Optelgoed

27 09 2011

Kinders leer omtrent die oomblik nadat hulle geleer het om Mamma en Pappa te sê dat optelgoed hougoed is.  Wanneer hulle van die doeke af is, leer hulle ook dat ‘n mens nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie. 

Goed en wel, veral as jy die opteller is.  Jy sal waarskynlik anders voel as dit jou goed is wat so opgetel word.  Gewoonlik kan jy net jou eie bas skop omdat jy nalatig is.  Sou die opteller wel die moeite doen om jou te soek, laat dit jou gewoonlik met ‘n maandlange hoop vir die mensdom.  Wat meer is nodig om jou van die goedheid van mense te oortuig? 

Dit is natuurlik in ‘n ideale wêreld, een waarin ons helaas nie is nie.  Punt is dat die optelgoed gewoonlik nie duidelik gemerk is aan wie dit nou eintlik behoort nie.  Jy systap dat die gelukkie omdat jou gewete jou aanspreek, maar die volgende een gaan dit nie doen nie.  Wie sê in elk geval hy / sy verdien dit meer as jy?  Nogtans is daar dalk goed wat jy maar eerder aan die genade moet oorlaat. 

Nou wat kan jy sonder gewetenswroeging wel optel? 

My gewete is tjoepstil wanneer daar geld rondlê.  Ek is heeltemal bereid om dit in veilige bewaring te hou vir die eienaar.  As ek byvoorbeeld ‘n ou blouetjie optel, sal ek wel ‘n bietjie rondhuiwer.  Sou die regmatige eienaar dit kom soek, sal ek dit vir die persoon gee.  Maar dit los vir die volgende nar wat dit kan opeis, nie sommer nie.  Ek sal wel moeite doen om te soek as dit meer as ‘n noot of twee is.  Die kanse is goed dat die een wat die geld verloor het dit nie kan bekostig nie. 

Ek dink wel dit is uiters laag en gemeen om diere op te tel.  Party is net te avontuurlik om in die erf of huis te bly.  Nuuskierigheid is mos nie net tot mense beperk nie.  Hulle is gewoonlik nie verlore nie en sal wel huistoe gaan as dit hulle pas.  Optel in die geval is steel. 

Wat as jy ‘n wapen optel.  Iets wat gevaarlik, moontlik onwettig en wat die eienaar ongelooflik baie gaan afpis.  Dink nou net aan ‘n AK 47 op die sypadjie.  Daar kan jy dit nie los nie, netnou skiet twee kinders mekaar.  Ek sal daardie AK 47 in my tuin gaan begrawe, mits niemand sien hoe ek dit optel nie.  Ek bepleit my saak eerder in die hof as teenoor die eienaars. 

Wat sal jy graag wil optel?  Wat is volgens jou gemeen om op te tel?  Watter gelukkies het jou al getref?

Breinvasbrand:  Wie het in 1866 die Eureka Diamant naby die Oranje Rivier opgetel?

Breinlosbrand:  Olga was reg met stok.