Internasionale dag vir Vroue

8 03 2019

imagesKXNE9N64

Ek bewonder vrouens wat gatskop.  Daar is immers ‘n rede hoekom ek die naam Xena gaan kies het.  Letterlik gatskop is goed en gaaf, maar kom wees eerlik.  Dit is nou nie juis iets waarop vrouens hulleself kan roem nie.  Nie dat ‘n mens noodwendig geweldadig of aggressief moet wees om behoorlik gat te kan skop nie.  (Ek het amper die fout gemaak om te sê dat ‘n vrou nie sterk is nie.  Gmph!  Daar is ‘n rede hoekom vrouens kinders in die wêreld bring).

Dit laat my nou dink aan “Fiela se kind” (van Dalene Matthee vir die met ‘n gat in hulle opvoeding) waar Benjamin in ‘n grot lê en sulk oor matige bliksems.  Hy besin oor die mag van die vrou wat anders is.  Listiger.  Iets wat hy dikwels in Fiela en Nina gesien het, maar net een keer in Barta.  Die listige mag wat hom wel die moed gee om uit die grot te kruip en met sy lewe aan te gaan.

Ek het vanoggend ‘n artikel raak geloop van hoe vroue proteste ‘n verandering gemaak het.  Goed, ons geskiedenis vier ook ‘n vroueoptog, maar daar het nie juis veel daarvan gekom nie.  Soos enige goeie Suid-Afrikaner weet – ‘n optog beteken niks as jy nie ook iets afbreek of afbrand nie.  Selfs dan – jy kry media dekking en – as jy gelukkig is – leë beloftes.

Ek kon egter nie help om te giggel oor vrouens wat oorloë gestop of beinvloed het met die oudste manipulasie in die boek nie.  Julle weet, die bene wat toeklap en toebly tot mevrou anders besluit.  Oorloë.  Daar word dikwels gesê as vrouens die wêreld regeer, sal daar minder bloedvermorsing wees.  Uhm.  Die tannies het seker net nie genoeg belangestel om dit stop te sit nie.

In die 1600’s het die Iroquois vroue aangedring om ‘n vetoreg in oorlog te hê.  Die mans was natuurlik beterwetig, maar hulle het glo gou van plan verander toe hulle koud moes gaan slaap.

Die plan was in 2003 deur die vroue van Liberië herhaal.  Hulle het besluit dat daar geen seks sal wees totdat die burger oorlog tot ‘n einde kom nie.  Vir hulle moeite het hulle nie net vrede gekry nie, maar ook Afrika se eerste vroue president.

Mens sou dalk dink dat bendes dalk meer weerstand kan bied.  Vroue in Pereira, Colombië het in 2006 besluit dat hulle moeg is vir ‘n moordkoers dubbel die nasionale gemiddeld.  Hulle bene het toegeklap in ‘n poging om hulle mans te oortuig om van hulle wapens ontslae te raak en beroepsopleiding te ondergaan.  Die moordkoers het glo in 4 jaar met meer as 26% afgeneem.

Ek het my gunsteling tot laaste gebêre.  Die tannies in Ysland, het in 1975 gestaak.  90% van die vroulike bevolking het gevoel hulle waarde word geminag.  Hulle wou dieselfde betaling kry as mans en hulle wou in die regering verteenwoordig word.  Hulle het vir ‘n volle dag absoluut niks gedoen nie – nie by die werk nie en nie by die huis nie.  ‘n Jaar later is daar geslagsgelykheid wetgewing uitgereik wat diskriminasie by die werksplek gestop het.  In 1980 het Ysland hulle eerste vroulike president gehad.

Die swakker geslag?  Watwou!  Buidendien weet almal wat agter elke suksesvolle man staan.