Stokperdjies en koeitjies

10 02 2016

Scrapy se huiswerk die week gaan oor jou eerste stokperdjie.

Orals word mense deesdae gemaan om geld te spaar en om geld baie versigtig te bestee.  Noudie dag lees ek in ‘n artikel dat ‘n mens jou stokperdjies moet gebruik om geld in te samel.  Asseblief!  Wie gaan my betaal om my stokperdjie te beoefen?  Ek het nog nooit van iemand gehoor wat van lees geld maak nie.

In elk geval, ek is nie heeltemal so seker dat lees ‘n stokperdjie kan wees nie.  Ek is ook nie heeltemal so seker dat ek regtig ‘n stokperdjie het nie.  Ek het al oor die jare hier en daar iets probeer.  Tuinmaak het nie vreeslik lank gehou nie, want die uwe hou nie vuil hande nie.  Dit is min of meer dieselfde lot wat lapverf getref het.  Behalwe nou dat ek nie een kreatiewe been in my liggaam het nie.  Wat my dan nou al ooit laat dink het ek gaan van verf hou.  Ek het nog nooit van inkleur of teken gehou nie.  Ek het vir ‘n rukkie seëls versamel, maar daar was nie juis seëls om oor huistoe te skryf nie.  Ek het nou nog ‘n skulp versameling en ek geniet dit wel om skulpies op ‘n strand op te tel.  Nogtans sal ek dit nie ‘n stokperdjie noem nie.  Dit is verseker ook nie my eerste stokperdjie nie.

As dit nou regtig iets moet wees, is my stokperdjie seker analises.  Dit het natuurlik begin die oomblik wat ek die woordjie hoekom bemeester het.  Ek het ‘n geneigdheid om iets oop te kloof tot daar nou regtig niks meer is wat gekloof kan word nie.  Dit is dan seker ook waar my internetverslawing vandaan kom.  As daar iets my pad kruis wat my interesseer, gaan ek dit opswot asof ek ‘n tesis daaroor sal moet skryf.

Dit is natuurlik iets wat ek vandag nog doen.  Ek kyk gewoonlik met my selfoon TV.  Alles wat my interesseer word daar en dan gegoogle.  Raai hoekom wil niemand saam met my TV kyk nie.  As ek byvoorbeeld baie van die program hou, sal ek alles omtrent die produksie, die karakters, die akteurs, die karakters en akteurs se belangstellings, vorige projekte, nuwe projekte en natuurlik al die ‘weird & wonderful’ verwysings weet.

Natuurlik word al die inligting wat ek kry deeglik oordink vir patrone, ooreenkomste en verskille.  Hoekom?  Eintlik maar net om myself mee te vermaak.  Seker ook maar in ‘n mate besig hou.

Breinvasbrand:  In Lord of the Rings, watter Hobbit het die ring oorspronklik opgetel?

Breinlosbrand:  Martin Luther King is doodgeskiet.  HesterLeyNel was dus reg.

 


Aksies

Information

3 responses

10 02 2016
scrapydo2.wordpress.com

Ek dink n stokperdjie kan iets wees waarmee jy nie geld verdien nie. Wat dink jy? Sodra jy betaling kry is dit nie meer n stokperdjie nie maar werk. Jou lees is beslis n perdjie asook jou navorsing oor die karakters en wat ook al. Dankie vir jou deel. Jy is n slim kind om so baie te lees!

10 02 2016
Olga

Ek dink ‘n stokperdjie is iets wat jy geniet. Daarom doen mens dit mos graag.

11 02 2016

Lewer kommentaar