Oordeel ‘n boek aan sy buitekant

1 03 2018

Ek het ‘n paar jaar terug Afrikaanse flieks afgesweer.  Na die groot ophef wat oor Liefling gemaak is, het ek besluit nooit weer nie.  As dit die beste is wat Afrikaans kan bied, dan is daar geen hoop nie.  Ja, ek weet lae begrotings is altyd die verweer, maar oempf kos niks.  Daar was geen oempf.

Hier en daar het ek wel uitsonderings gemaak.  Ek het byvoorbeeld Ballade gaan kyk.  Ek sal dit nou nie die beste fliek ooit noem nie, maar ek het darem nie gevoel of ek my geld mors nie.  Ek het ook hier en daar ‘n paar DVD’s gekyk.  Party het belofde getoon dat ek dalk te vinnig alles oor dieselfde kam geskeer het en ander weer het my punt bevestig.

Onlangs het Raaiselkind die silwerdoek getref.  Ek het my bedenkinge gehad.  Eerstens foeter ‘n fliek mos altyd die boek op.  Tweedens, Diaan Lawrenson?  Regtig?  Paula vir die ma?  Ek kon niks goeds daaruit sien kom nie.  Laastens was Sally Campher die vervaardiger.  Ek bid jou aan!  Yollie van Orkney Snork Nie.  Die persoonliking van vlak.  Wel, eintlik sal vlak in die gesig gevroetel wees met Yollie van Tonder.  Daar moet immers ‘n diep mens aan die stuur van sake staan vir ‘n fliek soos Raaiselkind.

Dit is natuurlik baie onregverdig van my; om die aktrise aan die karakter gelyk te stel.  Tog is dit dadelik die beeld met ‘n skril aankondiging wat by my opkom.  Ja, daar was ander rolle ook.  Dit was haar rol wat my afgesit het van Koöperasie Stories.  Nie dat ek haar al ooit blameer het vir die skrywer se fasinasie van die makbere.  Sy was ook iewers ‘n speurder of ‘n ding gewees.  Niks wat regtig uitgestaan het nie.

In elk geval, deesdae maak sy flieks en duik diep.  Dit het nie vir my na ‘n blink plan geklink nie.  Ek het egter besluit om ‘n kans te vat omdat Annelie Botes heel in haar noppies met die fliek was.  As sy tevrede was, het sy of lae standarde of hulle het haar storie nie vermorsel nie.

Ek was verkeerd.  Dalk omdat ek baie lae verwagtinge gehad het, maar die fliek was heel aangrypend.  Ek sal dit self as goed bestempel.

Natuurlik is daar ‘n paar goed wat nie sin maak nie.  Soos hoekom is die ma in die eerste plek gearresteer as sy eintlik vir ondervraging ingeneem is?  Sy kry haar boeie eers by die kar en dan word sy by die polisiestasie ondersoek ook.  Dit het my terloops in die boek ook gepla.  Nogtans dink ek dat die fliek wel hulle doel behaal het.  Mense wat na outistiese kinders omsien, lewe in ‘n nagmerrie.  Alleen, met ‘n kind wat hulle laaste nerwe skeur en met bittermin ondersteuning en baie verwyte en veroordelings.

Annelie Botes het die verhaal geskryf nadat een van haar kollegas se kinders met outisme gediagnoseer is.  Sy het self aanvanklik die ma van die kind verdryf en later die diagnose afgemaak as ‘n nuwe naam vir stoutigheid.  Sy het haarself opgevoed en glo sake met die ma reggemaak.

Ten slotte – ek het al ‘n paar mense ontmoet wat almal vertel hulle kind is outisties en die kind is duidelik nie outisties nie.  Ek wonder dikwels of hulle nie dinge aanroep nie.  As hulle na fliek soos Raaiselkind kyk, skaam hulle hulleself?  Of is dit maar net water op ‘n eend se rug.