is so mooi wanneer hulle uit die water spring.

1

2

4

Julle is aan.





En jy kry hulle op die pad

18 03 2015

Die goue reël van die pad is “Hou links”.  Die reël se status kan dalk  verlaag word.  Ek meen, baie paaie het meer as een baan en dit is onmoontlik vir almal om links te hou.  Dit is ook heeltemal wettig om onder die regte omstandighede regs verby te steek.  Partykeer is dit net veiliger en logies om regs te hou.  Buitendien bestuur alle lande nie links nie, dus sal ‘n universele reël meer van toepassing wees.

Ek het ‘n voorstel.  Maak die goue reël van die pad “Moenie ‘n poephol wees nie.”  Die reël is goed genoeg vir daaglikse gebruik in enige omstandighede, maar ja, Rome is nie in eendag gebou nie.  Dit is seker maar in die mens se DNA om dan en wan ‘n poephol oomblik te hê.  Die ongeluk is dat party mense heeltemal misbruik daarvan maak.  Sommige kom net nooit uit hulle poephol oomblik uit nie.  Natuurlik voel hulle ‘n veer daaroor, ‘n poephol kan nie omgee hoe dit ander mense beinvloed nie.

Terug na die pad.  Gestel nou jy moet van ‘n dubbelbaan by ‘n stopstraat regsdraai.  Die enkelbaan waarin jy moet draai is vol.  Daar is basies twee keuses.  Opsie poephol:  Draai regs en sny sodoende die verkeer wat reguit kan aangaan af.   Dit is mos jou beurt om te ry.  Dit is nie baie hoflik nie.  Die ander opsie is om solank die mense wat kan ry, toe te laat om so te doen terwyl jy vir ‘n gaping wag.  Wat natuurlik deur die linksdraai-steler poepholle uitgebuit word tot die gevolg dat jy self lus is om ‘n poephol te word.

Dit bring my by die poepholle wat net nie hulle beurt kan afwag nie.  Hulle sal opsluit die noodbaan, sypadjie of teenoorgestelde baan gebruik om 100 m verder in te druk.  Natuurlik kan jy die poephol wees wat weier dat hulle indruk.  Nie dat hulle ‘n gatjie verdien nie, maar die kar aan die ander kant het niks verkeerds gedoen nie.  Hulle verdien nie om soos ‘n poephol behandel te word nie.  Wat van die poepholle wat van die vorige blok jaag om die verkeerslig op groen, oranje of selfs rooi te vang en daardeur almal wat regs wou draai afsny?  Of die poephol wat gesien het wat gebeur en dan opsluit wil storm wanneer die lig groen raak, ongeag die karre wat in die middel van die kruising hulle rybeurt afwag?  Ek praat nie hier van verkeersligte wat pyltjies het nie.

Parkeerareas floreer ook van poepholle.  Daar is mense; jammer, ek bedoel poepholle; wat doodeenvoudig sal weier om op ‘n besige Saterdagoggend iemand uit ‘n parkering uit te laat kom.  Wel, behalwe as hulle verseker is dat daar geen ander parkering is nie.  Of wat van die poepholle wat sommer iemand se parkering onder hulle neuse uitsteel (gewoonlik ‘n linksdraai-steler).  Ek meen regtig?  Gaan kul eerder op jou belastingvorms.

Watter poepholle identifiseer jy op die paaie?

Breinvasbrand:  Waar was die eerste gas verkeersligte gebruik in Desember 1868?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Ou Engelse Skaaphond.

 





Toeka Tokkel: Seisoene

17 03 2015

Scrapy se uitdaging van die week is Seisoene.  Ek het nie eintlik veel te sê oor seisoene nie.  Ek meen:  dit kom, dit gaan en dit is die verloop van die lewe.  Ek is te vlak om dit dieper betekenis te gee en om eerlik te wees, soveel mense oor die eeue heen het dit soveel beter gedoen as wat ek ooit sal kan.

Ironies genoeg het iemand my nou die dag vertel dat Suid-Afrika nie seisoene het nie.  Bedoelende, daar is nie regtig ‘n spesifieke karakter wat elke seisoen vir ons inkleur nie.  Op die oomblik is dit Herfs – maar die meerderheid van bome is immergroen.  Ons sien selde massas bome wat in hulle herfskleure getooi is.  Die dae raak korter en skielik kom jy in die donker by die huis.  Dit is egter nie iets wat ‘n besoeker dadelik vertel dat dit Herfs is nie.    Bokant die Vaalrivier is ons somers sonnig, maar so ook ons lentes, herfse en selfs winter.  Die lug het net soms ‘n byt in en daar is tye wanneer ons meer reën verwag as ander tye.

Seisoene is egter nie net ‘n verwysing na ‘n sekere tyd van die jaar nie.  Daar is byvoorbeeld beslisde kommersiële seisoene.  Vroeg in Januarie is dit “Terug Skool Toe”, wat binne ‘n paar weke rooi geverf word vir die “Valentyns-seisoen”.  Nadat die sjokolade lus aangewakker is, is dit om dit behoorlik te voer met die “Paasseisoen.”  Dan kom die seisoene vir Moeders, Vaders, miskien jeugdiges en beslis vrouens onderskeidelik.  Lente word haastig in ‘n dag gedruk en dan is die Erfenis seisoen op ons voordat die Kers-seisoen die kroon oor alle seisoene span.  “It’s the season to be jolly . . . .”

Sport word ook gewoonlik in seisoene gespeel, al strek die rugby seisoen van Februarie tot einde Oktober.  Opvoerings word ook gewoonlik vir ‘n seisoen aangebied wat nie noodwendig met die natuurlike seisoene ooreenstem nie.  Vermaak (veral flieks) op televisie volg ook spesifieke seisoene.  So is daar ‘n Menseregteseisoen in Maart, Junie en September.  Die manlike seisoen is in Junie en die vroulike seisoen is in Mei.  Die riller seisoen is in Oktober en soms November.

Seisoene verwys na ‘n tydperk waarin jy sekere goed te wagte kan wees.  Al is Suid-Afrika nou nie ‘n poskaart advertensie vir die verskillende seisoene nie, is daar wel seisoene waarna ons kan op- / uitsien.

Wat is jou gunsteling seisoen?