Die ouersvra ding

16 10 2014

Ons weet trou is nie perdekoop nie, maar wat is trou nou eintlik?  Verskillende kulture en gelowe gaan dalk ‘n ander antwoord gee, maar ek dink basies orals het dit begin as ‘n manier om jou ouerhuis te verlaat en ‘n huis saam met iemand anders te begin.  Die grondslag word ook in baie van die trougebruike en tradisies behou.

Ons lewenswyses het intussen drasties verander van die tyd wat jy onder jou pa se dak gebly het tot die dag wat jy trou.  Ek het iewers eendag gelees dat die troudokumente iets gelees het soos dat Susie Botha die voogdyskap van haar vader verlaat om onder die voogdyskap van haar man te staan.  Duidelik van ‘n tyd waar ‘n vrou nie vertrou was om op haar eie twee bene te staan nie.  As haar pa nie oor haar baas was nie, was haar broer tot sy getrou het.  As haar man nie meer kon pa staan nie, moes haar seun die rol oorneem.  Ek sal julle ‘n oomblik verskoon om op te gooi.

Deesdae verlaat seuns en dogters hulle ouerhuise om te gaan studeer of wanneer hulle op hulle eie voete kan staan.  Selfs al verkies hulle om in hulle ouerhuise aan te bly, is daar nie regtig sprake van voogdyskap nie.  Natuurlik hol hulle huis toe as daar probleme is of hulle aanvaar raad met tye, maar dit is anders as dekades gelede.  Al vir dekades lank bepaal ‘n vrou (en ‘n man) se ouderdom haar onafhanklikheid.

Dit spreek dus vanself dat trougebruike verander het.  Die meeste mense trou nie uit hulle ouerhuise uit nie.  Die dae wat bruide maagde was of dat wit reinheid gesimboliseer het, is grootliks verby.  Deesdae is dit nie net ‘n man en ‘n vrou wat met mekaar kan trou nie.  Jy kan selfs jou eie troubelofdes skryf.

Tog word daar nog aan sekere trou tradisies gekleef.  Die hoekom amuseer my geweldig.  Hoe word die tradisies geweeg en beoordeel?  Is dit ‘n weegskaal tussen behoeftes en respek?  Moet behoeftes eerder vervang word met drange?

Die tradisie van ouersvra kielie my regtig pienk.  Daar is op die oomblik ‘n liedjie van Magic! wat juis daaroor handel.   Die man staan vroeg op om sy meisie se pa se toestemming te vra om met haar te trou.  Die pa sê nee, net om beskuldig te word dat hy ongeskik is en dat die outjie in elk geval met die meisie gaan trou.

Hoekom dan vra as die antwoord irrelevant is?

Wat se respek behoort ‘n man aan sy aanstaande se ouers te toon?  Wat se respek is ‘n vrou aan haar man se ouers verskuldig?

Is dit nie op die ou einde ‘n geval dat die beste respek wat jy aan die onderskeie ouers kan betoon is die respek wat jy aan jou huweliksmaat betoon nie?

Maar dan weer – wat is respek?

Breinvasbrand:  Wie is die hoofsanger van Magic! wat Rude sing?

Breinlosbrand:  Tannie Gypsy was reg met God seën Afrika





Koloniale Wreedheid

9 10 2014

Zuma het noudie dag iets kwyt geraak dat Geskiedenis op skool gegee moet word, sodat kinders die wreedheid van kolonialisme, apartheid en rassisme kan verstaan.  Daar is seker heelwat te sê oor verpligde Geskiedenis, maar dit is nie waaroor ek vandag wil gorrel nie.  Dit is die wreedheid van kolonialisme wat my so effens aan die dink gesit het.

Op skool het ons gesing:  “Laat ons trots wees om ons deugde te bewys; van ons stroewe voorgeslag geërf.” Hoekom iemand dit goed gedink het om stroewe in ‘n skoollied te sit, weet ek nie.  Die rede hoekom outydse foto’s altyd stroef was, was omdat dit te ongemaklik was om vir lank te glimlag terwyl jy doodstil staan vir ‘n foto om geneem te word.  Die mense self was nie noodwendig stroef nie.  Ek neem aan die idee van die skoollied was dat ons trots moet wees op die deugte wat ons voorouers ons nagelaat het.

Kom ons wees eerlik.  Die deugte van die Afrikaner helde, veral in die 17de en 18de eeu was nou nie juis bewonderingswaardig nie.  Die ANC is beslis nie die eerste regerings amptenare wat eerder hulle eie verryking najaag nie.  Die aanvanklike VOC lede, wat Suid-Afrika beset het, was op hulle beste ‘n korrupte spul wat net hulle eie belange nagejaag het.  As ek die storie reg onthou, was die VOC maar net ‘n maatskappy gewees.  Ek weet nie wat het hulle die reg gegee om te vat en verwoes wat hulle wil nie.  Dit is ook ‘n bekende feit dat hulle mense aan drank en tabak verslaaf gemaak het om te kry wat hulle wil hê.  Beslis nie die earlike, godsvresende mense wat ons graag wil glo hulle was nie.

Wreed was hulle beslis ook.  Benewens die feit dat hulle mense in flared geslaan, lewendig verbrand of verdrink het, het hulle niks daarvan gedink om mense oor beuselagtighede (gemeet aan vandag se standaarde) te martel of dood te maak nie.  Hulle het ook mense in donker, koue, gate opgesluit en gebrandmerk as hulle so gevoel het.  Ek sal nie huiwer om hulle barbaars te noem nie.  En as ek reg onthou, dit was gebruik om hulle burgers (die Hollanders dus) in toom te hou.  Nie voor die voet almal wat hulle pad gekruis het nie.

Die Europeërs het Afrika baie geleer, maar hulle kon Afrika niks van wreedheid leer nie.  Dit was die een afdeling waar Afrika Europa ver voor was.  Ek praat nie eers noodwendig van pasgebore babas wat ter wille van oorlewing doodgeslaan is nie.  Die oorspronklike Afrikane het ondergeskiktes en vyande ook wreed gestraf of aangeval.

Wat my laat wonder of Kolonialisme regtig as wreed gesien kan word?  Wreder as wat hier reeds was?

Suid-Afrika het vandag van die liberaalste grondwette in die wêreld.  Ons geniet mense regte hier wat van die beste op aarde is.  Nou wonder ek, was dit nie vir kolonialisme nie, sou die genoemde regte enigsins bestaansreg gehad het?  Net noudie dag byvoorbeeld was Zuma baie beindruk met Venda vroue wat uit respek teenoor mans op die grond gaan lê.  Vroueregte is nie ‘n tradisionele Afrika kultuur nie.  Dan praat ons nie eers van Homoseksuele regte, kinderregte en diereregte nie.  Toegegee, in 1652 was dit ook nie hoog op die prioriteitslys van die Hollanders nie, maar die regte was basies uit Europa (en kolonies) ontwikkel.

Selfs die volkslied, Nkosi Sikelel’ iAfrika, ‘n lied wat aangewend was vir ondermyning in die bevrydingstryd, sou nie daar gewees het as dit nie vir kolonialisme was nie.  Christenskap was immers deur die Europeërs na Afrika gebring.

Kolonialisme kan beslis bevraagteken word.  Geen redelike mens kan kolonialisme goedkeur nie (indien mens dit wel goedkeur, behoort daar geen besware teen plaasbesettings te wees nie).  Maar, in Afrika se geval – was Kolonialisme die slegste ding wat kon gebeur het?  Het Afrika dalk meer gewen met kolonialisme as wat hulle sou sonder kolonialisme nie?  Gaan geforseerde Geskiedenis na die voordele van kolonialisme ook kyk?

Ideaal gesproke, wil mens van Geskiedenis leer om nie die foute van die verlede te herhaal nie.  Dit gaan nie gebeur deur net alles vir soetkoek op te vreet nie.  Dit kom van kritiese denke.  Van voordele en nadele teen mekaar op te weeg en dan gevolgtrekkings te maak.  Want elke saak het drie kante;  myne, joune en die waarheid.  Geskiedenis is nie altyd die waarheid nie, dit is net die weergawe van die kant wat oorwin het.

Breinvasbrand:  Wat beteken Nkosi Sikelel’ iAfrika?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Elvis.