Vet

4 08 2010

‘n Wewenaar wou met haar trou

Die landros sê:  “Nee, bog met jou”

Dink jy dalk dit is hier Turky?

Ons wet verbied veelwywery

(AG Visser)

Kom ons wees reguit, ons is ‘n geslag wat onbeskaam oorgewig is.  ‘n Kilogram of 5 maak seker nie saak nie, maar die norm is aansienlik hoër.  Vir ‘n geslag wat baie gesondheidsbewus is, is vetsug ‘n gesondheidsrisiko.  Dit word onder meer verbind met goed soos hartversaking, diabetes, beroertes en laer immuniteit.  As ‘n mens eintlik daaraan dink, die ou tannies wat 120 + jaar oud word, doen dit gewoonlik met ‘n sigaret in die een hand en ‘n glas rooi wyn in ‘n ander, maar hulle is nie vet nie.  Dit wys jou net . . . (en NEE, rook is sleg vir jou en jou kinders. 😉 Dit is die rooi wyn wat die verskil maak.)

Daar was onlangs aangevoer dat die eufenisme van die woord vet die probleem vererger.  Mense voel baie gemakliker daarmee om as geset of oorgewig gesien te word as vet.  Vet is glo sinoniem met lui en sleg wees.  Geset en oorgewig beteken glo dat jy net effens meer weeg as wat jou gewig behoort te wees.  Vet sal glo meer mense aanmoedig om iets omtrent die saak te doen.

Bittermin mense raak sommer so van self vet.  Jy gaan slaap nie die een aand maer en die volgende dag dril jy nie.  Onaktiwiteit en te veel eet speel ‘n baie beslisde rol.  Kitskos en slegwees beslis ook.  Ek is byvoorbeeld nou die dag op ‘n kamp saam met ‘n vrou met ‘n stadige metabolisme.  Ons was verskeie kere oor haar stadige metabolisme ingelig.  Tog gaan skep sy vir haar 3 keer kos in, gevolg met twee bakkies nagereg en ‘n berg vrugte.  Dit is vraatsigheid en het net mooi niks te doen met ‘n stadige metabolisme nie.

Net ‘n paar los gedagtes oor die gewigtige saak.  Hoe voel jy oor mense wat oorgewig is?  Is dit maar soos elkeen gemaklik voel of iets wat as ‘n pandemie aangepak moet word?  Wat moet met vet mense gedoen word?  Hoe jy daarvan om vet te wees?

En vir die rekord, ek is ten volle bewus van die feit dat ek vet is.  En nee, ek is sleg en het geen verskoning daarvoor nie.  😉

Breinvasbrand:  Watter ensieme breek vette af?

Breinlosbrand:  Charms was reg met Odette Schoeman.





Lunch Week 5

4 08 2010

Glo dit of nie, maar al die woorde is erkende Afrikaanse woorde en afkortings. 

Toorwoorde

  1. Wat is ‘n “Primo”?
  2. Wat beteken die afkorting Des.?
  3. Wat beteken die uitdrukking “Jakkals trou met wolf se vrou”?
  4. Gee ‘n sinoniem vir “Ryk” wat 6 letters bevat.
  5. Rangskik “RUIGTY” in ‘n sinvolle word. 




Koerantbrokkies

4 08 2010

Die verleendheid vir die land, polisie en die regering is vir 15 jaar tronk toe gestuur.  Jackie Selebi is tans op R20 000 borg uit en het twee weke om te appélleer.  Selebi sê hy het dit van die begin af verwag.  Sy broer het heelwat minder takt.   “Regter Meyer Joffe is ’n “apartheidsregter” wat sy broer in ’n “apartheidshof” skuldig bevind het volgens ’n Romeins-Hollandse regstelsel van die “imperialistiese Weste” wat “nie meer in dié land toegelaat moes gewees het nie”.

Nigel is nie ‘n goeie plek op die oomblik nie.  Lorna Nienaber (49), ’n onderwyseres is doodgeskiet nadat sy die agterdeur oopgemaak het om ondersoek in te stel na geluide wat sy gehoor het.  Haar dogter, Win-Ellen Nienaber (23), ook ‘n onnie, het gaan kyk wat gebeur het en is 3 keer geskiet.  Sy is in die maag, skouer en been gewond.  Die Nienabers se ander dogters is almal by die Noord-Wes universiteit.  Beide ma en dogter is werksaam in Hoërskool John Vorster.

Twee seuns van die Hoërskool Staatspresident C.R. Swart in Pretoria is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen.  Die adjunkhoof het die polisie ontbied nadat hulle ‘n 9 mm in ‘n drein ontdek het.  Daar was blykbaar ‘n bakleiery tussen die leerlinge wat ook sommige leerlinge van Hoërskool Voortrekkerhoogte betrek het.  Die seun het die pistool skool toe gebring om dit uit te sorteer.  Daar was geen patrone in die pistool gewees nie.

Bronwyn Buys (1) het met ‘n ketel in haar kleuterskool in Eersterus gebrand.  Sy het tweedegraadse brandwonde aan haar gesig en derdegraadse brandwonde aan haar bors en linkerarm opgedoen.  Sy is al twee weke lank in die Kalafong-hospitaal.  Volgens die onderwyseres het die kettel op haar omgeval nadat sy die koord getrek het.  Bronwyn se ma is verlede jaar vermoor.

Christof Botha (25), ’n elektriese ingenieur, is op die R526 deur die polisie van die pad afgery. Hulle was glo oppad na ‘n huisbraak.  Hulle het langs om gestop, hom vertel dat hulle die ambulans ontbied het, maar nie kan vertoef nie.  ‘n Paar minute later het nog ‘n polisie vangwa by hom gestop en hom vertel om self die ambulans te bel omdat dit vinniger sal kom.  Botha was 04:45 oppad werk toe in ‘n werksbakkie toe die voorval plaasgevind het.  Volgens hom het hy op die gruisstrook gery om vir hulle pad te maak en hulle het hom met opset raak gery.  Die metropolisie het hom R100 gevra om die saak verder te voer.  Die polisie reken hy het te vinnig gery en toe beheer oor die voertuig verloor.  Hmmm.

Verjaarsdae:  Sjampanje is in 1639 deur Don Perigon uitgevind.  Greenwich voet tonnel onder die Teems is in 1902 geopen.

Louis Vuitton; Louis Armstrong; Gerrie Coetzee; Billy Bob Thorton; Mary Decker; Barack Obama en Robin Peterson.