Salomo sou hardloop

14 03 2016

Vermisde (gesteelde en ontvoerde) kinders is ‘n ander tameletjie.  ‘n Mens kan seker nooit aanbeweeg nadat jy ‘n kind verloor het nie.  Tot die dag dat daar ‘n lyk is, bestaan die hoop seker maar dat die kind weer gevind sal word.  Daar is kinders wat nooit weer gesien word nie, maar tog is die kinders wat dekades later gekry word.  Suid-Afrika het self so ‘n storie.  Verlede jaar is  ‘n matriek meisie deur haar biologiese familie opgespoor nadat sy in 1997 as ‘n pap baba uit ‘n hospitaal gesteel is.

Duisende (miljoene) mense beskou dit as ‘n wonderwerk.  Vir die dame waarom die hele drama draai, is dit ‘n nagmerrie.  Seker die laaste ding wat sy in haar matriek jaar benodig het.  Sy moes ondermeer gaan baklei het om haar identiteit te beskerm nadat sy 18 geword het.  Nou is sy blykbaar weer hof toe, die keer om die naam onder wat sy groot geword het te behou.  Ek verstaan ook dat sy niks van haar biologiese familie wil weet nie.  Sy bly tans by die man wat haar groot geword het, die man wat vir alle praktiese doeleindes haar pa is.

Dit is te verstane dat haar biologiese familie haar opgeëis het.  Hulle was basies maar kinders toe sy gebore was.  Om as jong mense verantwoordelikheid vir ‘n kind te aanvaar, moet vreeswekkend wees.  Die enigste ding erger is om die kind – deur geen toedoen van jou eie – te verloor.  Daar was seker baie wat geoordeel het en menige wat beweer het hulle is beter af.  Nogtans, dit was hulle kind.  Niemand het die reg gehad om hulle van die kind te ontneem nie.  Ek dink dit spreek boekdele dat hulle ten spite van alles getroud is, nog kinders saam gehad het en ‘n suksesvolle lewe kon bou.

Aan die anderkant was daar ‘n vrou wat gesmag het vir ‘n kind.  Ek glo nie vir ‘n oomblik haar weergawe wat sy in die hof gedeel het nie.  Sy sou waarskynlik meer simpatie geniet het, as sy skuld erken het en die waarheid vertel het.  Nogtans is ek geskok met die vernyn en haat waarmee sy in die media aangeval word.  Ten spyte van alles, het sy die kind wat sy gesteel het tot die beste van haar vermoë groot gemaak.  Die meisie was nie mishandel nie, sy was nie afgeskeep nie, sy het nie te kort geskiet nie.  Daar was nie ‘n wins (of geld) van haar gemaak nie.  Presies waarop enige iemand in die omstandighede kon hoop.

Ja, ‘n groot onreg is gepleeg toe ‘n baba gesteel is.  Ontvoering is nie ‘n misdaad wat kan verjaar nie.  Natuurlik het die biologiese ouers ‘n reg op die kind.  Maar . . . het die steler regtig geen reg op genade nie?

Ek wonder wat sou Salomo se oplossing gewees het.  Ek wonder wie die hardste sou keer as die regter die meisie in twee sou wou sny.

Op die einde van die dag maak dit seker nie regtig saak nie.  Die vraag is eerder of die meisie sal kan vergewe?  Wie gaan in haar gedagtes wees as sy aan haar ma dink.  Wat as dit nie prentjie is wat reg is nie?  Wat is die regte prentjie?

Breinvasbrand:  Wie van Salomo se broers het voor sy dood aan sy hare in ‘n tak verstrengel geraak?

Breinlosbrand:  Ekmyselfff was eerste reg met Popeye.