As jy dalk wou vergeet

30 09 2011

Om een of ander rede het ek nog altyd gedink dat Vader Tyd ‘n ou man is.  As ek maar so aktief en wulps as ek ‘n paar miljoen jaar oud is.  Die ou stap nie net nie, hy probeer jaar na jaar ‘n nuwe rekord op te stel.  Kan julle glo, daar is nog net 92 dae oor tot die einde van die jaar.

Ek het nou die dag amper op my rug geval toe ek Kersversierings al te koop sien.  Blaai deur ‘n koerant en daar is al klaar projekte vir Kersfees in die naam van liefdadigheid.  Persoonlik het ek nog so ‘n berg werk voor my dat ek nog nie eers ‘n Kersfeesboom kan sien nie.  Maar selfs ek moes al kennis geneem het. 

Dit is nogal ironies dat dit die mense is wat wins uit Kersfees maak wat so entoesiasties is met hulle bemarking.  Vir winkels is dit seker nooit te vroeg om die wêreld wit en rooi te verf.  Die Kersfeesseisoen kan seker ook nie te lank aanhou nie.  Vir liefdadigheid organisasies is dit nou die tyd om munt te slaan vir die hele jaar wat kom.  Mense se beursies is oper en hulle staan bakhand vir elke sent wat kan uitval. 

Moet my nie verkeerd verstaan nie.  Ek is nog jonk genoeg om baie opgewonde te raak ook Kersfees, maar wragtig nie al in September nie.  Ek ondersteun ook jaarliks hier en daar ‘n liefdadigheidsorganisasie.  Ek is al klaar onderneem om die skoenboks projek te ondersteun en ek doen dit met liefde.  Ek gaan egter nie nou elkeen wat bakhand staan iets gee in die gees van Kersfees nie.  Daardie gees herstel nog van verlede jaar en het nog nie sy gesig gewys nie. 

Dit is geen wonder dat baie mense opsien na Kersfees nie.  Dit begin te vroeg en hou ‘n ewigheid aan.  Ek dink daar behoort ‘n wet te wees dat niemand voor middel November kan probeer munt slaan uit Kersfees nie.  Persoonlik klop my gees eers aan teen die 4de Sondag voor Kersfees, maar ek kan verstaan dat mense Kersfees wil deel met die wat hulle nie in Desember gaan sien nie.

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Wie het die Kersvieringe se datum (25 Desember) vasgestel?

Breinlosbrand:  Demoerin was reg met Gratton, Bob en Emmett.