Sou nooit kon droom nie

20 04 2018

Trattoria

My ma het ‘n staaltjie wat sy altyd vertel van die priester wat verlief raak en trou.  Siende dat hy nie meer ‘n priester kon wees nie, moes hy maar gaan sing vir sy kos.  Dit was natuurlik ‘n Rooms Katolieke priester.

Dus was dit nogal ironies dat dit in Rome moes gebeur het.

In die land van Rome, maak jy soos die Romeine; en glo my – hulle is ietwat ongewoon.  Daar is byvoorbeeld een prys vir ‘n cappuchino wat jy by die kroeg drink en ‘n aansienlike duurder prys vir ‘n cappuchino by ‘n tafel.  Enige artikel oor Italië maak dit duidelik dat dit sonde is om ‘n cappuchino na 11 in die oggend te drink.  Hulle kos is ook baie streeksgebonde.  Net omdat jy iets in Rome geniet het, beteken dit nie dat jy dit in Milan ook gaan kry nie.

Die grootste skok vir ons Suid-Afrikaanse gestelle is dat jy vir absoluut alles betaal.  Daar is ‘n fooi vir die tafeldoek, ‘n fooi vir die brood op die tafel, ‘n fooi as daar lewendige musiek is ens.  Toegegee, jy betaal nie fooitjies nie, maar jy hoes vir absoluut enige iets anders.  (Ek het Sofia van Golden Girls soveel beter verstaan nadat ek ‘n draai in Italië gemaak het).

Gelukkig is ek en Google op goeie voet en ek was ten volle voorberei en uitgehonger vir ‘n aand in ‘n trattoria.  ‘n Trattoria is ‘n eenvoudiger restaurant wat gewoonlik deur ‘n familie bedryf word.  Daarteenoor kry ‘n mens ‘n ristorante, wat ‘n meer formele (en dus duurder) restaurant is.  Voorberei – in die sin dat ek weet daar gaan vreemde fooie wees en ek seker gemaak het ons het genoeg kontant.  Kredietkaarte is net so uit as cappuchino in die aand.

In elk geval, daar aangekom, is daar ‘n oom (vermoedelik die pa van die familie) wat kitaar speel.  Nadat hy moeg is, stuur hy sy hoed om en daar gaan hy.  Wel, die eienaar is nog nie klaar gemusiek nie.  Daar begin hy die enigste Engelse lied speel wat hy ken.  Country roads.  Hy dring boonop daarop aan dat almal moet saam sing.  As ons nie genoeg sing nie, maak hy sommer sy eie woorde op.  Gewoonlik:  “I don’t know English” op maat van die musiek.  En ja – benewens die koor van Country Roads, kon hy en sy gesin nie Engels praat nie.

So daar sit ek – op ‘n sypaadjie in die hartjie van Rome – en sing kliphard Country Roads vir my kos.  Iets wat ek nooit in ‘n 1000 jaar sou droom ek ooit sal doen nie.

Elke keer as iemand nuuts opdaag, word nog ‘n tafel sypaadjie toegesleep en dan sing ons weer.  Een van die kliente het later “Country Roads” met “House of the rising sun”

Ons moes wel betaal het vir ons kos (tafeldoek, brood ens), maar die oom het so lekker kitaar gespeel, dat hy nooit neergeskryf het wat ons bestel het nie.  Ons moes hom weer wys wat ons bestel het.  Ons het darem ‘n paar euro afslag gekry.  Na ‘n gratis loopdop, het ons vir oulaas in Rome “Country Roads” gesing, nogal spyt dat ons die volgende aand nie weer kon kom nie.

Wat moes jy al doen wat jy nooit verwag het jy sal doen nie?

 


Aksies

Information

22 responses

20 04 2018
HesterLeyNel

Dit is die soort eetplek waarmee ek kan saamleef! Nie dat ek juis kan sing nie, maar die atmosfeer moet besonders wees.

25 04 2018
Xena Phoenix

Dit was baie gesellig. Vir elke persoon wat verby gekom het, is nog ‘n tafel uitgesleep sypaadjie toe. Dit is helwarm in Rome in die Somer.

20 04 2018
Aletta - nowathome

Sou dit ook baie geniet het!

25 04 2018
Xena Phoenix

Was beslis prettig.

20 04 2018
rondomtaliedraai

Dit klink heerlik! Dankie vir die deel

25 04 2018
Xena Phoenix

Wat absoluut heerlik was, was hulle tiramisu. Mens, ek klim sommer op ‘n vliegtuig net daarvoor.

16 08 2018
seegogga

Solank dit nie so gevaarlik soos Toortsie se tiramisu is nie!

21 04 2018
mm

uiteindelik weer n post. italia klink na my soort plek. ek dink dot kan nogal lekker gesellig raak.

25 04 2018
Xena Phoenix

Italia is ongelukkig almal se soort plek, die toeriste vertrap mekaar. Volgende keer gaan ek in die herfs of lente. Ek weet nie of ek mal genoeg vir die winter is nie. Min toeriste sien glo kans vir Januarie.

22 04 2018
scrapydo2.wordpress.com

Die Italiaanse manne is nogal daarop uit om jou uit te neem(eintlik voor te stel om met hom te trou) Juis in Rome in die fabriek waar hul camees(cameos) maak het een my om my hand gevra! Ken hom van geen kant af nie. Toe ook in Rome op lughawe moes ons in transit bly(dis n storie vir ander dag) en een van doeane ouens stel voor ek trou met hom dan kan ek uit die lughawe kom en in Italie bly! Wat n grap! Nie vir my nie maar as mens so terugdink.

25 04 2018
Xena Phoenix

Ek sal die doeane ou se aanbod aangeneem het. Hy het nie voorgestel dat ek met hom moet trou en by hom bly nie. 😉 Italiaanse paspoort sal my goed pas.

Ons was nie gevra om te trou nie. Ek dink hulle is deesdae meer in hulle bane. Die oom het dit wel aan ons duidelik gemaak dat sy seun (wat eintlik ons kelner was) net ‘n halwe man is.

25 04 2018
scrapydo2.wordpress.com

Ai toggie-toggie. Interessant hoor.

6 07 2018
maresa

wat is sy ander helfte dan?

23 04 2018
gerdajansen1

ek kan my net dis vrolikheid van so n plek voorstel. maar jy kan bly wees hulle het jou nie n huweliksaanbod gemaak nie. dink net hoeveel jy daarvoor sou moes opdok.

25 04 2018
Xena Phoenix

Ek sidder. Italiaanse mamas is ‘n ander spesie.

25 04 2018
Xena Phoenix

Almal weet dat Italiaanse mans almal pramhangers is.

23 04 2018
Daniël Bezuidenhout

Ons het só Omie gehad wat die hele menu afgesing het. Hy het net so 2 geregte per aand gemaak en dan sommer self besluit wie aan tafel wát gaan eet. So kreefdis vir my en ravioli vir my man…sodra dit die tafel tref, dan ruil onsself sommer gou borde uit met mekaar.

25 04 2018
Xena Phoenix

Jy sal maar swaar lewe as jy te puntenerig is en reis. Go with the flow is die maklikste.

Elke Italiaanse restaurant het afval op die spyskaart. Gelukkig was dit nie aan my opgedis nie. Ek herstel nou nog aan die black pudding. Ander land se storie.

24 04 2018
Olga

Goeie geeftag! As ek nie my sondes omsien nie…… Kan dit nou wragtig so lank neem om in my eie rekening in te kom? Asof dit nie genoeg is dat ‘n vrekking rooi keppie my laat rooi sien nie.

Dit sal my die wilde weghol besorg as ek die eerste of enigste klient moet wees! Arme ou omie. Ek dink hy sal die wilde weghol kry as die uwe as alleen gas daar moet lostrek met Country roads. Ek is vreeslik musieklik. Maar nou ja.

25 04 2018
Xena Phoenix

Dit kan ‘n gemors afgee. Hopelik steek sy vrou die kitaar weg as daar net een gas / tafel in die restaurant is.

10 06 2018
senior citizens fighting

Yahoo Finance

Sou nooit kon droom nie | Herriemerrie

16 08 2018
seegogga

Ag lekker. Ek hoop jy het ook pizza by n straatkafee gekoop

Lewer kommentaar op Xena Phoenix Kanselleer antwoord