Sonder kind of kraai (of so iets)

3 02 2015

Kinders en troeteldiere is nie ‘n luukse nie.  Moet my nie verkeerd verstaan nie.  Ek is ‘n groot voorstaander van verantwoordelikheid, veral betreffende kinders en diere onder jou sorg.  Ek bedoel geensins dat mense van hulle verantwoordelikhede moet wegskram of net hande in die lug gooi nie.  Eerder dat die behoorlike versorging van kinders en diere nie buite die bereik van ‘n gewone mens behoort te val nie.  Kinders en diere – in redelike hoeveelhede – behoort vir almal beskore te wees.  Nie net vir ryk mense nie.

Neem byvoorbeeld ‘n ou oom Kallie wat alleen bly.  Wat is fout daarmee as hy nog ‘n asempie in die huis wil hê?  Die oom is van voorneme om die hond (of so iets) tot die beste van sy vermoë te versorg.  ‘n Pensioen strek egter net sover.  Dit is nie regverdig om te verwag dat die oom sy eie kos, medisyne of sorg moet opoffer om die dier te versorg nie.  Wat maak hom minder werd as troeteldier eienaar as Mev. Mynmagnaat op Snobbult?

Troeteldiere is nie goedkoop nie.  As jy ‘n jong dier kry, moet jy bereid wees om die dier een of ander tyd te steriliseer.  Soos ek verstaan kos dit so R800 en R2000.  Oom Kallie wat sy lewe lank by die Spoorweg gewerk het gaan beslis nie iemand kry wat sy hond gratis gaan snip nie.  Inspuitings kos maklik R300 – R1000 op ‘n slag.  Bewaar oom Kallie as die hond onverwags siek word.  Daar is natuurlik nog die wurmpille en vlooibehandeling.

Dit is nie net mediese onkostes nie.  Die hond moet natuurlik eet.  Die “aanvaarbare” kos begin by R100 / kg.  Dit is wat die veearts sal aanbeveel en die dierehitlers verwag wat ‘n hond moet eet.  Kom ons plaas dit in konteks.  Rump steak kos gemiddeld R100 / kg.  Niemand verwag dat oom Kallie sy hond moet Rump Steak voer nie.  Hoekom dan kos wat soveel kos?  ‘n Mens se voedsel kos nie eers soveel nie.

Kinders is nog erger.  Babas het nogal die gewoonte om nie op bestelling te kom nie.  Toegegee, daar is iets soos voorbehoeding (veral as mens sien wat hulle kos), maar almal is seker geregtig op ‘n nageslag (weereens in redelike hoeveelhede).  Gelukkig kos kindervoedsel nie R100 / kg nie.  Dokters is nie veel duurder as veeartse nie, maar menslike medisyne is aansienlik duurder as dierlike medisyne.  Dan praat ons nie van skoolfooie en ander uitgawes wat ‘n mens vir die bloedjies moet aangaan.

Weer ‘n keer, wat maak Mev. Mynmagnaat ‘n beter ouer as die vrou wat haar klere stryk?  Altwee wil die beste vir hulle kinders hê.  Niemand wil ‘n kind sien ly omdat die ouers nie hulle basiese benodighede kan voorsien nie.  Nie omdat hulle dobbelaars, dronkaards of verslaafdes is nie.  Bloot net omdat die verantwoordelikhede net buite hulle bereik is.

Ek weet nie.  Vir my is dit net verwronge.  Iewers het kinders en diere luukshede geword en dit is verkeerd.

Of kyk ek skeef daarna?

Breinlosbrand:  Wat het oom Kallie gedoen nadat hy ‘n stywe dop gedrink het?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Google?


Aksies

Information

19 responses

3 02 2015
Olga

Eerste.

Die ou swernoot het sy vrou met die besemstok gaan slaan.

3 02 2015
Olga

Kinders en diere is peperduur kommoditeite. Kyk maar wat kos ‘n eenvoudige speelding of ‘n hondeborsel. Ja, ek weet, die veeartse, drs en leweransiers van skoolgeleerdheid wil ook lewe, …. in weelde. Daarom moet mens nie eers staat maak op die kindertoelaag waarvoor meeste jong en nie meer so jong vroue laat teel vir ‘n wen en ‘n plek nie. If you aint got the money honey, los diere en kinders maar eerder uit.

4 02 2015
Xena Phoenix

Ek dink daar moet toegewerk word as jy reeds ‘n kind op toelaag het. Maak dit sommer ‘n voorwaarde vir die toelaag.

Ek sien ‘n pak paaseiers kos amper R90. Regtig? Kan enige iemand dit bekostig? Goed, lekkers is ‘n luukse. Melk, groente en vleis is nie. Dit is belaglik duur en dit is goed wat kinders moet inkry.

4 02 2015
scrapydotwo

Die lewe is maar net nie regverdig as dit by uitgawes kom nie. Ek kan bv skaars bekostig om my hond veearts toe te vat. Tog verskaf hy soveel plesier dat ek maar my eie eetgeld gebruik om hom te help gesond word. Hoekom moet dit so duur wees? Omdat mev Mynmagnaat genoeg geld het, nie omdat die wat nie geld het dit kan bekostig nie!(selfde met kinders, daar is perke, maar steeds uitgawes word deur rykes bereken nie deur hardwerkendes nie)

4 02 2015
Xena Phoenix

Ek dink ‘n veearts se konsultasiefooi is meer as ‘n mensdokter s’n. Ek het al gewonder of ‘n mens nie ‘n ander model moet probeer nie. Soos jy het byvoorbeeld ‘n kontrak by ‘n veearts. Jy betaal hom / haar R200 ‘n maand en dan behandel hy jou hond verniet wanneer jou hond dit benodig.

4 02 2015
scrapydotwo

Hier het hul spesiale honde versekering. Die ding is mens gebruik hul nie so baie nie en dan is dit ook maar n mors van geld. Dis maar my gevoel. As mens bv vir n reeks besoeke gaan betaal mens darem minder per besoek.

4 02 2015
Xena Phoenix

Mediese fondse vir troeteldiere is ‘n mors van geld. Hier het jy ‘n derde bybetaling en die beperkinge is nou ook nie juis iets wat jou gemoedsrus gee nie.

4 02 2015
scrapydotwo

Dis darem n pragtige foto!😀

4 02 2015
Xena Phoenix

Dankie. 😉 Persoonlik self gesteel.

4 02 2015
scrapydotwo

Ha ha lekker man. Jy sal moet saamwerk met my Maandag storie oor Diamond Jack

4 02 2015
Xena Phoenix

Nee, nee. Ek het die verbeelding van ‘n klip. 😉

4 02 2015
scrapydotwo

Mens weet nooit wat uit-pop nie.

4 02 2015
Toortsie

Ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat dit nie saak maak of jy arm of ryk is hoe jy jou kind of dier gaan versorg nie, maar wel of jy WIL. Ekself was uiters arm toe ek my tweeling gehad het, en ek het hulle na die beste van my vermoë versorg. Hul het dalk net die heel nodigste klere gehad, maar wel liefde en sorg ontvang. Ek weet daar is mense wat nog baie armer is as wat ek ook was wat wel hul kinders goed versorg. Dalk is dit makliker as daar geld is, maar die WIL en die LIEFDE maak die verskil.

4 02 2015
Xena Phoenix

Dit is seker ook waar. Nogtans het ‘n kind ‘n minimum hoeveelheid behoeftes wat nie net met liefde en sorg vervul kan word nie.

Ek praat noudie dag met iemand wat uit en uit ‘n miljoenêr is. En hy kerm hoe duur dit was om 3 kinders groot te maak. Soos in die sin dat hy onmoontlik ‘n 4de kind sou kon bekostig het. Watter hoop is daar dan vir ‘n gemiddelde inkomste of selfs ‘n arm persoon?

4 02 2015
Spokie sny spoor

Ja, waarom speelgoed en kinderklere so ongoddelik duur moet wees, weet ek nie. Sommige ouers spog meer oor die ‘brand’ op die voorkant van klere terwyl Pepstores se klere ook die kind kon bedek het.
As kind was dinge soos blikkies en vuurhoudboksies en dinge buite vir my die lekkerste speelgoed … Vandag gooi ouers kratte en kratte stukkende speelgoed weg. Die goed hou in elk geval nie eers nie…

4 02 2015
HesterLeyNel

Dis waar, hoor! Ek het my kinders geleer om met klippes en blikkies te speel toe hulle klein was, soos my ma my geleer het. My dogter het sowaar later ‘n video van een van hierdie speletjies gemaak so ‘n jaar gelede en op You Tube gepubliseer – kyk by http://youtu.be/m-4Qlko9i_A. Dalk moet ons ‘n beweging begin om ou speletjies te laat herleef?!

4 02 2015
Xena Phoenix

Ons bediende het ons die klippie speletjie geleer.

Ek was nou die dag in die moeilikheid toe ek iemand wou leer klippie-skool speel. Ek kon nie die reels onthou nie.

4 02 2015
Xena Phoenix

Het jy al ooit gekyk wat kos kinder onderklere? Toegegee, seker aansienlik goedkoper as ‘n doek.

Jy laat my nou dink aan daardie MasterCard advertensie. Die pa vertel hoe hy sy kaart vir sy dogter se speelgoed geswaai het en sy speel eerder met ‘n ou boks.

5 02 2015
Spokie sny spoor

Nooit gedink aan die prys van onderklere nie! Ek het so lanklaas gekoop …. maar hoor dis erg.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: