Middelklas Seën

2 08 2010

Baie is al gesê oor die kruis van die middelklas, onder andere dat dit banaal en vervelig is.  Dit mag dalk die ruggraat van die ekonomie wees, maar dit is ook die groep waaroor daar nie juis huistoe geskryf kan word nie.  Hulle het elke aand iets op die tafel, kan naweke braai met vleis, wors en ‘n drinkdingetjie, maar skraap ook maar na die einde van die maand na hulle sente.  Van hulle gaan hou selfs vakansie in die buiteland, so 1 of twee keer in ‘n lewe.

Daar word genoeg oor armoede gesê en ek gaan dit nie herhaal nie.  Daar is net mooi niks romanties aan hongerly en verkluim nie.  Almal streef na die goue pot aan die einde van die reënboog.  Die een wat jou van al jou probleme gaan verlos en ewige geluk gaan koop.  Tog werk dit bitter selde so uit.

Feit is dat geld nie aan bome groei nie.  Iemand moet onsettend hard werk om in die geld te kan rol.  Dit laat maar baie min ruimte om die weelde te geniet.  Behalwe nou as jy met ‘n ring of bloed aan die geldboom verbind is.  Jy kan dan ‘n moedige poging aanwend om te kyk of jy alles vinniger kan uitgee as wat dit ingebring te word.  Niemand kan van jou verwag om dit alleen te doen nie.  Jy kan sommer vir jou ‘n katelknapie / meisie aanskaf.  Hoekom moet jy die bed warm hou as Mnr / Mev Geld dit in elk geval nie gaan gebruik nie.

Daar moet iemand wees wie se naam jy op ‘n testament kan invul.  Iemand wat hopelik verder aan die skat kan bou of net op die rente kan teer.  Al moet jy ander huur om hulle voltyds groot te maak en jy nie eers seker is wie is jou eie bloed en wie die vriend is nie.  Jy kan hulle darem soveel geld gee as wat hulle begeer.  Wat maak dit saak as hulle met dwelms eksperimenteer of selfs verslaaf raak.  Jy kan enige rehabilitasie kliniek onder die son bekostig.

Die ergste van alles is dat plesier se aantrekkingskrag juis daarin lê dat dit skaars is.  Iets wat jy hard moet werk om te kry en elke oomblik moet geniet omdat die geleendheid nooit weer gaan voorkom nie.  As dit altyd daar is, raak dit leeg.  Doelloos. 

Te veel geld en te min verantwoordelikheid is ‘n resep vir ongelukkigheid.  Dit is dalk die rede hoekom die middelklas oor die algemeen gelukkiger is.  Daar is altyd ‘n doel om na te streef, iets om te bereik.

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Wat was Richard Gere se karakter in Pretty Woman se naam?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Rooi Vellies.





Lunch Week 5

2 08 2010

Algemene Kennis

  1. Hoekom wil Elvis nie ‘n tier wees nie?
  2. In watter film was Supercalifragilisticexpialidocious gesing?
  3. Wat is die hoofstad van Australië?
  4. Wat is die huishoudelike naam van NaHCO3?
  5. Wie is die  aanbieder van Survivor?




Koerantbrokkies

2 08 2010

Vrydag was die lykies van 2 meisies, onderskeidelik 8 maande en 4 jaar oud in hulle huis in Theresapark in Pretoria gekry.  Hulle ma, die niggie van Sydney Mufamadi, was skoonveld.  Haar lyk is gister in ‘n veld naby GaRankuwa gekry.  Haar onderlyf was kaal en sy het steekwonde aan haar nek en oor getoon.  Haar man is in Januarie vanjaar in ‘n motorongeluk dood.

Agri-SA het uit die nasionale beraad vir kwesbare werkers geloop.  Hulle voel dat hulle resolusies nie op nasionale vlak vervat is nie en volgens Johannes Möller, president van Agri SA:  “Dit is duidelik dat die uitkomste van die beraad belyn is met vooraf opgestelde politieke standpunte wat geensins verband hou met die werklikhede op plaasvlak nie.”  Hulle wil wel nog buite die beraad met die regering praat.  Die regering het hulle ‘n toffie gegooi en reken dat dit nie nodig is om buite die beraad te praat nie.  Volgens Pieter Mulder:  “Dit kan op kort termyn politieke voordeel vir die ANC inhou, maar dit is vernietigend op lang termyn vir die ontwikkeling van die platteland en vir verhouding op plase.”  Kan iemand diktatorskap spel?

18 ou mense is dood nadat ‘n brand in ‘n tehuis in Nigel gisteraand ontstaan het.  Die brand het kort na 9 ontstaan en die polisie weet nog nie wat die oorsaak was nie.  84 ander mense is gered, waarvan ongeveer 40% brandwonde opgedoen het en in die Charlotte Maxeke-hospitaal behandel is.  Wat is dit deesdae met huise en geboue wat so afbrand?

Giovanni Peripoli (74) van Virginia is in sy agterplaas 3 keer met ‘n splinternuwe slagmes in sy agterplaas gesteek.  Hy het ongeveer 10h30 van die dorp afgekom toe hy aangeval is.  Die verpakking van die mes is op die toneel gevind.  Sy vrou het gehoor hoe roep hy haar en het hom in ‘n plas bloed gekry.  Die aanvaller het die mes met elke steek gedraai en dit het gelyk asof hy van kant tot kant oopgesny was.  Hy is op die toneel gestabiliseer, maar is 12h20 in die Oppenheimer-hospitaal in Welkom dood.  Peripoli laat 4 kinders en twee kleinkinders agter.

Die o/16 stut van Hoërskool Stellenberg in Bellville is vir die res van sy lewe verban om rugby te speel. Dit is nadat hy ‘n skeidsregter in die ribbes geslaan het 10 minute voor die eindfluitjie.  Hy moet ook vir rehabilitasie gaan.

Blackberry-boodskapdiens gaan later vanjaar in Saoedi-Arabië verbied word.   Die Verenige Arabiese Emirate word dit verban oor die moontlike risiko’s vir vir nasionale veiligheid, asook “maatskaplike waardes”.  Sluit dit HTC in?  Hoe gaan die mense oorleef?

82 seekoeie is in Uganda dood weens ‘n uitbraak van Antraks.  En dit is net binne 45 dae.  Tot dusver is geen mense beinvloed nie en toerisme is nog nie geraak nie.

Verjaarsdae:  Tower Subway die heeleerste ondergrondse trein het in 1870 in London geopen.  Hitler het in 1934 Führer geword. Die Marihuana Belasting Wet is in 1937 in Amerika afgekondig wat Dagga onwettig gemaak het.  In 1939 het Einstein en Szilard vir Franklin Roosevelt geskryf om hom te oortuig om die die Manhattan projek te begin om ‘n kernwapen te ontwikkel.

John Tyndall; Karl Otto Koch en Mary-Louise Parker.