Raakvatgoeters

4 02 2015

Haar hande staan vir niks verkeerd nie.

Dit is die laaste ding waarvan ek beskuldig kan word.  Dit is ‘n gesonde kombinasie van twee linker hande, luiheid en algehele gebrek aan belangstelling.  Boonop hou ek nie daarvan om my hande vuil te maak nie.  Nee wat, my vaardighede lê in my kop en nie in my hande nie.

Alhoewel, mens kan nou nie eintlik ‘n elektrisiën bel as ‘n gloeilamp die gees gee nie.  Nou nie almal is poppies wat weet hoe om wimpers te fladder om die buurman in ‘n ridder te om skep nie.  Daar is dan net een genade:  doen dit self.  Dit is mos nie veronderstel om ‘n gespesialiseerde operasie is nie.

Dus moes ek al beide my linkerhande inspan om die nodige herstelwerkies te doen.  Weet julle wat is die moeilikste daarvan om ‘n gloeilamp te vervang?  Dit is nie om die ou een uit te haal en met die nuwe een om te ruil nie.  Dit is nie om ‘n redelike delikate voorwerp versigtig genoeg te hanteer sonder om dit te breek nie.  Dit is nie eers om bo op ‘n leer te klim nie.  Die moeilikste is om die nuwe gloeilamp aan te skaf.  Dit vat my soms weke, indien nie maande nie.

Dit is moeite om die vervlakste ding te gaan koop.  Eerstens moet jy verder as jou daaglikse brood en melk dink as jy in die winkel is.  Die dag wanneer jy wel onthou dat een van jou vertrekke in die donker is, is daar die dilemma van watter gloeilamp jy nodig het:  inskroef of pennetjies.  Glo my, dit is altyd die een waarsonder jy huis toe gaan.

Onderhoudswerk strek verder as net gloeilampe vervang.  Om ‘n gloeilamp te vervang het jy gewoonlik nie eers gereedskap nodig nie.  ‘n Bottermes en ‘n stewel strek ook maar net so ver.  Dit help net mooi niks vir as jy ‘n knoop moet aanwerk nie.  Die ‘doen’ gedeelte is eintlik niks; mits jy die nodige voorrade en gereedskap het.

Ideaal gesproke, moet ‘n selfstandige huishouding (een wat nie ‘n loodgieter vir ‘n wasser wil bel nie) sekere voorrade en gereedskap aanhou.  Ek dink nou bevoorbeeld aan ‘n naald, verskillende kleure gare, ‘n tang, die nodige gloeilampe ens.

Wat reken julle moet in elke huishouding wees?  Sonder watter gereedskap en apparaat kan ‘n huis nie?  Waarvan sal ‘n slim mens altyd ‘n bietjie ekstra aanhou?  Wat is die absolute minimum wat iemand vir hulle self moet kan doen?  Wat doen jy op jou eie en waarvoor kry jy eerder professionele hulp?

Breinvasbrand:  Waar was Thomas Edison se eerste kragstasie?

Breinvasbrand:  Olga was reg dat Oom Kallie sy vrou met die besemstok geslaan het.  Wel, net tot sy haar gat gewip het.