Optelgoed

27 09 2011

Kinders leer omtrent die oomblik nadat hulle geleer het om Mamma en Pappa te sê dat optelgoed hougoed is.  Wanneer hulle van die doeke af is, leer hulle ook dat ‘n mens nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie. 

Goed en wel, veral as jy die opteller is.  Jy sal waarskynlik anders voel as dit jou goed is wat so opgetel word.  Gewoonlik kan jy net jou eie bas skop omdat jy nalatig is.  Sou die opteller wel die moeite doen om jou te soek, laat dit jou gewoonlik met ‘n maandlange hoop vir die mensdom.  Wat meer is nodig om jou van die goedheid van mense te oortuig? 

Dit is natuurlik in ‘n ideale wêreld, een waarin ons helaas nie is nie.  Punt is dat die optelgoed gewoonlik nie duidelik gemerk is aan wie dit nou eintlik behoort nie.  Jy systap dat die gelukkie omdat jou gewete jou aanspreek, maar die volgende een gaan dit nie doen nie.  Wie sê in elk geval hy / sy verdien dit meer as jy?  Nogtans is daar dalk goed wat jy maar eerder aan die genade moet oorlaat. 

Nou wat kan jy sonder gewetenswroeging wel optel? 

My gewete is tjoepstil wanneer daar geld rondlê.  Ek is heeltemal bereid om dit in veilige bewaring te hou vir die eienaar.  As ek byvoorbeeld ‘n ou blouetjie optel, sal ek wel ‘n bietjie rondhuiwer.  Sou die regmatige eienaar dit kom soek, sal ek dit vir die persoon gee.  Maar dit los vir die volgende nar wat dit kan opeis, nie sommer nie.  Ek sal wel moeite doen om te soek as dit meer as ‘n noot of twee is.  Die kanse is goed dat die een wat die geld verloor het dit nie kan bekostig nie. 

Ek dink wel dit is uiters laag en gemeen om diere op te tel.  Party is net te avontuurlik om in die erf of huis te bly.  Nuuskierigheid is mos nie net tot mense beperk nie.  Hulle is gewoonlik nie verlore nie en sal wel huistoe gaan as dit hulle pas.  Optel in die geval is steel. 

Wat as jy ‘n wapen optel.  Iets wat gevaarlik, moontlik onwettig en wat die eienaar ongelooflik baie gaan afpis.  Dink nou net aan ‘n AK 47 op die sypadjie.  Daar kan jy dit nie los nie, netnou skiet twee kinders mekaar.  Ek sal daardie AK 47 in my tuin gaan begrawe, mits niemand sien hoe ek dit optel nie.  Ek bepleit my saak eerder in die hof as teenoor die eienaars. 

Wat sal jy graag wil optel?  Wat is volgens jou gemeen om op te tel?  Watter gelukkies het jou al getref?

Breinvasbrand:  Wie het in 1866 die Eureka Diamant naby die Oranje Rivier opgetel?

Breinlosbrand:  Olga was reg met stok.

Advertisements

Aksies

Information

5 responses

27 09 2011
Olga

Eerste!!!!!
Erasmus Jacobs.

Ek wil graag ‘n grooooooot miamand optel. Ene waarvoor ek baie geld gaan kry. Dis nou as ek niemet my gat in die tjoekie gegooi word omdat ek dit durf optel het nie.

Jehova getuies het eenkeer by ons kom ‘kuier’. Toe hulle loop, toe vat hulle my foxterrier, toe sowat drie maande oud saam. Gelukkig het ek dit gesien en hulle gevra waar is hulle Christelikheid vanaand.

28 09 2011
J W W

Ek wil graag ‘n lotto kaartjie optel, een wat so paar miljoen werd is… dis mos nie steel nie, dit was mos nou iemand se dobbel geld, en ek dink as jy kan dobbel, is jy nie te arm nie.

28 09 2011
Olga

ousus het kleintyd gese ‘optelgoed is houtgoed.

28 09 2011
Sonlig

Die beste ding wat ek ooit opgetel het was…wel…*kyk rond of Xena naby is*…my kat.

Ons het so ‘n saamryklub gehad en ek moes ‘n kollega van my man in Montana tussen die (daai tyd nog) plotte aflaai. Toe ons hom afgelaai het, sien ek die klein katjie – seker so 8 weke oud – langs die grondpad sit. Ons stop en so wraggies, sy hardloop nie weg toe ek haar optel nie. Dit spin en die magie maag gluk-gluk soos wat sy water of iets gedrink het. Ek dink toe: ek kan haar nie vat nie – dis iemand se kat. En ‘n grênt kat daarby. Ons sit haar toe mooi terug in die gras en ry huistoe.

Dit was die dae voor kinders so ons besluit ons gaan daardie aand inry toe. Omtrent middernag toe die tweede show klaar is, sê ek vir my man ons moet weer daarlangs ry en kyk of die katjie nog daar is, want die dingetjie spook by my. Toe ons daardie grondpaadjie ry, sit sy nog PRESIES op dieselfde plek. Toe besluit ek: optelgoed is vatgoed!

Ons het haar huistoe en nadat sy ‘n blikkie tuna verslind het, het sy net so vuil by ons in ons bed geslaap. Eers nadat ek haar gebad het, het ek gesien hoe verniel sy was. Stert gebreek, abses agter die nek van ‘n catfight en vrot van die wurms.

Haar naam is Clouie. Sy het die kleure van ‘n siamees en haar hare is lank soos ‘n persiese kat. Aquamarine oë. Ek weet nie verseker watter spesie sy is nie, maar as ek op foto’s moet oordeel, kan sy dalk ‘n Ragdoll wees. Haar temperament is ook Ragdoll.

Ek het al baie gewonder of daar dalk ‘n dogtertjie wat oor haar kat gehuil het, maar ek is bly ek haar daardie aand gevat. Sy het vir my gewag. Ek het haar mooi opgepas. Sy sal volgende jaar 18 mensejare oud wees!

28 09 2011
demoerin

Ek kan nie dink dat ek al iets wat wonders opgetel het nie, behalwe natuurlik vir klein Lisa elke aand 😆
Ek onthou ek het al ‘n mosaik teëltjie opgetel in Casablanca wat van die King Hassan II Moskee afgeval het – siende dat die Moskee soos amper $1miljard of iets gekos het om te bou, het ek geweet hulle sal nie die teëltjie mis nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: