Fooitjie kreune

23 08 2018

tips-jar-1024x580-800x500_c

Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer begin die idee van ‘n fooitjie die witlig uit my uit irriteer.  Ek is ‘n semi-ordentlike mens en soos enige semi-ordentlike mens gee ek fooitjies waar dit verwag word.  Dit begin net hopeloos te veel deesdae verwag, op meer plekke waarmee ek gemaklik of tevrede is.

Kom ons dink gou ‘n oomblik oor fooitjies.  Dit behoort ‘n beloning te wees vir iemand wat jou buite verwagting gehelp het.  Ek dink byvoorbeeld aan die petroljoggies wat eendag my wiel vir my reggemaak het.  Dit is nie in hulle posbeskrywing om kliente se wiele reg te maak nie.  Nogtans het hulle dit vol vreugde gedoen.

Dit is nogal ‘n dun lyn om te onderskei.  Tegnies, behoort ‘n mens nie vir hulp of plein ordentlikheid te betaal nie.  Die onderskeid is seker tussen diens en hulp.  Wat egter van die diens wat iemand lewer nadat jy daarvoor betaal het?

Kom ek gee ‘n voorbeeld.  Jy gaan na ‘n restaurant en bestel ‘n biefstuk.  Dit kos argumentsonthalwe R150.  Die besigheidsmodel van die restaurant is dat iemand jou vra wat jy wil eet, hulle bestel dit vir jou en bring dit vir jou.  Agterna vat hulle jou vuilbord weg.  Daarvoor betaal jy ten minste R15.  Jou ete kos jou dus R165.

Die probleem is dat jy nie self jou bestelling kan plaas of self jou kos in die kombuis gaan haal nie.  Dus betaal jy iemand eintlik net om hulle werk te doen.  Netsoos jy nie ‘n kassier gaan betaal om jou inkopies op te lui nie, hoekom moet jy ‘n kelner betaal?

Wel, jy is ‘n semi-ordentlike of selfs ‘n ordentlike mens.  Jy weet dat die kelner nie betaal word nie en van jou afhanklik is vir ‘n inkomste.  Wie se verantwoordelikheid is dit egter om die werknemers betaal?  Die werkgewer s’n!  Van die geld wat hy uit die klient maak!

Dit is wat my die olga in maak.  Dat ek iemand se salaris moet betaal wat ek nie in diens geneem het nie.

Ek het nou die dag iets gelees dat die hele fooitjiekultuur uit slawerny ontstaan het.  Mense wou nadat slawe bevry is, nie die nuwe werkers betaal nie.  Die oud-slawe kon wel vir ‘n fooitjie werk.  ‘n Stelsel wat simpel is.

Dit is deesdae egter nie net meer kelners, karwagte en petroljoggies wat jy ‘n fooitjie voor moet gee nie.  Terloops, baie mense voel dat 10% in ‘n restaurant ‘n belediging is.  Diegene voer aan dat dit 20% moet wees.  Ek weet – ek het al dikwels 20% fooitjies uitgedeel, maar dit grief my as dit verwag word.  Ek weier egter om ‘n fooitjie aan haarkappers te gee.  Genugtig, ek betaal honderde rande vir ‘n haarsny.  Ek verpes dit ook om gastehuise ‘n fooitjie te gee.  Weereens – ek het die volle prys betaal.  Ek sal dit heroorweeg as iemand my swaar tas gedra het of ek ‘n groot gemors gemaak het.

Hoe voel julle oor fooitjies?  Voel julle dalk ook dat die werknemers hulle werkers moet betaal vir die werk wat hulle gedoen het.  Dink julle dalk ons behoort die ontvangsdame by die dokter ‘n fooitjie te gee?  Dalk ‘n fooitjie vir die handlanger van die loodgieter?  Hulle kry mos ook ‘n slegte salaris wat aangevul moet word?

Waar trek ‘n mens die lyn?